Prof WAM Carstens, Voorsitter ATR
Gelewer te Performerteater, Pretoria
Dames en Here
Dit is met groot genoeë dat ek hierdie eerste voorsittersrede van die ATR lewer. Dit is meer as 14 maande sedert ons stigting in Wellington en ek doen verslag oor die verloop van die proses wat opgebou het daartoe en ook tot die proses wat gelei tot waar ons vandag is.
Die Afrikaanse Taalraad (ATR) is na afloop van ‘n lang konsultatiewe proses op 24 Mei 2008 in Wellington gestig. Dit was ‘n historiese dag vir Afrikaans omdat dit die waarmaak van ‘n gesamentlike strewe verteenwoordig het: die totstand¬koming van ‘n liggaam wat ten doel het om koördinerend, netwerk-skeppend, inklusief, bemagtigend en versoenend op te tree in die belang van die totale Afrikaanse taalgemeenskap. Hierdie liggaam het nie ‘sommer net’ ontstaan nie, maar dit was die resultaat van harde werk (reeds sedert 2003) om ‘n gedeelde ideaal vir die Afrikaanse taalgemeenskap waar te maak – die totstandkoming van ‘n gekonsolideerde en inklusiewe stem wat namens Afrikaans kan praat.
Fases wat die stigting van die ATR voorafgegaan het, is die sg. Voortsettingskomitee wat tot stand gekom het na afloop van ‘n FAK-byeenkoms in September 2003 in Pretoria, die aanbied van die Eerste Nasionale Afrikaanse Taalberaad in Augustus 2004 op Stellenbosch, die miniberaad wat in Februarie 2005 in Johannesburg aangebied is en waartydens ‘n taalplan vir Afrikaans goedgekeur is, die vorming van die Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA) wat die proses sedert Maart 2005 tot Mei 2008 bestuur het, die aanbied van die Tweede Nasionale Afrikaanse Taalberaad in Februarie 2007 in Pretoria, die goedkeur van die idee dat ‘n oorkoepelende taalliggaam vir Afrikaans tot stand moet kom, die konsultatiewe gesprekke hieroor in die loop van twee jaar, registrasie by die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Kulturele, Religieuse en Linguistiese Gemeenskappe (die sg. art. 185-kommissie) en uiteindelik dan die stigting van die ATR in Mei 2008.
Sedertdien is die statuut van die ATR gefinaliseer, is talle projekte aangepak, is besondere moeite gedoen om die infrastruktuur van die ATR gevestig te kry, is ‘n eie logo geskep, ‘n eie webblad (www.afrikaansetaalraad.co.za) gevestig, fondse gesoek om die koördineringsrol te vertolk.
Die vraag mag wees wat die resep vir die mate van sukses van die ATR tot op hede is. Belangrike merkers op hierdie pad is:
- Die besef dat ons met ’n proses besig is wat gaan tyd neem. Die produk volg mettertyd, maar slegs as die proses reg verloop.
- Die geduld om die proses kans te gee om te ontwikkel.
- Die bereidwilligheid om baie hard te werk (veral ágter die skerms’).
- ‘n Gesamentlike visie op die toekoms: eenheid onder die Afrikaanse taalgemeenskap.
- Die geloof in die taal se bestaansreg.
- Die geloof dat die Afrikaanse taalgemeenskap die vermoë het om homself te organiseer.
- Toewyding tot en ‘n strewe na versoening binne die totale Afrikaanse gemeenskap.
- Toewyding tot en ‘n strewe na inklusiwiteit binne die Afrikaanse gemeenskap.
- Onderlinge vertroue op ‘n persoonlike vlak onder die leiers.
- Die los van die eie ego by die huis en die aanvaarding dat daar terugslae kan (en gaan!) wees – ons werk in so ‘n geval dan net harder om daarby verby te kom.
- Konsultasie met belanghebbendes van die begin af. Gesprek bou brûe en voed verhoudings en vertroue.
- Die kommunikeer van die verloop van die proses onder belanghebbendes, via e-pos, fakse, gesprekke, berade, ens.
- Die deel van mekaar se suksesse en mislukkings – in die geheel: leer by mekaar.
- Die bereidwilligheid om aanpassings te maak soos die proses vorder, en die besef dat daar moet by tye selfs kompromisse aangegaan moet word.
- Die benut van die grondwetlike geleenthede en strukture waar nodig om die proses stukrag te gee (PanSAT en die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Kulturele, Religieuse en Linguistiese Gemeenskappe (die sg. art. 185-kommissie).
- Die samewerking met die breë burgerlike gemeenskap – in wese in ‘n vennootskap.
- Die benut van die infrastruktuur van bestaande organisasies om take gedoen te kry. Die FAK het die sekretariële funksie vir die aanvangstyd (2003-2006) onderneem en sedertdien (2006 – tans) word hierdie onontbeerlike taak verrig deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. In die toekoms sal ‘n ander Afrikaanse instansie weer daarvoor kan instaan. Dit beteken dat skaars fondse dan nie gebruik word vir ‘n kantoor nie, maar vir dit waarvoor dit werklik nodig is.
Die vraag is waarskynlik nou wat die ATR alles ten doel het en wat sy vertrekpunte is:
- Die ATR het die geleenthede wat die SA Grondwet vir die ontwikkeling en bevordering van tale bied, benut om tot stand te kom. Wetgewing rakende PanSAT en die Art. 185-kommissie is hiervoor ingespan. Die Grondwet van Suid-Afrika maak dit naamlik vir elke taal in die land moontlik om ’n belangeraad vir daardie taal te laat registreer en uiteindelik te akkrediteer by die Kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe (Art. 185). Die belangeraad behoort op ’n konstruktiewe manier na die ontwikkelings- en spesifieke behoeftes van al sy sprekers te kan omsien en deur netwerking en samewerking doelgerig inhoud gee aan die ontwikkeling van ’n self-onderhoudende, geïntegreerde en waardetoevoegende gemeenskap. Dis wel duidelik dat beide hierdie liggame uiters gebrekkig funksioneer en dat hulle slegs middele tot ‘n doel was.
- Burgerlike organisasies het in vennootskap getree met liggame wat grondwetlike bestaansreg het (soos die NTLA – ‘n PanSAT-liggaam) om die proses te dryf. Dis nie die een of die ander nie, maar altwee saam wat van belang is.
- Die werklikheid is dat die SA regering tans nie daarop ingestel is om Afrikaans (soos ook die SA swart tale) te bevorder nie en dat hierdie gemeenskappe dit self sal moet doen. Dis dan inderdaad ook wat ons doen: ons koördineer en organiseer ons op so ‘n wyse dat ons Afrikaans kan bevorder.
- Die ATR het Afrikaans en sy sprekers as primêre vertrekpunt.
- Die ATR glo daar is ook vir Afrikaans plek in die nuwe SA, soos ook die geval is met die ander SA tale.
- Die ATR tree netwerkskeppend en koördinerend rakende projekte en aktiwiteite op.
- Die ATR wil in die lig hiervan glad nie die taak van geassosieerde organisasies oorneem nie, maar eerder die aktiwiteite en funksie van hierdie organisasies so koördineer dat die potensiaal van die organisasies in die beste belang van Afrikaans ontgin word.
- Op hierdie wyse wil die ATR help om die mense- en finansiële kapitaal beskikbaar in die Afrikaanse gemeenskap optimaal in die belang van Afrikaans te benut. Daar is heelwat kundigheid, welwillendheid, entoesiasme, passie, geesdrif en energie wat reeds bestaan en net beter aangewend moet word. Dit neem tyd, maar dit moet gedoen word. Dit is hoekom ons die oudit doen: om te sien wat daar is sodat ons dit kan gebruik in die belang van Afrikaans en die sprekers van die taal.
- Die ATR wil deure vir Afrikaans (en by implikasie ook vir ander tale) by die regering oopmaak. Dis ‘n moeisame proses, maar ons werk hard hieraan.
- Die ATR wil nie konfronterend optree nie, maar wil eerder op ‘n konstruktiewe wyse ‘n bydrae maak tot die SA gemeenskap. Konfrontasie lewer nie altyd die beplande dividende op nie en daarom word die sagter roete van samewerking en oorreding (selfs ‘agter die skerms’) gevolg.
- Die ATR tree graag op as ‘n rolmodel vir ander SA gemeenskappe. Ons neem ons saak in ons eie hande en ons bepaal daardeur wat van ons gaan word. Ander gemeenskappe kan hierdie voorbeeld navolg. As ons in die proses van werk vir die doelwitte wat ons nastreef, ook ander tale kan bevoordeel, dan doen ons dit met graagte.
Hierdie aspekte word in meer besonderhede in ons statuut uiteengesit wat ek vertrou later vandag aanvaar sal word.
Iemand het onlangs gevra: Wat is die grootste sukses van die ATR tot dusver?
Dit is waarskynlik die feit dat ons tot stand kon kom ten spyte van wat geassosieer is met Afrikaans se verlede. Die ATR is die resultaat van ‘n versoeningsproses, van ‘n proses waar ons met mekaar gepraat het (indringend gekonsulteer het) oor die verlede en hoe ons ten spyte daarvan nog steeds Afrikaans kan dien. Ons praat steeds gereeld hieroor en ons hoop om in die afsienbare toekoms op ‘n meer simboliese wyse gesamentlik as gemeenskap, ongeag ons verskeurde en verdelende verlede, vorentoe te gaan.
Ons het van die begin af besef dat ons stadig moet werk en dat ons as liggaam nie kan funksioneer sonder die steun van die totale Afrikaanse gemeenskap nie. Daarom volg ons dr Neville Alexander se raad (tydens die Eerste nasionale Afrikaanse Taalberaad van Augustus 2004 op Stellenbosch): ‘gaan voetjie vir voetjie vorentoe, en wees soms bereid om selfs ‘n tree terug te gee’. Dit is nie ‘n maklike pad nie, maar dié benadering waarborg groter sukses op die langer termyn.
Dit is wel reeds meer as ‘n jaar gelede dat die ATR gestig is (in Mei 2008) en wat het ons reggekry in hierdie tyd? Kort ná die stigtingsbesluit in Wellington is die lede van die nuwe bestuur opdrag gegee om die volgende jaar te gebruik om die ATR te vestig en in hierdie proses ook die statuut / grondwet te finaliseer. Wat het ons sedertdien gedoen? Het ons hierdie opdrag uitgevoer?
- Ons het lank geneem om tot stand te kom en moet nou ook tyd neem om ons behoorlik gevestig te kry. Dit doen ons met oordeel.
- Ons het besef ons kan nie net indons en dinge oorhaastig doen nie – ons moes eers ons strukture vestig.
- Die bestuur moes as funksionerende eenheid gevestig word. Ons bestuur via subkomitees om die werk gedoen te kry: ‘n dagbestuur vir die hanteer van daaglikse sake; kundige komitees, soos ‘n grondwetkomitee, navorsingskomitee, bemarkingskomitee, onderwyskomitee, taalregtekomitee, finansiële komitee, ens.
- Ons maak gebruik van bestaande strukture om ons werk gedoen te kry. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns lewer nog steeds ons administratiewe steun.
- Ons het begin om ons eie identiteit te vestig: ‘n eie webblad (www.afrikaansetaalraad.co.za), ‘n eie logo en slagspreuk Bemagtig, bevorder, beskerm). Ons werk aan ‘n nuusbrief wat maandeliks versprei moet word.
- Ons moet ons profiel gevestig kry. Dit doen ons via ‘n goed beplande mediaveldtog: radioprogramme, televisiegesprekke waar moontlik, berigte in koerante. Daar is egter nog werk hier te doen.
- Ons moet ons statuur verseker sodat mense en organisasies ons kan vertrou. Ons herkoms en stigtingsproses maak dit moontlik. Ons wil verseker dat ons aanvaar word as dié liggaam vir Afrikaans.
- Ons moet ons statuut, aan die hand waarvan ons binne ‘n wetlike raamwerk funksioneer, finaliseer en goedgekeur kry. Dit word hopelik vandag waar omdat dit die raamwerk sal wees aan die hand waarvan ons funksioneer.
- Ons moet strategies besin oor waar ons die grootste impak kan maak. Dit het ons reeds vier keer gedoen. En ons sal dit nog heelwat meer kere moet doen.
- Ons het duidelike projekte geïdentifiseer. Ons begin beskeie, maar bou stadigaan op tot meer.
- Ons het kort voor lank begryp dat om die werk gedoen te kry en die nodige koördinering te kan doen, sal ons ‘n voltydse uitvoerende beampte moet kry. Ons het dr. Dione Prinsloo, afgetrede dosent in Geskiedenis aan UNISA, aangestel om vir die tydperk April tot Augustus 2009 hierdie taak op ‘n tussentydse basis vir ons te verrig. Dit sal wel ‘n permanente pos moet word met ‘n toegewyde persoon om die werk ten uitvoer te bring. Idealergewys moet ons drie persone kan aanstel – een vir die suidelike deel van ons land, een vir die noordelike deel van ons land en een persoon om ons belange in Europa te hanteer.
- Dis vir ons duidelik dat ons NIE ander Afrikaanse organisasies se take en funksies durf (eers probeer) oorneem nie omdat elkeen ‘n eie taak, funksie en nisarea het. Ons as ATR moet bloot koördineer en steun en dit kan net ’n voltydse persoon/persone doen.
- Ons moet fondse bekom om ons basiese take te kan uitvoer. Dis nie ‘n maklike taak in ‘n swak ekonomiese tyd nie. Ons het letterlik mense nodig om pannekoek te bak en te verkoop en sodoende fondse vir die ATR in te samel!
- In ‘n poging om fondse te bekom, is besluit om die deure vir Afrikaans in die Lae Lande te probeer oopmaak. ‘n Aantal van ons het op 19 Mei vanjaar ‘n eendagkonferensie oor Afrikaans in Antwerpen bygewoon. Die organisasie hiervan is grootliks gehanteer deur die kantoor van mnr. Ludo Helsen, ‘n welwillende Vlaamse politikus van die Provinsie Antwerpen, en mev. Ingrid Scholtz, wat tans Solidariteit se verteenwoordiger in Europa is, maar volgens ooreenkoms ook take vir die ATR verrig. (Ons het hier ook te doen met ‘n perfekte voorbeeld van samewerking tussen liggame. Ons dank aan Solidariteit vir hierdie gebaar!) Ek kan persoonlik getuig dat mev. Scholtz van groot strategiese waarde vir ons is en ons sal in die toekoms meer in haar moet belê. Die finansiële deure het weliswaar nog nie vir ons oopgegaan nie, maar ons het belangrike kontakte gesluit waarop ons vorentoe kan bou. Daar is dus nog werk, maar ons het reeds begin daarmee en dit lyk belowend.
Wat lê nog vir ons voor?
Daar is nog baie werk te doen. Ons moet bereid wees om dit te doen. Hiervoor is werkers (organisasies en individue) nodig. Ons vra hierdie werkers se tyd, energie, entoesiasme, geld, geduld en kundigheid.
- Ons moet mekaar se strukture en netwerke deel waar ons kan. Saam is ons beter!
- Ons moet Afrikaanse organisasies wat nog nie die ATR betrokke is nie, nader en seker maak dat ons ander aan mekaar beweeg. Daar is byvoorbeeld tans min organisasies waarby bruin sprekers van Afrikaans betrokke is, by ons geaffilieer. Dit is ‘n onmiddellike prioriteit om dit reg te stel.
- Ons moet die onderlinge samewerking van Afrikaanse organisasies verder aanmoedig en selfs fasiliteer. Ons kan by mekaar leer. Hoe kan byvoorbeeld die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en ander organisasies (soos die SBA, die Vereniging vir Regslui vir Afrikaans, FAK, e.a.) verder saamwerk? Hoe kan die kundigheid van die Vereniging vir Regslui vir Afrikaans (VRA) ingespan word om die ATR by te staan om taalregteskendings te hanteer? Hoe kan die strukture van die Rapportryersbeweging, die Afrikanerbond, Dames Aktueel, die Skrywerskring, die Voortrekkerbeweging byvoorbeeld ingespan word om die SBA op grondvlak met geletterdheids- en bemagtigingsprojekte in die platteland te help?
- Ons moet die Afrikaanse taalgemeenskap mobiliseer rondom gesamentlike projekte, soos byvoorbeeld die Lees om te leer-projek wat ons tans dryf met die steun van die SBA, Vriende vir Afrikaans, die ATKV, die SA Akademie, die Taalmuseum, die Wes-Kaapse Taalkomitee, die Woordfeeskomitee van US, ens. Sake soos geletterdheid, bemagtiging, onderwys (oor die hele spektrum), taalregteskendings, opleiding, ens. is sake van onmiddellike belang.
- Ons moet mekaar se terreine respekteer en mekaar die ruimte gun om elke organisasie se doelstellings en nisse uit te leef. So beywer die ATR hom vir Afrikaans as taal, die SBA hom vir bemagtiging, Afriforum en Solidariteit hulle vir die regte van vakbondlede, die ATKV hom vir kultuurbevordering in die breë, die VRA hom vir Afrikaans se posisie in die regswêreld, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns hom vir Afrikaans as hoëfunksietaal in die wetenskap, die Afrikanerbond hom vir die regte van Afrikaanssprekendes, die Afrikaanse Taalmuseum hom vir die bewaar van Afrikaans se geskiedenis, die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) hom vir die opteken van Afrikaans se omvattende woordeskat, ens. ens. Kom ons hou dit so, maar kom ons werk saam waar ons kan.
- Ons moet ons onderlinge kommunikasie tussen organisasies verder verbeter sodat ons by mekaar kan hoor oor suksesse en foute. Ons het waarskynlik ‘n skakelbeampte hiervoor nodig. Elke organisasie is waarskynlik nog te veel op sy ‘eie ding’ ingestel’.
? Ons gaan volhou om aan te dring op Afrikaans se regte as taal in SA. In hierdie verband probeer ons ‘n afspraak by die minister van Kuns en Kultuur kry om ons saak te stel en te vra vir die implementeer van die Nasionale Talewet in SA. Ons is ook op pad om die minister van Hoër Onderwys hieroor te gaan sien. Ons beskou dit alles as deel van die oplossing vir die status van tale en die opeis van die regte van tale. - Ons kan dit nie bekostig om moedeloos te word in die lig van soveel gebreke in SA nie. Dit het ook betrekking op gebreke rakende taalsake, soos die nie-implementeer van die Nasionale Talewet. Ons moet aanhoudend klop om hierdie deur oop te maak in die belang van AL die tale in die land.
- Ons moet ons beywer dat organisasies dalk weer na hulle missie, visie, funksies en doelstellings kyk. Is dit nie dalk tyd dat van die organisasies saamsmelt nie? En sodoende minder en sterker word?
- As leiers van die Afrikaanse taalgemeenskap moet ons hoop gee aan die lede van die Afrikaanse gemeenskap. Ons kan dit nie doen deur die hele tyd te kla en te wroeg nie. Ons moet begin saam-doen. Ons moet positief wees. En dit moet ons doen deur dit wat ons bind (Afrikaans en die strukture wat dit ondersteun) – kom ons deel mekaar se energieë, entoesiasme, passie, kragte, strukture en kundigheid. Daar word van ons leierskap gevra en dit doen ons deur die regte voorbeeld te stel.
- Die ATR glo dat ons deur ons unieke bydrae ook ‘n bydrae kan lewer tot die oplos van die talle probleme in SA.
U wonder seker ook: Gaan die regering/magshebbers ooit luister na die ATR?
Ons vertrou so! Die Afrikaanse gemeenskap het ons in wese die reg gegee (deur die omvang en verloop van ons stigtingsproses) om as stem vir Afrikaans op te tree daar waar Afrikaans se belange geraak word en ons gaan hierdie mandaat gebruik. Ons is tans betrokke by die proses (saam met prokureur CJ Lourens van Brits wat die staat gedagvaar het) om die Nasionale Talewet aanvaar te kry. Ons reël ook tans vir afsprake met die ministers van Kuns en Kultuur asook van Hoër Onderwys om ons standpunte oor taalsake te stel.
Dus: as ek terugkyk, sien ek ‘n liggaam wat uit ‘n idee (dr Christa van Louw se “‘n nasionale strategie vir Afrikaans”) ontstaan het, wat gegroei het rondom hierdie idee, wat ‘n ooreengekome plan ontwikkel het aan die hand waarvan bestuur is en wat uiteindelik uitgeloop op die struktuur wat vandag bekend staan as die ATR. Of hierdie struktuur uiteindelik die verskil gaan maak wat ons graag wil, sal die geskiedenis oor oordeel. Ek kan u wel die versekering gee dat ons nie gaan toelaat dat ons harde werk tot niet gaan nie. Kom werk daarom saam met ons aan hierdie droom vir Afrikaans.
Baie dankie!