9 Mei 2009
Marlene Malan
‘n Groep vriende van Afrikaans in België wil kyk watter bydrae “hulle kunnen leveren om van het Afrikaans ‘n sterke taal te maken”, skryf Marlene Malan.
Vlaandere het ’n veldtog vir Afrikaans begin.
Dié taal, sê die Vlaminge, is belangrik omdat dit deel is van ’n internasionale gemeenskap waarin die regte van minderheidsgroepe gerespekteer word, dit die enigste inheemse Suid-Afrikaanse taal met ’n Europese verbintenis is en boonop ’n belangrike toegang is vir Europa tot Afrika.
Dis waarom ’n groep Vlaamse taalkundiges ’n “rondetafelconferentie” belê het “rond de toekoms van het Afrikaans en de bijdrage die wij vanuit Vlaandere kunnen leveren om van het Afrikaans een sterke taal te make”, sê mnr. Ludo Helsen, vise-goewerneur van die provinsie van Antwerpen en afgevaardigde vir kultuur, tegnologie en internasionale samewerking, in ’n uitnodigingsbrief aan genooides. Die konferensie vind op 19 Mei in Antwerpen plaas.
Volgens hom gaan “Afrikaans verdwyn as daar nie ingegryp word nie.
“Die vraag is: Wat kan ons vir Afrikaans doen om ons ondersteuning vir Afrikaans te wys? Vanuit Vlaandere moet ons ’n sterk teken gee dat hier ’n hart vir Afrikaans klop.”
Dit val ook saam met die amptelike opening die afgelope week van Afrinetwerk se buitelandse kantoor vir Afrikaans in Brussel, België, onder leiding van dr. Ingrid Scholtz.
“Afrikaans is vir die Vlaminge belangrik omdat hulle self ’n emansipasiestryd moes voer teen die oorheersing deur die Franse taal wat die elite in België praat,” sê sy.
“Die Vlaminge is deur die Franstalige elite as agterlike boere gesien. Hulle kan dus met Afrikaans identifiseer.
“Tans staan Afrikaans weer onder druk en die Vlaminge kan die verdediging van taalregte verstaan. Wel as ’n stryd vir taalregte – ’n inklusiewe stryd wat nie op ras gegrond is nie.”
By die opening van die kantoor het oud-pres. F.W. de Klerk gesê Engels is reeds die de facto amptelike taal van Suid-Afrika.
“Ons tale het nie gelykheid van aansien nie. Min of niks is tot dusver gedoen om ons inheemse tale te ontwikkel nie. Dis jammer dat die burgerlike samelewing in die bres moes tree met ’n inisiatief soos dié. Die staat versaak sy plig oor taal en kultuur.”
Wêreld weet van ‘merkwaardige letterkunde’
Afrikaans het ’n internasionale vastrapplek gekry in ’n tyd waarin Engels dreig om alle kleiner tale te verswelg.
Nie net in Europa nie, maar wêreldwyd, is daar deesdae ’n opvallende belangstelling in Afrikaans, sê mev. Rina Loader, dosent in Afrikaans aan die Universiteit van Wenen.
“Dis al deel van die Amerikaanse universitêre stelsel, en selfs in die Ooste, waar ’n Afrikaans-Japannese en Afrikaans-Chinese woordeboek al die lig gesien het.
“En dit alles terwyl die taal hoofsaaklik in die heel suidelikste deel van Afrika gesetel is.”
Sy sê Afrikaans is besig om ’n “internasionale vastrapplek te kry in ’n tyd waarin Engels dreig om alle kleiner tale te oorspoel”.
Volgens haar is daar goeie en interessante redes vir dié entoesiasme.
“Afrikaans is uniek omdat dit die jongste Germaanse taal ter wêreld is. Eers onlangs, in 1925, het Afrikaans amptelike status gekry.
“Vir wetenskaplikes en studente bied dié ongehoord vinnige ontstaansgeskiedenis en gepaardgaande taalkundige verskynsels dus ’n uiters interessante studieterrein ten opsigte van vergelykende taal-, letterkundige en kulturele studies.
“Dié studieveld is selfs nóg interessanter as ’n mens in ag neem dat verskeie variante onder Afrikaanssprekendes gepraat word bo en behalwe dit wat as Standaardafrikaans bekend staan – ondanks die jonkheid van die taal.”
Loader sê die wêreld het kennis geneem van die “merkwaardige letterkunde wat Afrikaans in sy kort bestaan opgebou het. Dis indrukwekkend.
“Afrikaanse boeke praat in elke moontlike genre saam op dieselfde podiums as gesoute en eeue oue tale soos Engels, Duits, Nederlands en Russies.
“Die Afrikaanse letterkundige literatuur is ’n fassinerende bewys van hoe letterkunde in staat is om ’n lewende geskiedenis daar te stel. Dit verskaf kennis en insig in die geskiedenis van die afgelope 300 jaar – eers hoofsaaklik vanuit ’n wit perspektief, maar in die laaste paar dekades word dit aangevul met die ervarings van swart Afrikaanse skrywers.”
Volgens Loader open die boekstawing van mondelinge oorleweringe nuwe horisonne en begrip vir die verskillende kultu?rele groepe in die land. Daarby open die belangstelling in Afrikaanse letterkunde ’n nuwe veld in die Europese vertalingswese, sê sy.
“Die aandrang om nuwe vertaalde Afrikaanse tekste groei.”
Loader sê ’n oud-student van Afrikaans in Wenen, me. Christina Angerhofer, het onlangs “geskiedenis in die stad gemaak” met die verowering van die Übersetzungspreis der Stadt Wien vir haar vertaling van twee Afrikaanse kortverhale.
“Afrikaans het groter geword as die stuk aarde tussen Kaappunt en die Limpoporivier. Soos rooibostee het dit een van Suid-Afrika se grootste uitvoerprodukte geword. As jy eers aan daardie smaak gewoond is, wil jy nog hê,” sê sy.
* In Europa word Afrikaans onder meer in Antwerpen en Gent (België), Amsterdam (Nederland), Wroclaw en Poznan (Pole), St. Petersburg (Rusland) en in Wenen (Oostenryk) aangebied, met jaarlikse seminaarreekse oor die Afrikaanse taal en letterkunde in Leuven en Hasselt onder leiding van prof. Luc Renders.
In Amerika word Afrikaans gedoseer aan die Universiteit van Kalifornië (UCLA) in Los Angeles, aan die Universiteit van Noord-Carolina in Chapell Hill deur prof. Paul Roberge, en deur dr. Jacques du Plessis aan die skool vir inligtingstudies aan die Universiteit van Wisconsin.
Studente-aksies vir Afrikaans
*Tukkies het verlede week ’n versoekskrif vir die bevordering van Afrikaans op die kampus begin “omdat Afrikaans op die kampus onder druk is”, sê mnr. Awie Erasmus, voorsitter van AfriForum Jeug. Daarin vra hulle die voorsitter van die universiteitsraad om, met die aanstel van ’n nuwe rektor in September, ’n kandidaat te kies wat hom verbind tot die bevordering van Afrikaans en moedertaalonderrig.
* Maties het pas ’n protesaksie vir Afrikaans gehou. “Dis om te keer dat die universiteits- raad ’n besluit oor onderrig in Engels bekragtig wat ooreenstem met die destydse regering se besluit om Afrikaans as onderrigtaal op swart leerlinge af te dwing,” sê mnr. Nico de Wet van die Adam Tas-studentevereniging. “Dit sal beteken dat studente gedwing word om vir die helfte van die tyd in ’n taal onderrig te word wat hulle nie wil hê nie.”