Raamwerkplan vir Afrikaans. ATR Beraad. 15 Augustus 2009. Flip Buys

Daar is teen dié tyd gelukkig seker nie meer Afrikaanssprekendes wat nog regeringsbeloftes oor Afrikaans glo nie. Almal het hopelik darem nou al agtergekom dat mooi grondwetlike bepalings, hogere politieke gerusstellings, belangrike kommissies van ondersoek, en ‘n klompie kopknikkende Afrikaanse meelopers maar net soos die Wolf is wat die skaap met mooi (Afrikaanse) woorde vir aandete genooi het.

Dit is maar goed so, want dan kan ons aan oplossings begin werk. Ons is nou al lank genoeg lamgelê deur al die goedgelowiges, goeie bedoelers en skynheilige grondwetlike lippediens. Ongelukkig het ons in die proses baie tyd verloor, waartydens Afrikaans se ruimtes seker al met meer as 50% gekrimp het.

Daarom moet prakties uitvoerbare planne nou baie vinnig gemaak en nog vinniger uitgevoer word, voordat meer Afrikaans in Australië as hier plaaslik gepraat word. Daarom sal ek graag ‘n debat oor ‘n Taalplan vir Afrikaans wil afskop deur ‘n breë raamwerk vir die bevordering van Afrikaans voor te stel. Daarna sal ek kortliks oor die rol van die ATR in die bevordering van Afrikaans iets wil sê.

My uitgangspunt is dat ‘n tweede Afrikaanse Renaissance wel moontlik is, maar dat dit nie spontaan gaan gebeur nie. In die ou tyd was die spreekwoord “’n Boer maak ‘n plan”. Die onderliggende aanname was dat die staatsdiens daarna die plan sou uitvoer, en dit sou befonds met die belastingbetaler se geld. Deesdae is sake bietjie meer ingewikkeld. Die “Boer” sal nou - saam met ál die ander sprekers van Afrikaans, baie planne moet maak (een is nie meer genoeg nie), en ons sal dit dan met Selfdoeninstellings moet uitvoer met geld wat ons eers bymekaar sal moet maak. Moeilik, maar moontlik. Die belangrikste is om dit net te begin, en dan net aan te hou.

In die proses moet ons nie te klein dink en te klein doen nie. Die planne moet groter as die probleem wees, anders sal dit nie werk nie. Ons moet globaal dink, en lokaal doen, maar ook lokaal dink, en globaal doen. Ons moet weer ons taalbande met ons vriende in Nederland en Vlaandere uitbou. Die AfriNetwerk skakelkantoor in Europa kry werklik ‘n baie groot belangstelling in Afrikaans by die Nederlandse taalgemeenskap. Daarmee saam moet ons ook na maniere kyk hoe die Afrikaanse diaspora in ons planne betrek kan word.

Ek wil begin deur eerstens ‘n breë raamwerk voor te hou van die verskillende gebiede waarop Afrikaans bevorder moet word. Ek vertrou dat u in die lig van die tydsbeperking daarvoor begrip sal hê as ek dit kernagtig en in telegramstyl (sms styl?) doen. Ons kan maar later tydens ‘n lekker (staande) doenskrum vleis aan die raamwerk sit en projekte daaraan koppel. (dit fokus mense!)

1. Taalnavorsing

Die eerste stap behoort die behoorlike en deurdagte intellektuele begronding vir die gebruik van Afrikaans in al sy vorme en op alle gebiede te wees. Daarvoor is diepte navorsing en deeglike besinning nodig. Om dit uit te voer is ten minste een wêreldklas navorsingsinstellings ‘n vereiste. Ons moet die ideedroogte  verbreek. As die ideegeveg nie gewen word nie, het ons die taaloorlog klaar verloor.

2. Onderwys

• Kleuterskole
• Laer- en hoërskool (privaatskole ook)
• Beroepsopleiding
• Universiteite

Daar is baie instellings wat ons hiervoor kan inspan, en daar kan ‘n paar herbelyn en miskien een of twee heraktiveer of nuut gestig word. Dit is oa die SAOU, Kleuterskool verenigings, die ATKV, Fedsas, Solidariteit, RVA, Afrikaanse Trusts, die ROF en ander beursfondse, die Afrikaanse media, die Akademie, en natuurlik die ATR. Vanselfsprekend ook die Afrikaanse skole self. (Afrikaans as vak moet liefde vir die taal kweek asb!)

3. Instellings

‘n Taal word gedra deur sy instellings. Sterk en selfstandige instellings is taalvermenigvuldigers. Sonder instellings wat taal in die openbare terrein indra word dit ‘n kombuistaal wat deur Afrikaanse enkelinge by die huis gepraat word. Dan is dit ‘n privaat taal, en nie meer ‘n gemeenskapstaal nie. Dit is hartverskeurend dat so baie mooi instellings in die oorgangsproses prakties gesproke gesneuwel het. Dit terwyl invloedryke denkers daarop wys dat in die oop geglobaliseerde wêreld waarin ons leef sterk gemeenskapsinstellings ‘n broodsaak is. Daarom moet ons bestaande Afrikaanse instellings op elke denkbare terrein ondersteun en hulle weer sterk en lewenskragtig maak, deur oorspronklike en magnetiese idees te ontwikkel, en goeie leierskap en bestuur te kweek. Ons oorweeg dit om by die Solidariteit Akademie ‘n mini-MBA in kulturele ondernemerskap te begin. Ons wil graag die beste Afrikaanse breine in die land by so poging betrek as daar genoeg belangstelling is. Ons instellings moet nie veg vir oorlewing nie, hulle moet veg om hulle doelstellings te bereik. Ek wil dit duidelik stel, ons moet nie net baie doen nie, ons moet baie bereik, want ons het  nie baie tyd nie. Te veel mense het al moed vir Afrikaans verloor. ‘n Sin  vir dringendheid is noodsaaklik, want as ons so aangaan, sal ons nie aangaan nie.

4. Grondwetlike regte

Die post-’94 grondwetlike (taal) optimisme het soos reeds gesê nou plek gemaak vir ‘n groter werklikheidsbesef. Die probleem is net dat iemand vergeet het om te waarsku dat in ‘n grondwetlike regstaat daar duur hofsake nodig is om daardie regte te beskerm. Daarvoor is sterk instellings met genoeg regsfondse nodig as praat nie meer help nie. Dink maar net aan die Ermelo Grondwetlike hofsaak wat nou hangend is, en waar die regering met óns belasting geld teen óns taalregte ‘n saak gemaak het nadat die Appèlhof in die beheerraad se guns beslis het. Instellings wat op die regsterrein bygestaan moet word is die VRA, Fedsas, AfriForum, die Instituut vir Grondwetlike reg van die FW de Klerk Stigting, en ‘n paar ander.

5. Kuns en musiek

Afrikaanse kuns en musiek bly baie belangrik, en doen geweldig baie om ‘n liefde vir ons taal te kweek. Dit lyk of Afrikaanse musikante (met harde werk) nog goed aangaan, maar die Kunstefeeste sukkel al meer met borgskappe.

6. Erfenisbewaring

Ons het ‘n pragtige taalerfenis. NALN in Bloemfontein bly egter ‘n hartseer saak. Die Erfenis Stigting en ‘n paar ander soortgelyke instellings doen wonderlike werk wat die hele taalgemeenskap se steun verdien. Dit is egter dringend nodig om hierdie instellings te versterk.

7. Afrikaanse media

Ons het nog ‘n paar gehalte Afrikaanse media produkte, maar nóg meer is nodig. My droom is dat daar meer Afrikaanse gemeenskapsradio’s gestig moet word. Radio is wonderlike vermenigvuldigers vir taal!

8. Taalproduksie

“Taalproduksie” is ‘n voorwaarde vir taalverbruik! Dankie vir die werk wat instellings soos die WAT, ons Afrikaanse Uitgewers, skrywers en taalkundiges vir ons taal doen. Ons moet ons huidige taalruimtes behou en verbreed, en ook weer nuwe ruimtes skep, met uitnemendheid as slagspreuk.

9. Beskerming van sprekers

Afrikaans kan nie groei en bloei as dit met sy sprekers sleg gaan nie. Daarom moet daar instellings wees wat oor die wil en vermoë beskik om ons taal se sprekers te beskerm daar waar hulle dit nodig het, soos ons armes, weerloses en werkloses, ons skole en in die  werksplek. Sonder hierdie beskerming sal ‘n kritiese massa jongmense landuit gaan, en sal ons taal mettertyd in duisende kele stil raak omdat mense voel hulle het nie ‘n toekoms hier nie. Verder sal ons moet sorg dat Afrikaans sy krimpende ekonomiese waarde behou. Indië is ‘n voorbeeld van ‘n land wat die ekonomiese waarde van ‘n minderheidstaal op  werk- en handelsgebied aanwend om vir sy sprekers toekomsmoontlikhede te skep. Hier dink ek aan die werk wat die SBA, en die SHH doen.

10. Taalbemagtiging

Die Stigting vir bemagtiging deur Afrikaans se Christo van der Rheede redeneer nie verniet dat taalmiskenning ‘n groot oorsaak van armoede en die mislukking van ontwikkelingsprojekte is nie. Prof Giliomee het ook daarop gewys dat moedertaal onderwys en opleiding ‘n deurslaggewende rol gespeel het in die bemagtiging van die Afrikaner uit armoede in ‘n vorige era. Die SBA verdien ons almal se ondersteuning wat dit betref.

Die feit is dat ‘n taalstrategie geld gaan kos. Prof Hermann Giliomee het betekenisvol gesê dat die Afrikaans van vandag die produk is van die beleggings en momentum van ‘n vorige era. Die toekoms van ons taal gaan afhang van watter nuwe beleggings hierdie geslag bereid gaan wees om te maak. Niks wat die moeite werd is kom verniet nie. Die tragiese vir my is dat die meeste skatryk Afrikaanse mense se grootste ideaal skynbaar is om ‘n groot bankrekening na te laat. Waar is ons Afrikaanse Andrew Carnegies, Warren Buffets en Bill Gatese wat op ‘n massiewe skaal terugploeg. Maar belangriker is gewone welvarende Afrikaanse mense wat ‘n groot  verskil kan maak. Maar onthou- sulke mense gee nie vir ‘n behoefte nie, hulle belê in werkbare planne en besielende visies.

Laastens wil ek afsluit met ‘n paar gedagtes oor die rol van die ATR:

• Baie geluk met wat tot sover bereik is, ek weet niks kom sonder harde werk en baie geduld en diplomasie nie;
• Die ATR het nie tans die uitvoerende vermoë om alles te doen nie, en moet ook nie met sy lede probeer meeding nie. Die ATR moet egter die leiding neem om ‘n nasionale ruimte vir die sprekers van Afrikaans te skep om hulle in hulle taal uit te leef.
• Die ATR moet ook die leiding neem om ‘n breë konsensus onder Afrikaans sprekendes te skep oor waarheen ons met Afrikaans wil gaan en wat ons moet doen.
• Dit kan ons doen as die ATR voortbou op die kultuur verdraagsaamheid en ruimte vir mekaar wat die organisasie sedert sy ontstaan kenmerk. Ons moet begrip hê vir mekaar en vir die wêrelde waarin elkeen leef. Elkeen het ‘n rol.
• Die ATR moet ook voortgaan met sy rol as “Verhoudings ambassadeur” vir Afrikaans. Alhoewel minderhede moet veg vir dit wat meerderhede as vanselfsprekend beskou, moet die ATR probeer om met takt en diplomasie met die owerhede te skakel om begrip te kweek en verhoudings te bou. Die ATR moet die nodige kulturele ruimte help skep waarbinne sy lede organisasies hulle rolle kan speel.
• Die ATR kan ook die voortou neem met gesamentlike projekte wat groter vertroue onder die sprekers van ons taal skep.
• Klein suksesse moenie onderskat word nie, dit skep momentum vir groot dinge.

Laastens, dit is nie nou die tyd om klein verskilletjies op die spits te dryf nie. Ek glo dat ‘n  mens so groot is soos die “gevegte” wat jy veg. Daarom moet mens altyd na vrede strewe. Maar daar is sekere dinge in die lewe wat die moeite werd is om voor te veg. Afrikaans en sy sprekers is.

Flip Buys