Nuuskierig na die besonderhede van die persoon wat Afrinetwerk bedryf?

Ek is in 1946 ( miskien al oud, maar nog nie koud nie!) in Den Haag, Nederland gebore en het aan die Universiteit van Leiden geskiedenis gestudeer. ‘n Baie groot deel van my lewe was ek in die onderwys: Hoër skole en universiteite soos die Universiteit van Wes-Kaapland en Stellenbosch. By eersgenoemde universiteit het ek geskiedenis gedoseer en by die laaste een het ek by die afdeling joernalistiek gewerk. So tussendoor was ek die redakteur van ‘n bylae van Die Burger – WêreldBurger – en dis hoe ek in aanraking gekom het met die joernalistiek.
 
Toe ek in 1973 in Leiden ‘n Suid-Afrikaanse student  - Leopold Scholtz - ontmoet, het hy my so van my voete afgeslaan dat ons binne ‘n jaar getroud was en na Suid-Afrika verkas het. Uiteindelik het ons in 1979 definitief in Suid-Afrika gekom, waar my man by Naspers gaan werk het. Ons is na Kaapstad verplaas en daar het ons tot 2007 gebly toe my man na Brussel verplaas is om daar ‘n nuwe kantoor te open vir Media24.

Ek is net soos hy lief vir skryf en ons het saam al baie artikels geskryf vir wetenskaplike tydskrifte. My my groot passie is klasgee en ek was so gelukkig om dit meer as dertig jaar lank te kon doen.  

Maar natuurlik maak ek ook tyd vry vir ander sake: ek was ‘n klompie jare verbonde aan die Nederlandse Skool in Kaapstad en as ek die tyd kan vind ry ek fiets, stap ek, maak ek tuin, en teken en skilder ek.

Ingrid Scholtz