Archive for August, 2008

Dis tyd om die taalstryd te internasionaliseer - 16 Mei 2008

die Burger, 16 Mei 2008, Leopold Scholtz

ELKE Sondagmiddag op twaalfuur is daar ’n program op die Nederlandse televisie met die naam Buitenhof(kurs). Die formaat is dat vier deskundiges op ’n bepaalde politieke terrein uitgenooi word, wat oor ’n oorkoepelende tema gedagtes wissel en soms ook skerp debatteer.
Verlede Sondag was die onderwerp die desintegrasie van België en die moontlike gevolge daarvan vir die betrekkinge tussen Nederland en Vlaandere. Die deelnemers was die vermaarde Vlaamse filosoof Etienne Vermeersch; ’n bekende Nederlands-Vlaamse joernalis (met verskeie boeke oor Nederland en België op sy kerfstok), Derk-Jan Eppink; ’n sosialistiese Vlaamse parlementslid, Maya Detiège; en ’n Christen-Demokratiese Nederlandse parlementslid, Jan Schinkelshoek.
Saam het hulle tot gevolgtrekkings gekom wat my eie waarnemings sedert my aankoms in Brussel amper vier maande gelede bevestig. Dit is dat België dreig om uitmekaar te val. En hierin is ’n geleentheid vir Afrikaans.
In sy besonderhede is die situasie ongelooflik ingewikkeld en haas onmoontlik om aan ’n buitestaander te verduidelik. In sy essensie is dit egter absurd eenvoudig: Die Nederlandssprekende Vlaminge en die Franssprekende Wale, die twee belangrikste bevolkingsgroepe in die land, kry steeds meer ’n hekel aan mekaar en vind dit steeds moeiliker om in een staatsverband saam te leef.
Een van die interessante byverskynsels van die Koue Oorlog was dat hy die natuurlike gang van die geskiedenis as ’t ware bevries het. Die USSR se diktatoriale oorheersing van Oos-Europa en die gemeenskaplike vrees vir daardie supermoondheid in die Weste het die normale stroomversnellings, soos wat normaalweg in die geskiedenis voorkom, verhinder.
Toe die Berlynse Muur val, was die spanninge egter reeds groot genoeg om ’n reeks tektoniese aardverskuiwings op die internasionale politieke toneel teweeg te bring. Dit het die desintegrasie van die USSR, Tsjeggo-Slowakye en Joego-Slawië beteken, asook die vreedsame uitbreiding van die Europese Unie en Navo na Sentraal- en Oos-Europa.
Die onlangse afskeiding van Kosovo van Serwië was die laaste stap in dié proses.
Die onderliggende spannings was die ergste in Sentraal- en Oos-Europa, en dis dan ook daar dat die grootste aardbewings gevoel is. Maar nou begin die politieke aardkors ook in Wes-Europa verskuif, en België kan die logiese eerste slagoffer wees.
Die land is nou reeds maande lank in ’n politieke krisis vasgevang, waarvan die essensie ’n klipharde magstryd tussen die Vlaminge en Wale is. ’n Kristalbal het ek weliswaar nie, maar dis tog interessant dat ’n konsensus – altans aan Vlaamse kant – aan die vorm is dat België ten dode opgeskrewe is en dat Vlaandere binne afsienbare tyd onafhanklik sal word.
Die een groot probleem is natuurlik Brussel, ’n grotendeels Franstalige stad wat ’n enklave in Vlaamse grondgebied vorm.
Die deelnemers aan die program was dit eens dat dit nie noodwendig beteken dat Vlaandere en Nederland sal saamsmelt nie. Daarvoor is die verskille ná 350 jaar se staatkundige skeiding waarskynlik te groot.
Die gemeenskaplike taal is wel ’n band, maar dit geld ook vir die Britte en Amerikaners of die Duitsers en Oostenrykers, en húlle bly aparte state. Bowendien het die Nederlanders altyd enigsins neergekyk op hul suiderbure, wat beteken dat die Vlaminge nie graag hul selfstandigheid wil opgee om ’n junior vennoot in ’n groter Nederland te word nie.
Wat wel verwag kan word, is dat Vlaandere en Nederland op politieke, ekonomiese en kulturele terrein veel nouer sal saamwerk, ook wat betref die verdediging van Nederlands teen die aanslag van Engels in EU- en internasionale verband.
’n Ontwikkeling wat hiermee saamgelees moet word, is die groeiende belangstelling in Suid-Afrika en Afrikaans. Nie soseer by die algemene bevolking nie (vir die gewone mense is Suid-Afrika weinig meer as ’n eksotiese vakansiebestemming), maar veral by die politici en die intellektuele elite.
En dit geld nie net vir die Vlaminge, by wie ’n mens weens hul eie taalstryd groter begrip vir die Afrikaanse saak kan verwag, nie. Ook in Nederland is ’n kentering – nie dramaties nie, maar tog – waar te neem.
Vir die eerste keer in die geskiedenis bemoei die Nederlandse en Vlaamse regering hulle met die agteruitgang van Afrikaans in Suid-Afrika. In September gaan die twee saam ’n konferensie oor Afrikaans in Pretoria aanbied.
Dit is moeilik om die belang van dié ommeswaai te oorbeklemtoon. Dit beteken dat Afrikaans, noudat hy bevry is van die meulsteen van apartheid, internasionaal op ’n positiewe wyse raakgesien word.
Hierin skuil ’n geweldige kans vir Afrikaans, mits die taal homself inklusief en nie-rassig kan bemark. Die tyd het aangebreek om die taalstryd te internasionaliseer.
Gaan ons die kans laat verbygaan?
Die skrywer is Media24 se verteenwoordiger in Brussel.

Plaasmoorde veroordeel - 19 Mei 2008

Beeld, 19 Mei 2008, Leopold Scholtz

LEOPOLD SCHOLTZ
BRUSSEL. – ’n Invloedryke internasionale organisasie wat minderheidsregte wêreldwyd bevorder, het op sy pas afgelope kongres in Brussel ’n resolusie aanvaar waarin plaasmoorde in Suid-Afrika en diskriminasie teen Afrikaans veroordeel word.
Die besluit is geneem deur die Unrepresented Nations and People’s Organisation (Unpo), wat in 1991 in Den Haag gestig is. Altesame 71 organisasies wat hulle vir minderheidsregte bevorder – van die Ogoni’s in Nigerië, die Oeighoere en Tibettane in China tot die Rehoboth-Basters in Namibië – is by Unpo geaffilieer. Die kongres is geborg deur die groepering liberale partye in die Europese Parlement, waarvan byvoorbeeld die Duitse Vrye Demokratiese Party (FDP), die Britse Liberaal-Demokrate en die Nederlandse Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD) deel vorm.
Unpo is, blykens ’n inligtingstuk wat op die kongres uitgedeel is, streng geweldloos.
Die besluit van die kongres oor plaasmoorde en die posisie van Afrikaans is eergister geneem op voorstel van dr. Pieter Mulder, leier van die VF+ in Suid-Afrika, wie se party terselfdertyd amptelik as lid toegelaat is.
Mulder het in ’n onderhoud gesê die leiding van Unpo het die VF+ se aansoek eers teruggehou sodat die Afrika-afgevaardigdes geraadpleeg kon word, maar dié het geen beswaar gehad nie. Wat die deurslag gegee het, was sy persoonlike kontak met die Afrika-afvaardigings, maar ook die negatiewe rol wat press. Thabo Mbeki en Robert Mugabe in Suider-Afrika speel.
“Almal was op die hoogte van wat gebeur, en dit het baie simpatie vir ons saak gewek, by swart en wit. Ek was effens bekommerd oor die Europese amptenare van Unpo, maar hulle was vol begrip. Hulle begin ons nou regtig raaksien.”
Wat die afgevaardigings uit Afrika betref, het hy ’n nuuskierigheid en bewondering vir die Afrikaners aangetref.
Mulder het gesê uit die toesprake van die afgevaardigdes was dit duidelik dat die Afrikaanssprekende minderheid se situasie nie uniek is nie. “Baie van die sprekers het dieselfde klagtes as ons. Hulle wil meer beheer oor hul eie situasie hê.”
Volgens Mulder moet Afrikaanssprekendes nie naïef wees om te dink hulle kan hul posisie sonder enige hulp verbeter nie. “Ons sal internasionale hulp moet kry.”
Die eenparige aanvaarding van sy mosie wys dat daar wêreldwyd ’n kentering oor Suid-Afrika en minderheidsregte aan die gang is, het hy gesê.
Mulder was vergesel van dr. Frik van Heerden, VF+-lid van die Nasionale Raad van Provinsies.