Afrinetwerk kantoor opening. Donderdag 30 April 2009. Flip Buys

‘n Hartlike woord van verwelkoming aan u almal vanaand hier. Dit is vir ons ‘n droom wat waar geword het- ‘n “taalkantoor/ambassade” in België/Vlaandere met die doel om Afrikaans te bevorder! ‘n Besondere woord van dank spesiaal aan meneer en mevrou de Klerk vir hulle teenwoordigheid vanaand hier. Ook mnr. Makatu raad: politiek van die Suid-Afrikaanse ambassade in Brussel, baie welkom.
Maar kom ek begin by die begin. Solidariteit is ‘n Afrikaanse vakbond van Suid-Afrika, met sowat ‘n 100 000 Afrikaanssprekende lede. Dit is nou maar so dat geen klein taalgemeenskap in isolasie kan bestaan nie, en dat stewige bande met sy taalfamilie nodig is vir sy voortbestaan. Net meer as tien jaar terug het baie Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika uiters bekommerd begin word oor die stand van Afrikaans in Suid-Afrika. Die koms van demokrasie het baie voordele gebring vir Suid-Afrika, maar die feit is dat Afrikaans mettertyd onder groot druk begin kom het. Dit was vir my sedert 1994 ‘n droom dat die Afrikaanse gemeenskap weer sterker bande begin smee met ons taalfamilie in België en Nederland, bande wat tydens die apartheidsera groot skade gely het. Na 1994 is daar ongelukkig nie genoeg gedoen om hierdie bande te herstel nie. Daarom het ek sedert die jaar 2000 daarvan begin droom om ‘n skakelkantoor vir Afrikaans in Brussel te open, met die doel om op ‘n beter gestruktureerde wyse taalkontakte te maak.
Daarna het ek talle informele gesprekke met  taalvriende daaroor gevoer, wat almal positief daaroor was maar wat almal agv die praktiese probleem van befondsing tot niks gekom het nie. Ten spyte van baie pogings, kon ons nooit die nodige befondsing bekom nie. Dit was nie voordat ek met Ingrid Scholtz daaroor gesels het dat daar lig in die tonnel begin skyn het nie. Ingrid het goedgunstig ingewillig om teen ‘n minimale honorarium as Skakelpersoon vir ‘n Afrikaanse kantoor op te tree.
Alhoewel dit ‘n inisiatief van Solidariteit is, wil ons in belang van Afrikaans dit nie net aan ons koppel nie, en het ons begin om ander Afrikaanse organisasies te betrek. Afrikaans behoort immers aan al haar sprekers, en ons mening was dat ‘n inklusiewe benadering die regte een was.. Daarom het ons besluit om die kantoor “Afrinetwerk” te noem, sodat dit duidelik is dat ons doel is om ‘n netwerk vir en van alle Afrikaanssprekendes te wees. Ingrid het begin werk op 1 April 2008, maar ons het besluit om die kantoor eers na sy eerste verjaarsdag te open sodat ons eers met sy werksaamhede kon vorder. Dit is ‘n beskeie begin, maar ons is vol vertroue dat die saadjie wat ons vanaand saam plant, nog ‘n groot boom gaan word wat baie taalvrugte gaan oplewer. Daarom is dit vir ons ook ‘n groot voorreg dat mnr FW de Klerk ingewillig het om as beskermheer vir Afrinetwerk op te tree, en ook die kantoor vanaand  amptelik te open.
Behalwe taalsake het ons ook vir Ingrid gevra om vir ons as ‘n skakelpunt met vakbonde soos die ACV en CNV van Nederland te dien. Daarom is dit vir my verblydend dat Karin Debroey van die ACV vanaand hier is. Sy is ‘n goeie vriendin van Solidariteit, wat al verskeie kere by ons besoek afgelê het, en instrumenteel was in Solidariteit se affiliasie met Consawu. Hierdie affiliasie het aan Solidariteit toegang gegee tot die internasionale arbeidsarena. Ek wil vir haar ook van harte bedank vir al die moeite wat sy gedoen het om vir ons afsprake by lid vakbonde van die ACV te reël.
U vra moontlik hoekom ‘n vakbond so passie het vir taal? Gaan dit vir ‘n vakbond nie net oor werkerregte nie? Kom ek antwoord die vraag. As ‘n Christen-demokratiese vakbond, is Solidariteit se siening dat ‘n ware vakbond álle regte en belange van sy lede op die hart moet dra, en taalregte is onlosmaaklik deel daarvan. ‘n Werker is nie net ‘n homo economicus nie, maar ook ‘n kultuurmens, ‘n sosiale mens, en ‘n politieke mens. Vir ons gaan dit oor die werker van die werk, en nie net oor die werk van die werker nie! Die tragiese gebeure in Zimbabwe het vir ons gewys dat werkerregte nie in isolasie bestaan nie, maar afhang van burgerregte. Daarom kan ons nooit ‘n mens reduseer tot ‘n blote ratjie in ‘n ekonomiese wiel nie. Maar die belangrikste is dat daar ‘n direkte verband tussen taalregte van ‘n werknemer en sy ekonomiese kanse in die lewe is. Dit sien ons die afgelope jare in Suid-Afrika, waar die tragiese mislukking van die onderwysstelsel die grootste rede agter die vaardigheidskrisis in die land is; ‘n vaardigheidstekort midde in groot werkloosheid! Die gebrek aan moedertaalonderwys het ‘n groot aandeel in hierdie probleme. Vir ons is dit ten eerste ‘n onderwysbeginsel dat die onderwyser en kinders mekaar goed moet kan verstaan, en nie eerstens ‘n taalbeginsel nie.
Dieselfde met beroepsopleiding. Die SA stelsel van beroepsopleiding het tot sover gefaal, en kon nie die opgeleide mensekrag lewer wat die land so nodig het nie. Soveel van ons land se jongmense kan nie ekonomies bemagtig word nie, omdat hulle net nie die vaardighede het nie. Afrikaanse beroepsopleiding is feitlik onbekombaar. Die staats- en privaatkolleges het totaal verengels, en Solidariteit se twee kolleges is van die enigste plekke waar ‘n Afrikaanse kind nog in sy of haar moedertaal opleiding kan kry. Die behoefte is egter baie groter as dit, en duisende kinders word deur taal uitgesluit van die kans op gehalte opleiding en werksgeleenthede.
Dit is so dat ons land se Grondwet al 11 tale amptelik erken, maar selfs dit kon nie verhoed dat daar ‘n groeiende gaping ontstaan het tussen die mooi grondwetlike teorie het die harde praktyk nie. Afrikaans is in die ekonomie, in die staatsdiens, in opleiding en op bykans alle ander terreine marginaliseer, saam met ander inheemse tale. Daarmee saam is Afrikaans op ons universiteite en in ons skole onder baie groot druk, en het die aantal Afrikaansmediumskole bv afgeneem vanaf 1800 in 1994 tot net 300 in 2002.
Dit was ongelukkig in baie Afrikalande die geval dat die koloniale taal bo inheemse tale verkies is- tot nadeel van die land en sy mense. Soos Kwezi Kwaa Prah dit stel, het kolonialisme dit ten doel gestel om die soewereiniteit van die moedertaal te vervang met die taal van die koloniale moondheid. Daardeur is ‘n elite geskep wat nominaal Afrikane was maar in werklikheid betower en vasgevang was deur die Westerse kultuur . Die regerende groep was taal – en kultuurgewys vervreemd van hulle wortels[i]. Prah voer betekenisvol aan dat die oorheersing van koloniale tale nie net onderwys en opleiding op alle vlakke gestrem het nie, maar ook gelei het tot die mislukking van talle ontwikkelingsprojekte weens ‘n kortsigtige taalbeleid. In Suid-Afrika is hierdie Afro-Saksers- soos Ali Mazrui dit stel- deel van die Mbeki-nalatenskap.. Hierdie elite, volgens Hermann Giliomee verpersoonlik deur president Thabo Mbeki, is amper ‘n eie etniese groep. Hulle het hulself gestroop van hul etnisiteit. Hulle het die Brits-Amerikaanse kultuur aanvaar, praat ‘n Engels deurspek met progressiewe sosiologiese terme, en bevorder die belange van die swart middelklas in die naam van bevryding, bemagtiging en transformasie[ii]. Die hoop bestaan dat die Zuma-administrasie ‘n meer prakties en werkbare benadering gaan toepas, omdat Zuma nooit deel van hierdie elite was nie. Dit sal help dat armoede nie altyd aan “Afrikaprobleme” toegedig word, terwyl dit eintlik net oorkombare taalprobleme is nie.
Die probleem is dat politici se verwaarlosing en selfs aftakeling van inheemse Afrikatale, dit vir hulle bykans onmoontlik maak om die beskerming van Afrikaans te ondersteun- iets wat Engels as die de facto landstaal se posisie verder bevorder. Min mense weet dat die Indiese volksheld Ghandi reeds in 1927 protesteer het teen die vervreemding wat deur Engels veroorsaak is. Hy het verwys na die “vergiftiging, denasionalisering en “mental slavery“ wat Engels in die private en openbare lewe meegebring het”.
Maar daar is ook ander redes vir Afrikaans se agteruitgang, en dit is die beleid van “Transformasie” wat die Mbeki-regering se nasionale projek was. Die probleem is die konsep van “verteenwoordigendheid” wat die Mbeki-administrasie aan transformasie gegee het. Hiervolgens moet alle instellings in die land op alle vlakke die bevolking samestelling proporsioneel weerspieël. Weens die getalleverhoudings in die land, beteken dit dat alle instellings uiteindelik swart oorheerste Engelstalige instellings moet wees. Hiervolgens is Afrikaanse instellings onmoontlik. Daarom het die vorige minister van Onderwys, Kader Asmal, verklaar dat Afrikaanse instellings vir hoër onderwys nie toegelaat kan word nie, omdat dit  nie in pas is met transformasie nie. Solidariteit se siening is dat dit neerkom op ‘n misbruik van mag, en dat dit nie ‘n billike en behoorlike behandeling van ‘n minderheid is nie. Volgens ons bots dit met die positiewe plig wat die internasionale reg op regerings lê om die identiteit en kultuur van minderhede te beskerm. (Sien bv artikel 27 van die Internasionale Handves vir Burgerlike en Politieke Regte van 1966). Demokrasie beteken meer as die mag van die meerderheid, dit beteken meer as om net ‘n taal amptelike status te gee en dan te los, dit verg meer as lippediens aan diversiteit. Daar is genoeg voorbeelde soos in Indië, waar minderheidstale nie net erken word nie, maar waar maatreëls getref word om seker te maak dat dit ook tale van geleenthede, van werksvooruitsigte en vordering in die lewe is.. Die erkenning van veeltaligheid is nie ‘n bedreiging vir eenheid nie, maar eerder ‘n voorwaarde vir die lojaliteit van die minderheid aan die land.
Suid-Afrika het baie uitdagings, en inklusiewe oplossings is nodig sodat almal kan deel voel van die land en sy toekoms en entoesiasties kan help werk vir ‘n beter lewe vir almal. Solidariteit sien ook daarna uit om saam met die nuwe regering te werk aan oplossings nie net vir ons eie probleme nie, maar ook vir oplossings vir arm swartmense. Daarom het ons nie net die kantoor gevestig om steun te werf vir Afrikaans in Europa nie, maar ook om steun te werf vir opheffingsprojekte wat ons graag wil aanpak om jong swartmense te help. Ons beoog byvoorbeeld om ‘n tegniese opleidingskollege te begin waar jong werklose swartmense die geleentheid kan kry om hulleself te bekwaam in ‘n ambag.
Maar omdat ons vanaand ‘n projek afskop om steun vir die toekoms van Afrikaans te werf, wil ek afsluit met twee aanhalings. Die eerste is die woorde wat Sint  Konstantyn al in die agtste eeu gebruik het, en wat vandag nog net so waar is:
“Skyn die son nie dieselfde vir die hele wêreld nie? Asem ons nie almal saam die lug in nie? Is jy nie skaam om slegs drie tale toe te laat en ander mense tot blindheid en doofheid te veroordeel nie? Sê my, dink jy God is hulpeloos en kan nie gelykheid bewerkstelling nie, of dat hy jaloers is en dit nie sal skenk nie?”
Ten slotte, mnr FW de Klerk het ‘n tyd gelede in Switserland, een van die lande wat ‘n suksesvolle model vir die bestuur van diversiteit het, die volgende gesê: ”Daar is geen twyfel dat die akkommodering van kulturele, religieuse en etniese verskille een van die grootste uitdagings van die nuwe millennium gaan wees nie. Dit is tyd dat ons die nasionale en internasionale standaarde versterk, om ‘n wêreld te skep waarin ons almal seker kan wees dat ons kulturele en linguïstiese erfenis veilig sal wees, ongeag waar jy leef”.
 
Baie dankie
 
Flip Buys
 
 
Soos Matthias Brenzinger van Dartmouth Kollege dit in die Economist gestel het, “Most languages disappear because their speakers voluntary abandon them”[iii]
 
 
 
 
 
 
________________________________________
[i] Kwezi Kwa Prah, Mother tongue for scientific and technological development in Africa. (Bonn: German Foundation for International Development, 1995), p.27.
[ii] Giliomee, H. 2004. Die Afrikaners. P 630. ‘n Biografie. Tafelberg. Kaapstad.
[iii] Brenzinger, M. 2005. Economist.