Sakie 19 november

Geskiedenis word môre in die pragtige Middeleeuse Vlaamse stad Brugge gemaak. Vir die eerste keer sal die Suid-Afrikaanse regering en ’n drietal verteenwoordigers van die Afrikaanstalige burgerlike samelewing by die jaarlikse spitsberaad van die Nederlandse Taalunie verteenwoordig wees.

Die amptelike regeringsafvaardiging staan onder leiding van die adjunkminister van kuns en kultuur, dr. Joe Phaala, en die drie mense uit die burgerlike samelewing is proff. Wannie Carstens, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), en Stewart van Wyk van die Universiteit van Wes-Kaapland, asook mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans.
Ter verduideliking: Die Nederlandse Taalunie, wat in 1980 gestig is, verenig alle Nederlandssprekende lande op regeringsvlak. Die belangrikste lidlande is uiteraard Nederland en Vlaandere, maar ook huidige en gewese Nederlandse kolonies in die Karibiese See vorm deel van die komitee van ministers wat jaarliks byeenkom.

Die taak van die Taalunie is om die Nederlandse taal in die breedste sin van die woord op talle terreine te bevorder, nie alleen binne die lidlande nie, maar ook elders. Soos die Taalkomitee van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns waak die Taalunie oor sake soos ’n gemeenskaplike grammatika en spelling, en koester die taal deur wetenskaplike ondersoek en onderwys en kunsbeoefening in Nederlands te stimuleer.

Tot betreklik onlangs was kontak met Afrikaans as sustertaal heeltemal taboe. Die smet van apartheid het – in die oë van die Lae Lande – soos ’n stinkende albatros om die taal se nek gehang.

In die loop van die negentigs het die Taalunie heel versigtig voelers begin uitsteek. Aanvanklik het dit bloot gegaan om die bevordering van die onderrig van Nederlands op universiteitsvlak in Suid-Afrika, maar weldra is stilswyend erken dat dit ook gedoen kan word op ’n manier wat Afrikaans ten goede kom.

’n Jaar gelede het die deurbraak gekom. Toe het die komitee van ministers besluit om die hoofsekretaris van die Taalunie, me. Linde van den Bosch, te vra om kontak te soek met die Suid-Afrikaanse regering met die oog daarop om Afrikaans op die een of ander manier te betrek.

Blykbaar was die Suid-Afrikaanse regering traag om te reageer, maar nietemin sal ons land tog môre amptelik deur ’n regeringsafvaardiging van vyf man (en drie uit die burgerlike samelewing) verteenwoordig word.

Dié deurbraak kan op talle terreine gesien word. Die Lae Lande is besig met ’n ware herontdekking van Afrikaans – bygesê, ’n aangename herontdekking.

Toe ek ’n paar weke gelede vanaf die lughawe Schiphol vir ’n blitsbesoek aan Suid-Afrika vertrek, kyk die paspoortbeheerbeampte my Suid-Afrikaanse paspoort so en sê nadruklik: “Baie dankie, meneer!” By my terugkeer ’n paar dae later vra ’n ander beampte my: “Is alles reg?”

Let wel, dis Afrikaans. Nie Nederlands nie.

As ’n mens inkopies by ’n tipiese supermark doen, staan die rakke vol Kaapse wyn, dikwels met Afrikaanse etikette, soos “Suid-Afrika. Droë rooi. Volrond en sappig”. Op die pakkies rooibostee is Afrikaanse tekste te lees.

By ’n reisagentskap sien ek ’n plakkaat in die venster: “Suid-Afrika. Jou wil ek sien!” – Afrikaans, nie Nederlands nie.

By twee geleenthede het ek Suid-Afrikaners toesprake in Afrikaans voor Nederlandse gehore hoor hou. Die reaksie? Entoesiasties. Dieselfde het gegeld waar my eggenote – verteenwoordiger van Solidariteit en die ATR in die Lae Lande – en ek Nederlandstalige gehore in sowel Nederland as Vlaandere toegespreek het.

Dis asof die mense skielik regop sit en ervaar: Haai, maar ek verstaan die man as hy praat!

Uiteraard moet ’n mens stadig en duidelik praat, maar as albei kante ’n bietjie moeite doen, verstaan hulle mekaar uitstekend.
Die kontak tussen die twee tale hou slegs voordele in, veral vir Afrikaans. Soos N.P. van Wyk Louw al dekades gelede opgemerk het, bied Nederlands vir ons ’n unieke venster op die wêreld, bykomend tot wat Engels bied. Dit bied ook die geleentheid tot die internasionalisering van die taalstryd, want die steun en simpatie in Nederland en Vlaandere kan ’n belangrike hupsteun vir Afrikaans wees.

Ons sal net moet leer om verder as ons eie ooglede te kyk.

Die skrywer is Media24 se korrespondent in Europa.