Toespraak: Dr. Danie Langner

8 Augustus 2011, Bloemfontein

Die bekende verhaal word vertel van die beroemde vioolmeester Paganini wat voor ‘n groot gehoor opgetree het. Terwyl hy speel het een van die snare van sy viool gebreek, maar hy het aanhou speel en geïmproviseer. Toe breek ‘n tweede snaar en toe ‘n derde. Met een heel snaar het Paganini die uitvoering voltooi. Nog voor hy klaar was, was die gehoor op hulle voete met ‘n luide applous.

Paganini en een snaar en ‘n gees wat nie wou moed opgee nie. Dit het die verskil aan daardie komposisie gemaak. Paganini leer ons ‘n belangrike lewensles. In die lewe gaan dit slegs 10% oor die dinge wat met jou gebeur en 90% oor jou reaksie op dit wat met jou gebeur het. Dit gaan nie soseer oor die snare wat jy verloor het nie, maar oor dit wat jy oor het en hoe jy dit gebruik.

Laat ons vanaand eerlik wees dat ons dikwels sukkel om dit te verstaan. In hierdie dae is daar baie mense wat snaarstyf gespan is weens werksdruk, finansiële druk, bekommernis, spanning, depressie, moedeloosheid. Vir ‘n arm persoon is dit dubbel so erg. Hulle beleef nie net bekommernisse, moedeloosheid alledaagse spanning nie, maar ook ‘n verlies aan ondersteuningsnetwerke, ‘n verlies aan menswaardigheid en ‘n verlies aan toekomshoop.

Tania du Toit beskryf dit treffend in haar gedig “‘n Kind se dagbreek”:

die son kom op deur honger kinderoë

agter sink luike en gebreekte glas

waar wakker wees en daglig die vroeë

einde van ‘n mooi droom was

iewers in die nag was daar ‘n droom

agter veilige deure met grendels vas

van lag en speel en klouter in ‘n boom

van die lekkerste kos in ‘n kas

die son kom op deur honger  kinderoë

-toeklapvensters teen die wind-

en waai rommelreënboë

klein flertsies vergeet

nes ‘n vlieërstert se lint

en iewers vannag sal nog ‘n droom

alleen loop sonder grendels of pas

kom klop en ‘n kind wegdra in sy warm jas

na die son- en speelkant van die wind

en hom daar ‘n hoogvliegvlieër laat vind

Dames en Here, daar is te veel kinders in ons land vir wie daglig die einde van ‘n mooi droom is.

‘n Droom van speel en lag en klouter in ‘n boom. ‘n Droom van die lekkerste kos in ‘n kas.

Dit moenie nodig wees dat die skerp Afrika-son drome in honger kinderoë doodbrand nie… Die realiteit van daglig hoef nie die vroeë einde van ‘n mooi droom te wees nie.

Ons het baie verloor, maar ons het ook baie oor. Afrikaners het deur die eeue kulturele kapitaal versamel waaruit vandag nog geput kan word:

  • In die dertigerjare, te midde van verstedeliking, die verwoestende droogte en die wankelende wêreldekonomie, het Afrikaners instellings soos die Voortrekkerbeweging, die  ATKV en die SA Noodhulpliga gestig, het hulle die Bybel in Afrikaans vertaal, Afrikaanse skole en universiteite gebou, Afrikaanse boeke, tydskrifte en poësie geskryf en die Eeufees van die Groot Trek gevier. Vandag is daar nog steeds dinamiese selfdoen-instellings waarin Afrikaners nuwe betekenisgrondslag en idees ontwikkel vir ‘n billike voortbestaan in Afrika. 
  • Soms verstik ons aan al die  Engelse verbs en tenses en soms snak ons na ons asem in Afrikaans, maar terselfdertyd was Afrikaanse musiek nog nooit so gewild soos nou nie; is Afrikaanse films soos LieflingRoepman en Susanna van Biljontreffers; word ‘n nuwe Afrikaanse teater met ‘n huldeblyk aan Mannetjies Roux geopen; word ‘n Afrikaanse fees in Amsterdam gehou.
  • Universiteite verengels, maar terselfdertyd word ‘n nuwe Afrikaanse kampus deur die Solidariteit Beweging gebou.
  • Armoede neem toe, maar Helpende Hand-takke is landswyd soos die Reddingsdaadbond van ouds besig is om selfdoen-oplossings in hulle gemeenskappe implementeer.
  • Miskien is die belangrikste dat ons die waarde van ons geskiedenis herontdek. Dat ons al meer in staat is om verder terug te kyk as apartheid en krag daaruit vir die toekoms te put.

Na afloop van die Anglo-Boereoorlog was die Vrystaat en Transvaal tot as verbrand weens die verskroeide-aarde-beleid. Die jong dominee Kestell vertel toe hy in Ficksburg aankom, was hy verstom oor die verwoesting. Sowat 270 plase asook die kerkgebou, die pastorie en byna al die huise op die dorp was verwoes. Kestell het later jare dikwels geskryf oor die seer van verliese wat hy in sy tyd as jong predikant in sy gemeente moes hanteer: die hartseer van ouers oor kinders, kinders oor ouers; die seer van verlies van kosbare besittings en erfstukke; die verlies van hoop.

In 1903 het die gemeente besluit om die kerkgebou te herbou en saam met dit ‘n gedenkteken ter ere van die “gesneuwelde helde” op te rig. Die bou van die kerk het gou meer geword as ‘n projek van die kerkraad. Dit het die stukkende gemeenskap se geloofsoë opgelig en die kerkgebou het ‘n monument geword, nie net van diegene wat in die oorlog oorlede is nie, maar veral van die genesing en herstel na die oorlog.

Op ‘n koue Vrystaatse oggend was dit ‘n voorreg om in die skadu van die kerk te staan en iets van die gesindheid te beleef waarna ds. Kestell ook verwys het. Op daardie oomblik het ek iets beleef van vrywilligers…  geraak deur die nood, pyn en verliese, maar wat ook hulle tyd opoffer, planne maak en moue oprol om iets daaraan te doen.

Ek het gedink aan elke Helpende Hand-tak wat weier om moed op te gee met diegene wat voel hulle is deur die samelewing weggegooi.

Vandag bou Helpende Hand-vrywilligers voort op die geskiedenis van die Afrikaner se opstaan teen armoede.

 Dankie vir elke Helpende Hand-vrywilliger wat saam met Helpende Hand ‘n storie van HOOP skryf sodat ons kinders en hulle kinders ook sal besef hoe belangrik dit is om aan te hou opstaan en nooit op te hou om met hoop te leef nie.

Dankie vir elke Helpende Hand-tak wat hoop elke dag ‘n werklikheid maak deur ‘n toekoms  te bou aan die suidpunt van Afrika.

 Toe ek die oggend uit die dorp ry, het ek by ‘n winkeltjie langs die pad ‘n geroeste stuk blik gekoop waarop geskryf staan: Kom ons doen iets pragtig vir die Here. Ons monumente is vandag meer as sand of steen, want elke arm persoon wat ten spyte van ‘n seer verhaal weer met hoop begin leef en met moed die lewe weer in die oë kyk, is pragtig in die oë van die Here. Elke honger kind wat ons kan help om weer te droom, is pragtig in die oë van die Here. Dít is Helpende Hand se een-snaar-uitvoering van genesing en herstel met ewigheidswaarde.