’n Bietjie geskiedenis
In die apartheidstyd – tussen 1948 en 1994 – toe die ou Nasionale Party die mag gehad het, het dit meestal baie goed gegaan met Afrikaans en wit Afrikaners. Afrikaans was in die staatsdiens in die praktyk die oorheersende taal, en saam met Engels was Afrikaans een van die twee amptelike tale van die land. In baie opsigte het die staat Afrikaans doeltreffend teen Engels beskerm. Afrikaanse skole en universiteite was ’n vanselfprekende saak.
Afrikaans is – saam met Engels – in die parlement en die hof gebruik. In die daaglikse lewe is Afrikaans bevorder deurdat ouers dit as iets vanselfprekends gesien om hul kinders Afrikaans te leer.
Daar was natuurlik baie bruin Afrikaanssprekende mense wat Afrikaans as gevolg van die voortdurende afwysing en diskriminasie teen hulle deur die regering en wit Afrikaners, verwerp en Engels verkies het. Dit is dus belangrik om te stel dat “Afrikaans” en “wit” gedurende hierdie jare sinoniem was.
Op ekonomiese gebied kon Afrikaans Engels egter nooit as handelstaal verdring nie. Tog het Afrikaners daarin geslaag om groot ondernemings – die versekeringsreus Sanlam, banke soos Volkskas (later Absa) en die uitgewery Nasionale Pers (later Naspers) – te stig. Daardeur het hulle Afrikaans as handelstaal bevorder. Die sosiaal-ekonomiese vordering van die Afrikaners het ook die geweldige armoedeprobleem van voor die Tweede Wêreldoorlog uitgewis. Hierdie langdurige armoede was ’n direkte gevolg van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902). Tydens hierdie oorlog het die Engelse leër die taktiek van verskroeide aarde toegepas en duisende mense – meestal vroue en kinders – in konsentrasiekampe toegesluit. Hierdie oorlog het by die wit Afrikaners ’n oorlewingstrauma veroorsaak.
Die amptelike beskerming van Afrikaans het natuurlik ook nadele gehad. Dit het Afrikaners afgeleer om op hul eie bene te staan en onafhanklik te dink. Hulle het afhanklik geword van die gunste en gawes van die regering wat daarvoor gesorg het dat daar baantjies vir boeties was. Ook het hulle het hul eie kultuur as iets vanselfsprekend begin beskou en dit nie genoeg gewaardeer nie.
En baie belangrik: die beleid van die regering het daarvoor gesorg dat Suid-afrika internasionaal geïsoleer is. Veral in Nederland was die gevoel teen apartheid sterk en was die oproep vir ’n kulturele boikot kragtig.
Die huidige situasie
Sedert 1994 het alles drasties verander.
Die nuwe regering staan op sy beste lou of onverskillig en op sy slegste vyandig teenoor Afrikaans. Afrikaans is besig om as amptelike taal te verdwyn; dit word nog nouliks in die parlement, in die staatsdiens of in die hof gebesig. By tradisioneel Afrikaanse universiteite soos die Universiteit van Stellenbosch is moet daar kliphard geveg word om Afrikaans as onderrig- en wetenskapstaal te handhaaf. Die getal Afrikaanse skole en onderwysers hou aan om te daal. In die handelswêreld is Engels die voertaal. En veral: steeds meer Afrikaanssprekende ouers meen dat dit in die belang van hul kinders se toekoms is om hulle na Engels skole te stuur. En daardeur kom die taaloordrag na die volgende geslag in gevaar.
Op een gebied bloei Afrikaans egter nog: die musiek en die kunste. Afrikaanse popliedjies is gewild by jongmense. Afrikaanstalige popgroepe teel aan soos konyne. Afrikaanse kultuurfeeste soos die Woordfees in Stellenbosch, die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en Afrikaanse rockkonserte word gretig deur jong en oud en mense van elke kleur besoek.
Dit is ’n feit dat Afrikaanssprekendes sedert 1994 ’n identiteitskrisis beleef. Jare lank het hulle daarvan uitgegaan dat hulle net kon oorleef as hulle die politieke mag besit. Maar daardie politieke sambreel het verdwyn en nou moet hulle oorleef in ’n betreklik vyandige omgewing. En dit het nie alleen kulturele nie, maar ook politieke gevolge – Afrikaners word eintlik nouliks in die parlement verteenwoordig. Ekonomies word die gevolge ook sigbaar: die armoede onder blankes neem veral in en rondom Johannesburg skrikbarend toe (sien die skakel: “Het u geweet?” vir meer besonderhede).
Miskien nog die belangrikste is dat die onthullings van die Waarheids-en-Versoeningskommissie by baie Afrikaners óf gevoelens van wanhoop oor hul eie verlede óf gevoelens van verraad teenoor die vorige regering veroorsaak het. Dit het die emigrasie van tienduisende Afrikaners na die buiteland tot gevolg gehad en ’n ”emigrasie na binne” van duisende meer. Biae Afrikaners het begin twyfel aan die sin van hul eie bestaan en oorlewing.
Eintlik is die bruin Afrikaansprekende mense in baie opsigte nog meer die slagoffer van die huidige situasie. Nie wit genoeg gedurende die apartheidsjare nie en teenswoordig nie swart genoeg nie. ’n Geskiedenis van voortdurende diskriminasie. Dit is dus nie verwonderlik nie dat die aanvanklike toenadering tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes direk na 1994 slegs van korte duur was. Bruinmense met ’n hoër opleiding verengels toenemend (volgens resente navorsing met 7,1% tussen 1971 en 1996) en hierdie proses is besig om te versnel. Ook bruin intellektuele wat Afrikaans simpatiek gesin is, voel nie baie vir ’n stryd vir Afrikaans nie. Waarom sou hulle – so meen hulle – ’n agterhoedegeveg lewer vir die ou Afrikanernasionalisme wat altyd al ’n middel was vir die onderdrukking van die bruin bevolkingsgroep?
In die praktyk is dit egter nie alleen wit Afrikaners wat die slagoffer word van regstellende aksie ten gunste van die swart meerderheid nie, maar juis ook die bruin Afrikaanssprekendes. Hulle word eintlik dubbel getref. Die manier waarop hierdie beleid toegepas word, veroorsaak by albei groepe ’n groeiende werkloosheid, armoede en vervreemding, maar by die bruin groep het die verbetering van hul ekonomiese posisie baie later gekom as by die wittes – eers aan die einde van die vorige eeu – en hierdie vooruitgang word nou reeds uitgewis. Daarby kom ook nog dat die onderrig aan die tradisioneel bruin skole altyd al op ’n laer standaard was as dié op wit skole. In die praktyk het ’n bruin Afrikaanssprekende seun of dogter wat van die hoër skool kom en sukkel met ’n kennis- en taalagterstand en universiteite wat verengels en die voorkeur gee aan swart studente dus nog minder kans op ’n hoër opleiding as sy wit eweknie (sien die skakel: Het u geweet ? vir meer syfers).
Die gevolgtrekking is dus dat Afrikaanssprekendes van elke agtergrond of kleur leierloos, redeloos en radeloos is en daar gesoek moet word na ’n strategie om in hierdie moeilike politieke klimaat op ’n sinvolle manier te kan oorleef.
Globalisering skep geleenthede
’n Aspek van die nuwe omgewing waarin Afrikaans vandag moet funksioneer wat nog nie bespreek is nie, is globalisering. By globalisering dink baie mense veral aan die ekonomie, maar kultuur – in die breedste sin van die woord – is net soveel deel daarvan. Die “sagte imperialisme” van Amerika is besig om die wêreld te verower en vir die kleiner tale en kulture (en soms selfs die grotes) beteken dit dat die gevaar van uitsterwing groter wordt.
Maar hierdie onstuitbare proses bied ook moontlikhede en Afrikaanssprekendes kan en moet daarvan gebruik maak.
Dwarsoor die wêreld, maar veral in Europa, het mense sedert 1990 fundamenteel anders begin dink oor demokrasie en minderhede. Die eerste twee fases – die regte vna die invidivu teenoor die staat (vryheid van spraak, godsdiens, reg op ’n behoorlike regsproses, ens.) en sosiaal-ekonomiese regte (soos reg op werk en huisvesting) is aangevul deur ’n derde fase, naamlik minderheids- en taalregte. Reeds in 1992 het die Algemene Vergadering van die VN ’n resolusie met die naam “Verklaring van die Regte van Mense wat aan ’n Nasionale of Etniese of Religieuse Minderheid behoort” aanvaar. Ook in 1992 het die lidlande van die Raad van Europa die “ Europese Handves van Streeks- en Minderheidstale” aanvaar. Hierdie Handves het in 1998 in dié gebied van krag geword. In 1995 het die lidlande van die Raad van Europa tewens die “ Raamwerk-Konvensie vir die Beskerming van Nasionale Minderhede” aanvaar.
Die laaste jare bestaan daar ook in die praktyk baie meer begrip en steun in Europa vir minderheids- en taalregte. Dit word onder meer sigbaar deur die verleen van grotere outonomie op kulturele en ekonomiese gebied aan verskeie minderheidsgroepe binne die bestaande Europese state. In Nederland word byvoorbeeld Fries en Limburgs as onafhanklike tale erken en België het al dekandes lank ’n ingewikkelde federale struktuur.
Hierdie onlangse Europese ontwikkelings vergroot die kans dat die posisie van Afrikaans ook meer aandag krij. Uiteraard moet Afrikaanstalige mense in die eerste plek in Suid-Afrika self die aandag op hul posisie vestig. Maar daarby moet die voordele van internasionale steun nie onderskat word nie.
Die slagspreuk van Afrinetwerk is menseregte, ekonomiese opheffing en inklusiviteit. Afrinetwerk is ’n inklusiewe, nie-rassige inisiatief wat al die sprekers van Afrikaans wil bevoordeel. Daarmee dien Afrinetwerk die hele Suid-Afrikaanse samelewing.
Watter aksies onderneem Afrinetwerk?
1. Afrinetwerk hou op uitnodiging lesings vir instellings en groepe om hulle in te lig oor die posisie en probleme van Afrikaans en Afrikaanssprekendes in die nuwe Suid-Afrika.
2. Afrinetwerk probeer deur middel van gereelde kontak met politici, sakelui, kunstenaars, joernaliste en almal wat belangrik is in Nederland en Vlaandere simpatie en steun te kry vir die posisie van Afrikaans en Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika.
3. Afrinetwerk wil finansiële steun kry vir ontwikkelingsprojekte soos geletterheidsprogramme vir Afrikaanssprekendes, maar ook vir onderrig in die breedste sin van die woord. Dit kan projekte wees wat vanuit Nederland of Vlaandere gefinansier word, maar dit is ook moontlik om Afrikaanssprekendes na Nederland en Vlaandere te stuur vir verdere opleiding.
4. Afrinetwerk bevorder kulturele kontakte tussen Nederland en Vlaandere aan die een kant en Suid-Afrika aan die ander kant deur wedersydse besoeke van kunstenaars, akademici en verteenwoordigers van organisaties.
5. Afrinetwerk onderhou kontakte met Afrikaanssprekendes in die buiteland om hulle daarvan te oortuig dat hulle óf – tydelik of permanent – na Suid-Afrika moet terugkeer om hul ervaring en energie daar aan te wend vir ontwikkelingsprojekte vir Afrikaanssprekendes óf in die buiteland die sosiaal-ekonomiese belange van Afrikaansssprekenddes te bevorder.