Archive for October, 2009
Bydrae gelewer tydens Roots-konferensie by Universiteit van Wes-Kaapland, 22-23 September 2009
Prof WAM Carstens, Voorsitter Afrikaanse Taalraad (ATR) & Direkteur Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus
Dames en here
Dit is inderdaad in die hoogs gepolitiseerde omgewing van die nuwe SA nie heeltemal so maklik om te praat oor ‘n onderwerp soos “Die ont-politisering van Afrikaans” nie. As Afrikaans by hierdie onderwerp betrek word, word dan by implikasie gesê dat die gebruik van Afrikaans deur sommige mense reeds as ‘n politieke daad beskou word. Dit het onlangs duidelik na vore gekom in die staat se reaksie op mnr. Cerneels Lourens, ‘n prokureur van Brits in die Noordwes-Provinsie, se aansoek om die nasionale talewet ingestel te kry. Die direkteur-generaal van die nasionale Dept. Kuns en Kultuur het in sy hofstukke gesê dat die staat nie verkwalik kan word as Afrikaans nie dieselfde status as Engels het nie. Dr Danny Titus (2009) haal mnr. Wakashe soos volg hieroor aan:
Government has taken notice of the dominance of English, particularly in the business and scientific community, and has recognised that for the development of the people of the country it is in the best interest that English be used as one of the official languages for government purposes. The applicant is essentially seeking for government to elevate Afrikaans to the level of English even though Afrikaans has not been able to establish a wider usage by the business and scientific community. Government cannot be held responsible for the fact that Afrikaans has failed to achieve a status equivalent to that of English.
Dit is interessant dat dit die standpunt is van die regering wat nie sover wil gaan om die Nasionale Talewet ingestel te kry nie. Die punt is juis dat die nienakoming van die staat se grondwetlike verpligtinge – om naamlik ‘n konteks te skep waarin meertaligheid kan gedy en waarin tale in die land (ook Afrikaans!) gerespekteer en bevorder moet word – tot hierdie soort uitspraak lei. Dit is interessant dat Afrikaans hier by name genoem word en nie ook die Afrikatale nie, want dit is juis hierdie soort siening wat daartoe lei dat Afrikatale nie soos verwag is, weer groei nie.
Prof Ampie Coetzee (2009) het onlangs ook gesê dit kom vir hom voor asof die dood van Afrikaans voor hande is. Die reaksie was dat dit nie waar is nie en ook nie sal kan gebeur nie, want daar is dan grondwetlike waarborge vir tale. Die dilemma is dat die grondwetlike waarborge nie nagekom word nie, soos duidelik blyk uit talle hofsake sedert 1995 waarin Afrikaans en ook ander tale se taalregte geskend is. Ampie vra heel tereg hoekom moet daar elke keer hof toe gegaan word as ‘n reg vir Afrikaans opgeëis wil word?
Maar wanneer ‘n organisasie ‘n klag lê oor die ondermyning van Afrikaans, moet die klag hof toe gaan, en dan waarskynlik ook appèlhof toe. Wie betaal? Ons kla dan maar net. Ons oueres is ook klaar baklei: vanaf 1875 was dit opdraand vir die erkenning van Afrikaans.
Prof Vic Webb wys in ‘n vroeë artikel (1997: 227) daarop dat die taalsituasie in SA al lank gepolitiseerd is:
‘Dit geld veral vir Afrikaans wat onder die vorige bewind sterk bevoordeel is, en wel in so ‘n mate dat dit geassosieer is met apartheid en dat dit beskou is as taal van die onderdrukker.’
Die geskiedenis is hieroor ook duidelik en wys uit dat Afrikaans die stigma dra (gedra het?) van die onderdrukkende taal, en hiermee is ‘n mens pens en pootjies in die politiek van SA. ‘n Joernalis, J Rantoa, het in 2005 in die Cape Times gesê Afrikaans verdien geen spesiale behandeling nie:
“So, what is special about Afrikaans? Why is this language being treated as something special and accorded a status higher than the other 10 official languages of this country? The truth is that there is nothing special about Afrikaans. It is a language like any other. The only ‘special’ thing about it is that it was the official language of a racist regime which tried, unsuccessfully, to ram it down the throats of all South Africans. Other than this infamous historical significance, Afrikaans is not special and should be treated as such.”
Prof Christo van Rensburg het wel reeds in 1989 uitgewys dat ‘n taal nie die gevolge kan dra vir die foute van sy sprekers nie. ‘n Taal kies nie sy sprekers nie, maar die mense wat dit gebruik, kies dit omdat daar kommunikasie moet wees. Dit geld vir enige taal. Ampie Coetzee sluit weer hierby aan:
In Afrikaans is daar dinge gesê, en Afrikaners het dinge gedoen, in die verlede wat afskuwelik was. Maar dis nie Afrikaans die taal nie. Hoeveel keer moet dit gesê word? Ek is seker van die aggressie teen Afrikaans bestaan uit onkunde oor ‘n taal. As daar ideologieë ontstaan in ‘n spesifieke taal, is dit nie die taal self wat dit doen nie. Daar kan dus geen diskriminasie teen enige taal wees nie. As Afrikaans gesien is as die taal van die onderdrukker, dan is Engels, Duits, Frans, Russies ens ook die tale van onderdrukkers. Dít is ook al oor en oor gesê.
Miskien moet ons nou ‘n slag hierdie saak agter ons kry en aangaan met dit wat ons as sprekers van die taal met die taal wil doen in die post-1994 Suid-Afrika. Die gevaar is dat ons so verstrik kan raak in die verlede dat ons nie die moontlikhede van die toekoms eens begin ontgin nie. By ‘n onlangse konferensie oor sosiale samehorigheid op Stellenbosch (vgl. Venter 2009) het prof Russel Botman, rektor van US, gewaarsku teen die neiging om vas te val in die verlede omdat ons so vasgevang is tussen twee lande, te wete die land van die verlede en die land van die more. “Ons stry met die verlede en die toekoms. Ons hoor so baie van die land in die verlede, tog so min oor die land van more. Ons kan nie voortbeweeg as ons nie tussen dié lande vassit nie.” Tydens dieselfde geleentheid het dr. Mamphela Ramphele gesê dat ons wel op ‘n manier van die ‘psigologiese littekens’ van die verlede (bedoelende apartheid en die skade wat dit in die land en in menseverhoudinge veroorsaak het) ontslae behoort te raak en ons kan dit doen deur te praat oor die verlede – “Om oor dié spoke te praat, is ‘n essensiële stap om hulle te laat rus. Gesprekke is nodig.” Dit is ook die geval tydens hierdie Roots-konferensie. Op hierdie wyse begin ons die foute van die verlede verwerk en kan ons aanbeweeg sonder om regtig die verlede agter te laat.
In 2000 het ek by ‘n kongres in Berkeley in die VSA, voorgestel dat ons behoort te begin beweeg in die rigting van ‘n objektiewe geskiedenis van Afrikaans – ‘n geskiedenis waarin ons die volle verhaal van Afrikaans moet vertel (met sy vratjies en vrot kolle en al). Dit sal inhou dat ons ook gebeure in perspektief begin plaas en ook moet begin wegbeweeg van die persepsie dat Afrikaans ‘n verdrukkende taal is. Ons weet van Soweto 1976, maar die vraag is altyd of Afrikaans werklik die druppel was wat die spreekwoordelike emmer laat oorloop het? Toe ek by die bogenoemde kongres sê dat ons die volle verhaal van hierdie tragiese gebeure moet vertel, naamlik dat hoofsaaklik aspekte soos o.a. Bantoe-onderwys en die paswette (vgl. Steyn 1980, 2000; Pienaar 2004), ook daartoe bygedra het, is ek daarvan beskuldig dat ek politiek praat.
Hierbo is pas gesê – en dit is elders al by herhaling gesê – dat ‘n taal nie die skuld kan vat vir die foute van sommige van sy sprekers nie. Gerrit Brand het in ‘n meningstuk gesê dat daar ook onthou moet word dat nie alle ‘blankes skuldig was aan apartheid nie’ (Brand 2009). Die feit dat ‘n minister gesê het dat Afrikaans gebruik moet word as medium van onderrig in Soweto (Steyn 2000, Pienaar 2004), impliseer nie dat alle Afrikaanse sprekers so dink nie en dat alle Afrikaanse sprekers noodwendig onderdrukkers is nie. Dit was wel die vonk wat die politieke kruitvat laat ontplof het en die geskiedenis wys wat die uitkoms van die hele proses was. Die woede was toe gemik teen die wit sprekerskorps van Afrikaans. Daar was dus kollektiewe woede teenoor alle wit mense wat Afrikaans praat (Brand 2009). Afrikaans is wel ook gebruik om SA te bevry – die geskiedenis wys dit ook uit (vgl. ook Steyn 1980, Brand 2009). Ronel van Oort, ‘n doktorale student van my, het onlangs ‘n studie hieroor voltooi, ‘n studie oor die verdelende, maar ook gedeelde verlede van Afrikaans en hoe ons te werk kan gaan om nou na die toekoms te begin kyk. Oor hierdie studie is ek opgewonde, want hierin kry ons ‘n aanduiding van hoe ons vorentoe kan gaan.
Wat probeer ek dus vir u sê? Ek sê dat Afrikaans se verlede nie altyd ewewigtig geoordeel word nie en dat ou koeie nog konstant uit die sloot gehaal sal word (vgl. Carstens 1994), soos in die woorde van Rantoa en van mnr. Wakashe hier bo. Die tyd is waarskynlik nou ryp om hierdie verlede agter ons te begin sit sodat ons kan aangaan om te besin oor Afrikaans se rol in die SA van 2009, oor die Afrikaans van 2059, soos in die studie van Ronel van Oort (2008) uiteengesit .
Ek wil daarom vir die res van my spreekbeurt kortliks verslag doen oor ‘n proses waarby ek betrokke is en wat ten doel het ‘n inklusiewe Afrikaans, ‘n Afrikaans wat verteenwoordigend is van sy volle sprekerskorps. Hierdie proses, wat bekend staan as ‘n Nasionale Strategie vir Afrikaans, het ‘n aanvang geneem in September 2003 en nou, meer as ses jaar later, kan met vrymoedigheid gesê word dat daar reeds ver op hierdie pad gevorder is. Ons is natuurlik nog nie daar dat ons kan sê hierdie beweging betrek die volle sprekersgemeenskap van Afrikaans nie, maar daar is goeie vordering in daardie verband. Eers as die regses van ons tyd spontaan hierby betrokke raak en glo aan ons doelwitte en meewerk aan die waarmaak van ons strewes, kan ons praat van ware versoening.
Dr. Christa van Louw het in September 2003 tydens ‘n FAK-simposium in Pretoria gesê dat so ‘n nasionale strategie kan dien as instrument van versoening in die histories verskeurde Afrikaanse gemeenskap. Dit moes nie net ‘n strewe bly om Afrikaans te bevorder nie, maar dit moes ‘n strewe word wat die Afrikaanse gemeenskap sou saamsnoer om die ideaal van ‘n waarlik inklusiewe liggaam wat Afrikaans se belang die beste sou dien (die hele proses sedert 2003 is deeglik opgeteken in ‘n reeks boeke onder redaksie van Karel Prinsloo – vgl. Prinsloo (red.) 2004, 2006a, 2006b, 2008a, 2008b). Die proses is vorentoe geneem deur ‘n Voortsettings¬komitee, wat in die loop van 2004 die historiese Eerste Nasionale Afrikaanse Taalberaad (in Augustus 2004) op Stellenbosch gereël het. Die vertrekpunt vir die beraad was ‘n taalbestekopname (algemeen bekend as die taaloudit) wat gegewens versamel het oor Afrikaans se sterk en swak punte en aan die hand waarvan gepraat en besin is.
Die beraad self was ‘n sukses, maar dit was duidelik dat die verlede nog nie begrawe was nie toe daar wrywing ontstaan het aan die einde, en dit was tussen wit en bruin. Agterna beskou, was dit waarskynlik die keerpunt in die proses wat ons gebring het tot waar ons vandag met die Afrikaanse Taalraad (ATR) is. Daar is hard met mekaar gepraat en dit was duidelik dat daar agter die skerms hard gewerk sou moes word om verskille uit die weg te ruim (vgl. Carstens 2006).
Ek kan self getuig van ‘n uiters openbarende gesprek met Christa van Louw in November 2004 wat aan die een kant my eie skromelike onkunde oor die gevolge van apartheid openbaar het en my beskaamd gelaat het oor die aandeel wat ek daaraan gehad het, maar ook gehelp het om mekaar reguit in die oë te kyk. Ek moes leer om te luister en dit was die boodskap wat ek kon uitdra: kom ons praat oor die verlede en probeer sodoende mekaar verstaan deur te luister na standpunte en wrewel. So bou ons op individuele vlak ook versoening en hiervandaan kan dit uitsprei na ander, na die wyer gemeenskap (Brand 2009). Dit sluit aan by dr. Ramphele se siening dat ons moet volhou om oor die spoke te praat, want dit is reeds ‘n belangrike stap om hulle te laat rus.
Twee jaar lank het ons hard gewerk om die klowe te oorbrug en ‘n mens kan waarskynlik sê dat daar met die aanbied van die Tweede Nasionale Afrikaanse Taalberaad (in Februarie 2007) in Pretoria al ‘n mate van versoening plaasgevind het. In hierdie proses is ‘n taalplan opgestel wat as riglyn gedien het vir die bestuur van die proses. Uit die taalplan het die interimliggaam, die Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA), ontwikkel wat die proses bestuur het tot en met die uiteindelike stigting van die ATR in Mei 2008 in Wellington.
Die ATR het pas in Augustus 2009 sy eerste algemene jaarvergadering in Pretoria gehou en daar kan gerapporteer word dat die ATR stewig op koers is om die taak te verrig wat aan hom opgedra is deur meer as 40 Afrikaanse organisasies – word ‘n liggaam wat die volle Afrikaanse sprekersgemeenskap verteenwoordig en praat dan namens die versoende Afrikaanse gemeenskap. Op die laaste bestuurs¬vergadering van die ATR is indringend besin oor hoe ons as liggaam die versoening sigbaar gestalte kan gee en ek kan vandag berig dat ons op positiewe stappe in hierdie verband besluit het. Ons glo dit sal help om politieke grense te help oorbrug en die fondament van versoening te bou. Ons hoop dat deur ons beskeie bydrae daar ‘n heelmaakproses sal deurloop. Ons kan nie en gaan ook nie vergeet wat in die verlede skeefgeloop het nie – soos prof Nico Botha, teoloog van UNISA, sê (Botha 2009): ons moet nie toegee aan die versoeking om óf net in die verlede te leef óf net na die toekoms te kyk nie. Die vraag is hóé ons die verlede onthou sodat ons dit as basis kan gebruik vir ‘n toekomsvisie. Ons moet dus waak teen verknegtende herinnering en eerder fokus op verlossende herinnering. Dit het die potensiaal om mense te bevry en te verander “as hulle begin onthou wie hulle eintlik met mekaar en vir mekaar kan wees in Suid-Afrika”.
Ek het vandag aan u iets probeer vertel van die hartseer verlede van Afrikaans, van die stigma wat steeds daar lê, maar ek het ook vertel van wat ons as ATR gaan doen om seker te maak dat daar werklik versoening in eie geledere plaasvind. Ek dink ons doen goed vir die kort tyd van ons bestaan, en ek is seker u sal dalk ook so dink na wat ek vandag oorgedra het. Die verlede sal altyd met ons wees en ons sal moet leer om dit te hanteer. My pleidooi namens die ATR is dat ons nie noodwendig die onregte moet vergeet nie (ons kan en durf ook nie, want dit het ons verdeel as taalgemeenskap), maar die ATR glo ook dat ons ook vorentoe moet kyk en gefokus moet bly op ons rol in die SA van vandag, en die SA van 100 jaar vorentoe. Ons moet aan Ampie Coetzee bewys dat hy verkeerd is dat die einde van Afrikaans in sig is en dat dit moontlik is om in Nico Koopman (2009) se woorde ‘n waarlik “transformerende Afrikaans” tot stand te bring. Kom ons lééf dus die politiek reg! Kom ons maak ‘n bydrae om die Afrikaanse taalgemeenskap weer heel te maak.
Flip Buys het by geleentheid gesê:
“Die Afrikaanse gemeenskap moet verantwoordelik¬heid aanvaar vir sy eie toekoms en self aktief daaraan begin werk. Nie in isolasie nie, maar saam met geleentheids-vennote waar nodig en waar moontlik. Dit help nie om aan ‘n afhanklikheids- of onttrekking¬sindroom te ly nie. Die verlede gaan nie terugkom nie, die hede gaan nie weggaan nie en die toekoms laat nie op hom wag nie.”
Daar wag dus werk op ons. Die ATR pak hierdie uitdaging moet erns en met oortuiging aan en ons kom vra die lede van die Afrikaanse gemeenskap en ook die buitelandse verteenwoordigers wat hier aanwesig is, om dit saam met ons te kom doen.
Dankie!
Geraadpleegde bronne
- Botha, N 2009. “Om weer heel te maak.” Beeld, 28/09/2009, bl. 12.
- Brand, G 2009. “Het verzoeningsdiscours in Zuid-Afrika.” http://www.litnet.co.za Onttrek 07/09/2009.
- Carstens, WAM 1994. Om ou koeie uit die sloot te grawe: is daar lesse te leer uit die verlede? – Enkele kantaantekeninge. Literator 15(2): 16-33.
- Carstens, WAM 2006. Die breë Afrikaanse debat (1994-2005): enkele temas en inisiatiewe. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 48(2). Supplement Moedertaalonderrig]
- Coetzee, A 2009. Minderheidstale – verdwynende take. Die gedagtes van ‘n bittereinder. http://www.litnet.co.za Onttrek 15/05/2009
- Du Plessis, H & LT du Plessis (reds.) 1987. Afrikaans en Taalpolitiek: 15 Opstelle. Pretoria: HAUM-Opvoedkundige Uitgewery.
- Giliomee, HB & L Schlemmer (reds.) 2001. Kruispad. Die toekoms van Afrikaans as openbare taal. Kaapstad: Tafelberg.
- Koopman, N 2009. Transformerende Afrikaans. Die 3de Mathews Phosa-lesing by die Afrikaanse Taalmuseum, 12 Augustus 2009.
- Pienaar, L 2004. “Die Soweto-onluste van 16 Junie 1976 en die gevolge daarvan vir Afrikaans”, in: Van Rensburg, FIJ (red.) 2004. Afrikaans – lewende taal van miljoene. Pretoria: Van Schaik. (bl. 133-141)
- Prinsloo, Karel (Projekleier) 2004. Verslag van ‘n taaloudit oor Afrikaanse taalprojekte, verenigings en energieë, 2004. Verslag gereproduseer deur Rapport en versprei tydens die Afrikaanse Taalberaad in Stellenbosch, 25-27 Augustus 2004.
- Prinsloo, Karel (red.) 2006a. Op pad na ‘n Taalstrategie vir Afrikaans. Verslag gereproduseer deur Content Solutions en versprei deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, Maart 2006.
- Prinsloo, Karel 2006b. “Towards a language strategy for Afrikaans: the process before, during and after the Afrikaans Language Indaba of 2004 in Stellenbosch”, in: Webb, Vic & Theodorus du Plessis (eds) The politics of language in South Africa. Pretoria: Van Schaik.
- Prinsloo, Karel (Projekleier) 2007. Opname oor Afrikaanse projekte en aktiwiteite op ‘n plaaslike munisipale vlak in Suid-Afrika, 2006. Ongepubliseerde navorsingsverslag versprei by die Tweede Afrikaanse Taalberaad, gehou in Pretoria op 23 en 24 Februarie 2007.
- Prinsloo, Karel (red.) 2008a. Die Afrikaanse “ons’’ en die nodigheid van ‘n Afrikaanse Taalraad. Verslag gereproduseer deur CRINK en versprei deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, April 2008.
- Prinsloo, Karel (red.) 2008b. Die Afrikaanse Taalraad kom tot stand. Verslag gereproduseer deur CRINK en versprei deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, November 2008.
- Rantoa, J 2005. “Government should do away with Afrikaans medium schools.” Cape Argus, 23/02/2005.
- Steyn, JC. 1980. Tuiste in eie taal. Die behoud en bestaan van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg.
- Steyn, JC 2000. “As jy op my liddoring trap, gaat ek jou slaat, vir ou goete ook.” Beeld, 16/06/2000, p. 11.
- Titus, D 2009. Reaksie op Nico Koopman se “Transformerende Afrikaans”. http://www.litnet.co.za Onttrek 18/09/2009
- Van Oort, CP 2008. Die ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans: ‘n inklusiewe perspektief en implementering in ‘n lesreeks.
- Ongepubliseerde Ph.D.-proefskrif. Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus.
- Van Rensburg, FIJ (red.) 2004. Afrikaans – lewende taal van miljoene. Pretoria: Van Schaik.
- Van Rensburg, MCJ 1989. Oor die depolitisering van Afrikaans: vertrekpunte vir ‘n gesprek. Tydskrif vir Letterkunde XXVII (2): 42-47. Mei 1989.
- Van Rensburg, MCJ 1992. “Die demokratisering van Afrikaans”, in: Webb, VN (red.) 1992. Afrikaans ná Apartheid. Pretoria: JL van Schaik. (bl. 181-199)
- Van Rensburg, MCJ 1999. “Afrikaans and Apartheid.” International Journal for the Sociology of Language 136.
- Van Rensburg, MCJ e.a. 1997. Afrikaans in Afrika. Pretoria: JL van Schaik.
- Venter, M 2009. “Laat die spoke nou met rus.” Die Burger, 18/09/2009, bl. 13.
- Webb, VN (red.) 1992. Afrikaans ná Apartheid. Pretoria: JL van Schaik.
- Webb, VN 1997. “Afrikaans in een democratiserend Zuid-Afrika.” Ons Erfdeel 40(2): 225-236.
- Webb, VN 2001. “Die bevordering van Afrikaans”, in: Carstens, A & H Grebe (reds.) 2001. Taallandskap. Pretoria: JL van Schaik. (bl. 164-176)
29/09/2009
Prof WAM Carstens, Voorsitter ATR
Gelewer te Performerteater, Pretoria
Dames en Here
Dit is met groot genoeë dat ek hierdie eerste voorsittersrede van die ATR lewer. Dit is meer as 14 maande sedert ons stigting in Wellington en ek doen verslag oor die verloop van die proses wat opgebou het daartoe en ook tot die proses wat gelei tot waar ons vandag is.
Die Afrikaanse Taalraad (ATR) is na afloop van ‘n lang konsultatiewe proses op 24 Mei 2008 in Wellington gestig. Dit was ‘n historiese dag vir Afrikaans omdat dit die waarmaak van ‘n gesamentlike strewe verteenwoordig het: die totstand¬koming van ‘n liggaam wat ten doel het om koördinerend, netwerk-skeppend, inklusief, bemagtigend en versoenend op te tree in die belang van die totale Afrikaanse taalgemeenskap. Hierdie liggaam het nie ‘sommer net’ ontstaan nie, maar dit was die resultaat van harde werk (reeds sedert 2003) om ‘n gedeelde ideaal vir die Afrikaanse taalgemeenskap waar te maak – die totstandkoming van ‘n gekonsolideerde en inklusiewe stem wat namens Afrikaans kan praat.
Fases wat die stigting van die ATR voorafgegaan het, is die sg. Voortsettingskomitee wat tot stand gekom het na afloop van ‘n FAK-byeenkoms in September 2003 in Pretoria, die aanbied van die Eerste Nasionale Afrikaanse Taalberaad in Augustus 2004 op Stellenbosch, die miniberaad wat in Februarie 2005 in Johannesburg aangebied is en waartydens ‘n taalplan vir Afrikaans goedgekeur is, die vorming van die Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA) wat die proses sedert Maart 2005 tot Mei 2008 bestuur het, die aanbied van die Tweede Nasionale Afrikaanse Taalberaad in Februarie 2007 in Pretoria, die goedkeur van die idee dat ‘n oorkoepelende taalliggaam vir Afrikaans tot stand moet kom, die konsultatiewe gesprekke hieroor in die loop van twee jaar, registrasie by die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Kulturele, Religieuse en Linguistiese Gemeenskappe (die sg. art. 185-kommissie) en uiteindelik dan die stigting van die ATR in Mei 2008.
Sedertdien is die statuut van die ATR gefinaliseer, is talle projekte aangepak, is besondere moeite gedoen om die infrastruktuur van die ATR gevestig te kry, is ‘n eie logo geskep, ‘n eie webblad (www.afrikaansetaalraad.co.za) gevestig, fondse gesoek om die koördineringsrol te vertolk.
Die vraag mag wees wat die resep vir die mate van sukses van die ATR tot op hede is. Belangrike merkers op hierdie pad is:
- Die besef dat ons met ’n proses besig is wat gaan tyd neem. Die produk volg mettertyd, maar slegs as die proses reg verloop.
- Die geduld om die proses kans te gee om te ontwikkel.
- Die bereidwilligheid om baie hard te werk (veral ágter die skerms’).
- ‘n Gesamentlike visie op die toekoms: eenheid onder die Afrikaanse taalgemeenskap.
- Die geloof in die taal se bestaansreg.
- Die geloof dat die Afrikaanse taalgemeenskap die vermoë het om homself te organiseer.
- Toewyding tot en ‘n strewe na versoening binne die totale Afrikaanse gemeenskap.
- Toewyding tot en ‘n strewe na inklusiwiteit binne die Afrikaanse gemeenskap.
- Onderlinge vertroue op ‘n persoonlike vlak onder die leiers.
- Die los van die eie ego by die huis en die aanvaarding dat daar terugslae kan (en gaan!) wees – ons werk in so ‘n geval dan net harder om daarby verby te kom.
- Konsultasie met belanghebbendes van die begin af. Gesprek bou brûe en voed verhoudings en vertroue.
- Die kommunikeer van die verloop van die proses onder belanghebbendes, via e-pos, fakse, gesprekke, berade, ens.
- Die deel van mekaar se suksesse en mislukkings – in die geheel: leer by mekaar.
- Die bereidwilligheid om aanpassings te maak soos die proses vorder, en die besef dat daar moet by tye selfs kompromisse aangegaan moet word.
- Die benut van die grondwetlike geleenthede en strukture waar nodig om die proses stukrag te gee (PanSAT en die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Kulturele, Religieuse en Linguistiese Gemeenskappe (die sg. art. 185-kommissie).
- Die samewerking met die breë burgerlike gemeenskap – in wese in ‘n vennootskap.
- Die benut van die infrastruktuur van bestaande organisasies om take gedoen te kry. Die FAK het die sekretariële funksie vir die aanvangstyd (2003-2006) onderneem en sedertdien (2006 – tans) word hierdie onontbeerlike taak verrig deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. In die toekoms sal ‘n ander Afrikaanse instansie weer daarvoor kan instaan. Dit beteken dat skaars fondse dan nie gebruik word vir ‘n kantoor nie, maar vir dit waarvoor dit werklik nodig is.
Die vraag is waarskynlik nou wat die ATR alles ten doel het en wat sy vertrekpunte is:
- Die ATR het die geleenthede wat die SA Grondwet vir die ontwikkeling en bevordering van tale bied, benut om tot stand te kom. Wetgewing rakende PanSAT en die Art. 185-kommissie is hiervoor ingespan. Die Grondwet van Suid-Afrika maak dit naamlik vir elke taal in die land moontlik om ’n belangeraad vir daardie taal te laat registreer en uiteindelik te akkrediteer by die Kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe (Art. 185). Die belangeraad behoort op ’n konstruktiewe manier na die ontwikkelings- en spesifieke behoeftes van al sy sprekers te kan omsien en deur netwerking en samewerking doelgerig inhoud gee aan die ontwikkeling van ’n self-onderhoudende, geïntegreerde en waardetoevoegende gemeenskap. Dis wel duidelik dat beide hierdie liggame uiters gebrekkig funksioneer en dat hulle slegs middele tot ‘n doel was.
- Burgerlike organisasies het in vennootskap getree met liggame wat grondwetlike bestaansreg het (soos die NTLA – ‘n PanSAT-liggaam) om die proses te dryf. Dis nie die een of die ander nie, maar altwee saam wat van belang is.
- Die werklikheid is dat die SA regering tans nie daarop ingestel is om Afrikaans (soos ook die SA swart tale) te bevorder nie en dat hierdie gemeenskappe dit self sal moet doen. Dis dan inderdaad ook wat ons doen: ons koördineer en organiseer ons op so ‘n wyse dat ons Afrikaans kan bevorder.
- Die ATR het Afrikaans en sy sprekers as primêre vertrekpunt.
- Die ATR glo daar is ook vir Afrikaans plek in die nuwe SA, soos ook die geval is met die ander SA tale.
- Die ATR tree netwerkskeppend en koördinerend rakende projekte en aktiwiteite op.
- Die ATR wil in die lig hiervan glad nie die taak van geassosieerde organisasies oorneem nie, maar eerder die aktiwiteite en funksie van hierdie organisasies so koördineer dat die potensiaal van die organisasies in die beste belang van Afrikaans ontgin word.
- Op hierdie wyse wil die ATR help om die mense- en finansiële kapitaal beskikbaar in die Afrikaanse gemeenskap optimaal in die belang van Afrikaans te benut. Daar is heelwat kundigheid, welwillendheid, entoesiasme, passie, geesdrif en energie wat reeds bestaan en net beter aangewend moet word. Dit neem tyd, maar dit moet gedoen word. Dit is hoekom ons die oudit doen: om te sien wat daar is sodat ons dit kan gebruik in die belang van Afrikaans en die sprekers van die taal.
- Die ATR wil deure vir Afrikaans (en by implikasie ook vir ander tale) by die regering oopmaak. Dis ‘n moeisame proses, maar ons werk hard hieraan.
- Die ATR wil nie konfronterend optree nie, maar wil eerder op ‘n konstruktiewe wyse ‘n bydrae maak tot die SA gemeenskap. Konfrontasie lewer nie altyd die beplande dividende op nie en daarom word die sagter roete van samewerking en oorreding (selfs ‘agter die skerms’) gevolg.
- Die ATR tree graag op as ‘n rolmodel vir ander SA gemeenskappe. Ons neem ons saak in ons eie hande en ons bepaal daardeur wat van ons gaan word. Ander gemeenskappe kan hierdie voorbeeld navolg. As ons in die proses van werk vir die doelwitte wat ons nastreef, ook ander tale kan bevoordeel, dan doen ons dit met graagte.
Hierdie aspekte word in meer besonderhede in ons statuut uiteengesit wat ek vertrou later vandag aanvaar sal word.
Iemand het onlangs gevra: Wat is die grootste sukses van die ATR tot dusver?
Dit is waarskynlik die feit dat ons tot stand kon kom ten spyte van wat geassosieer is met Afrikaans se verlede. Die ATR is die resultaat van ‘n versoeningsproses, van ‘n proses waar ons met mekaar gepraat het (indringend gekonsulteer het) oor die verlede en hoe ons ten spyte daarvan nog steeds Afrikaans kan dien. Ons praat steeds gereeld hieroor en ons hoop om in die afsienbare toekoms op ‘n meer simboliese wyse gesamentlik as gemeenskap, ongeag ons verskeurde en verdelende verlede, vorentoe te gaan.
Ons het van die begin af besef dat ons stadig moet werk en dat ons as liggaam nie kan funksioneer sonder die steun van die totale Afrikaanse gemeenskap nie. Daarom volg ons dr Neville Alexander se raad (tydens die Eerste nasionale Afrikaanse Taalberaad van Augustus 2004 op Stellenbosch): ‘gaan voetjie vir voetjie vorentoe, en wees soms bereid om selfs ‘n tree terug te gee’. Dit is nie ‘n maklike pad nie, maar dié benadering waarborg groter sukses op die langer termyn.
Dit is wel reeds meer as ‘n jaar gelede dat die ATR gestig is (in Mei 2008) en wat het ons reggekry in hierdie tyd? Kort ná die stigtingsbesluit in Wellington is die lede van die nuwe bestuur opdrag gegee om die volgende jaar te gebruik om die ATR te vestig en in hierdie proses ook die statuut / grondwet te finaliseer. Wat het ons sedertdien gedoen? Het ons hierdie opdrag uitgevoer?
- Ons het lank geneem om tot stand te kom en moet nou ook tyd neem om ons behoorlik gevestig te kry. Dit doen ons met oordeel.
- Ons het besef ons kan nie net indons en dinge oorhaastig doen nie – ons moes eers ons strukture vestig.
- Die bestuur moes as funksionerende eenheid gevestig word. Ons bestuur via subkomitees om die werk gedoen te kry: ‘n dagbestuur vir die hanteer van daaglikse sake; kundige komitees, soos ‘n grondwetkomitee, navorsingskomitee, bemarkingskomitee, onderwyskomitee, taalregtekomitee, finansiële komitee, ens.
- Ons maak gebruik van bestaande strukture om ons werk gedoen te kry. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns lewer nog steeds ons administratiewe steun.
- Ons het begin om ons eie identiteit te vestig: ‘n eie webblad (www.afrikaansetaalraad.co.za), ‘n eie logo en slagspreuk Bemagtig, bevorder, beskerm). Ons werk aan ‘n nuusbrief wat maandeliks versprei moet word.
- Ons moet ons profiel gevestig kry. Dit doen ons via ‘n goed beplande mediaveldtog: radioprogramme, televisiegesprekke waar moontlik, berigte in koerante. Daar is egter nog werk hier te doen.
- Ons moet ons statuur verseker sodat mense en organisasies ons kan vertrou. Ons herkoms en stigtingsproses maak dit moontlik. Ons wil verseker dat ons aanvaar word as dié liggaam vir Afrikaans.
- Ons moet ons statuut, aan die hand waarvan ons binne ‘n wetlike raamwerk funksioneer, finaliseer en goedgekeur kry. Dit word hopelik vandag waar omdat dit die raamwerk sal wees aan die hand waarvan ons funksioneer.
- Ons moet strategies besin oor waar ons die grootste impak kan maak. Dit het ons reeds vier keer gedoen. En ons sal dit nog heelwat meer kere moet doen.
- Ons het duidelike projekte geïdentifiseer. Ons begin beskeie, maar bou stadigaan op tot meer.
- Ons het kort voor lank begryp dat om die werk gedoen te kry en die nodige koördinering te kan doen, sal ons ‘n voltydse uitvoerende beampte moet kry. Ons het dr. Dione Prinsloo, afgetrede dosent in Geskiedenis aan UNISA, aangestel om vir die tydperk April tot Augustus 2009 hierdie taak op ‘n tussentydse basis vir ons te verrig. Dit sal wel ‘n permanente pos moet word met ‘n toegewyde persoon om die werk ten uitvoer te bring. Idealergewys moet ons drie persone kan aanstel – een vir die suidelike deel van ons land, een vir die noordelike deel van ons land en een persoon om ons belange in Europa te hanteer.
- Dis vir ons duidelik dat ons NIE ander Afrikaanse organisasies se take en funksies durf (eers probeer) oorneem nie omdat elkeen ‘n eie taak, funksie en nisarea het. Ons as ATR moet bloot koördineer en steun en dit kan net ’n voltydse persoon/persone doen.
- Ons moet fondse bekom om ons basiese take te kan uitvoer. Dis nie ‘n maklike taak in ‘n swak ekonomiese tyd nie. Ons het letterlik mense nodig om pannekoek te bak en te verkoop en sodoende fondse vir die ATR in te samel!
- In ‘n poging om fondse te bekom, is besluit om die deure vir Afrikaans in die Lae Lande te probeer oopmaak. ‘n Aantal van ons het op 19 Mei vanjaar ‘n eendagkonferensie oor Afrikaans in Antwerpen bygewoon. Die organisasie hiervan is grootliks gehanteer deur die kantoor van mnr. Ludo Helsen, ‘n welwillende Vlaamse politikus van die Provinsie Antwerpen, en mev. Ingrid Scholtz, wat tans Solidariteit se verteenwoordiger in Europa is, maar volgens ooreenkoms ook take vir die ATR verrig. (Ons het hier ook te doen met ‘n perfekte voorbeeld van samewerking tussen liggame. Ons dank aan Solidariteit vir hierdie gebaar!) Ek kan persoonlik getuig dat mev. Scholtz van groot strategiese waarde vir ons is en ons sal in die toekoms meer in haar moet belê. Die finansiële deure het weliswaar nog nie vir ons oopgegaan nie, maar ons het belangrike kontakte gesluit waarop ons vorentoe kan bou. Daar is dus nog werk, maar ons het reeds begin daarmee en dit lyk belowend.
Wat lê nog vir ons voor?
Daar is nog baie werk te doen. Ons moet bereid wees om dit te doen. Hiervoor is werkers (organisasies en individue) nodig. Ons vra hierdie werkers se tyd, energie, entoesiasme, geld, geduld en kundigheid.
- Ons moet mekaar se strukture en netwerke deel waar ons kan. Saam is ons beter!
- Ons moet Afrikaanse organisasies wat nog nie die ATR betrokke is nie, nader en seker maak dat ons ander aan mekaar beweeg. Daar is byvoorbeeld tans min organisasies waarby bruin sprekers van Afrikaans betrokke is, by ons geaffilieer. Dit is ‘n onmiddellike prioriteit om dit reg te stel.
- Ons moet die onderlinge samewerking van Afrikaanse organisasies verder aanmoedig en selfs fasiliteer. Ons kan by mekaar leer. Hoe kan byvoorbeeld die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en ander organisasies (soos die SBA, die Vereniging vir Regslui vir Afrikaans, FAK, e.a.) verder saamwerk? Hoe kan die kundigheid van die Vereniging vir Regslui vir Afrikaans (VRA) ingespan word om die ATR by te staan om taalregteskendings te hanteer? Hoe kan die strukture van die Rapportryersbeweging, die Afrikanerbond, Dames Aktueel, die Skrywerskring, die Voortrekkerbeweging byvoorbeeld ingespan word om die SBA op grondvlak met geletterdheids- en bemagtigingsprojekte in die platteland te help?
- Ons moet die Afrikaanse taalgemeenskap mobiliseer rondom gesamentlike projekte, soos byvoorbeeld die Lees om te leer-projek wat ons tans dryf met die steun van die SBA, Vriende vir Afrikaans, die ATKV, die SA Akademie, die Taalmuseum, die Wes-Kaapse Taalkomitee, die Woordfeeskomitee van US, ens. Sake soos geletterdheid, bemagtiging, onderwys (oor die hele spektrum), taalregteskendings, opleiding, ens. is sake van onmiddellike belang.
- Ons moet mekaar se terreine respekteer en mekaar die ruimte gun om elke organisasie se doelstellings en nisse uit te leef. So beywer die ATR hom vir Afrikaans as taal, die SBA hom vir bemagtiging, Afriforum en Solidariteit hulle vir die regte van vakbondlede, die ATKV hom vir kultuurbevordering in die breë, die VRA hom vir Afrikaans se posisie in die regswêreld, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns hom vir Afrikaans as hoëfunksietaal in die wetenskap, die Afrikanerbond hom vir die regte van Afrikaanssprekendes, die Afrikaanse Taalmuseum hom vir die bewaar van Afrikaans se geskiedenis, die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) hom vir die opteken van Afrikaans se omvattende woordeskat, ens. ens. Kom ons hou dit so, maar kom ons werk saam waar ons kan.
- Ons moet ons onderlinge kommunikasie tussen organisasies verder verbeter sodat ons by mekaar kan hoor oor suksesse en foute. Ons het waarskynlik ‘n skakelbeampte hiervoor nodig. Elke organisasie is waarskynlik nog te veel op sy ‘eie ding’ ingestel’.
? Ons gaan volhou om aan te dring op Afrikaans se regte as taal in SA. In hierdie verband probeer ons ‘n afspraak by die minister van Kuns en Kultuur kry om ons saak te stel en te vra vir die implementeer van die Nasionale Talewet in SA. Ons is ook op pad om die minister van Hoër Onderwys hieroor te gaan sien. Ons beskou dit alles as deel van die oplossing vir die status van tale en die opeis van die regte van tale. - Ons kan dit nie bekostig om moedeloos te word in die lig van soveel gebreke in SA nie. Dit het ook betrekking op gebreke rakende taalsake, soos die nie-implementeer van die Nasionale Talewet. Ons moet aanhoudend klop om hierdie deur oop te maak in die belang van AL die tale in die land.
- Ons moet ons beywer dat organisasies dalk weer na hulle missie, visie, funksies en doelstellings kyk. Is dit nie dalk tyd dat van die organisasies saamsmelt nie? En sodoende minder en sterker word?
- As leiers van die Afrikaanse taalgemeenskap moet ons hoop gee aan die lede van die Afrikaanse gemeenskap. Ons kan dit nie doen deur die hele tyd te kla en te wroeg nie. Ons moet begin saam-doen. Ons moet positief wees. En dit moet ons doen deur dit wat ons bind (Afrikaans en die strukture wat dit ondersteun) – kom ons deel mekaar se energieë, entoesiasme, passie, kragte, strukture en kundigheid. Daar word van ons leierskap gevra en dit doen ons deur die regte voorbeeld te stel.
- Die ATR glo dat ons deur ons unieke bydrae ook ‘n bydrae kan lewer tot die oplos van die talle probleme in SA.
U wonder seker ook: Gaan die regering/magshebbers ooit luister na die ATR?
Ons vertrou so! Die Afrikaanse gemeenskap het ons in wese die reg gegee (deur die omvang en verloop van ons stigtingsproses) om as stem vir Afrikaans op te tree daar waar Afrikaans se belange geraak word en ons gaan hierdie mandaat gebruik. Ons is tans betrokke by die proses (saam met prokureur CJ Lourens van Brits wat die staat gedagvaar het) om die Nasionale Talewet aanvaar te kry. Ons reël ook tans vir afsprake met die ministers van Kuns en Kultuur asook van Hoër Onderwys om ons standpunte oor taalsake te stel.
Dus: as ek terugkyk, sien ek ‘n liggaam wat uit ‘n idee (dr Christa van Louw se “‘n nasionale strategie vir Afrikaans”) ontstaan het, wat gegroei het rondom hierdie idee, wat ‘n ooreengekome plan ontwikkel het aan die hand waarvan bestuur is en wat uiteindelik uitgeloop op die struktuur wat vandag bekend staan as die ATR. Of hierdie struktuur uiteindelik die verskil gaan maak wat ons graag wil, sal die geskiedenis oor oordeel. Ek kan u wel die versekering gee dat ons nie gaan toelaat dat ons harde werk tot niet gaan nie. Kom werk daarom saam met ons aan hierdie droom vir Afrikaans.
Baie dankie!
Daar is teen dié tyd gelukkig seker nie meer Afrikaanssprekendes wat nog regeringsbeloftes oor Afrikaans glo nie. Almal het hopelik darem nou al agtergekom dat mooi grondwetlike bepalings, hogere politieke gerusstellings, belangrike kommissies van ondersoek, en ‘n klompie kopknikkende Afrikaanse meelopers maar net soos die Wolf is wat die skaap met mooi (Afrikaanse) woorde vir aandete genooi het.
Dit is maar goed so, want dan kan ons aan oplossings begin werk. Ons is nou al lank genoeg lamgelê deur al die goedgelowiges, goeie bedoelers en skynheilige grondwetlike lippediens. Ongelukkig het ons in die proses baie tyd verloor, waartydens Afrikaans se ruimtes seker al met meer as 50% gekrimp het.
Daarom moet prakties uitvoerbare planne nou baie vinnig gemaak en nog vinniger uitgevoer word, voordat meer Afrikaans in Australië as hier plaaslik gepraat word. Daarom sal ek graag ‘n debat oor ‘n Taalplan vir Afrikaans wil afskop deur ‘n breë raamwerk vir die bevordering van Afrikaans voor te stel. Daarna sal ek kortliks oor die rol van die ATR in die bevordering van Afrikaans iets wil sê.
My uitgangspunt is dat ‘n tweede Afrikaanse Renaissance wel moontlik is, maar dat dit nie spontaan gaan gebeur nie. In die ou tyd was die spreekwoord “’n Boer maak ‘n plan”. Die onderliggende aanname was dat die staatsdiens daarna die plan sou uitvoer, en dit sou befonds met die belastingbetaler se geld. Deesdae is sake bietjie meer ingewikkeld. Die “Boer” sal nou – saam met ál die ander sprekers van Afrikaans, baie planne moet maak (een is nie meer genoeg nie), en ons sal dit dan met Selfdoeninstellings moet uitvoer met geld wat ons eers bymekaar sal moet maak. Moeilik, maar moontlik. Die belangrikste is om dit net te begin, en dan net aan te hou.
In die proses moet ons nie te klein dink en te klein doen nie. Die planne moet groter as die probleem wees, anders sal dit nie werk nie. Ons moet globaal dink, en lokaal doen, maar ook lokaal dink, en globaal doen. Ons moet weer ons taalbande met ons vriende in Nederland en Vlaandere uitbou. Die AfriNetwerk skakelkantoor in Europa kry werklik ‘n baie groot belangstelling in Afrikaans by die Nederlandse taalgemeenskap. Daarmee saam moet ons ook na maniere kyk hoe die Afrikaanse diaspora in ons planne betrek kan word.
Ek wil begin deur eerstens ‘n breë raamwerk voor te hou van die verskillende gebiede waarop Afrikaans bevorder moet word. Ek vertrou dat u in die lig van die tydsbeperking daarvoor begrip sal hê as ek dit kernagtig en in telegramstyl (sms styl?) doen. Ons kan maar later tydens ‘n lekker (staande) doenskrum vleis aan die raamwerk sit en projekte daaraan koppel. (dit fokus mense!)
1. Taalnavorsing
Die eerste stap behoort die behoorlike en deurdagte intellektuele begronding vir die gebruik van Afrikaans in al sy vorme en op alle gebiede te wees. Daarvoor is diepte navorsing en deeglike besinning nodig. Om dit uit te voer is ten minste een wêreldklas navorsingsinstellings ‘n vereiste. Ons moet die ideedroogte verbreek. As die ideegeveg nie gewen word nie, het ons die taaloorlog klaar verloor.
2. Onderwys
• Kleuterskole
• Laer- en hoërskool (privaatskole ook)
• Beroepsopleiding
• Universiteite
Daar is baie instellings wat ons hiervoor kan inspan, en daar kan ‘n paar herbelyn en miskien een of twee heraktiveer of nuut gestig word. Dit is oa die SAOU, Kleuterskool verenigings, die ATKV, Fedsas, Solidariteit, RVA, Afrikaanse Trusts, die ROF en ander beursfondse, die Afrikaanse media, die Akademie, en natuurlik die ATR. Vanselfsprekend ook die Afrikaanse skole self. (Afrikaans as vak moet liefde vir die taal kweek asb!)
3. Instellings
‘n Taal word gedra deur sy instellings. Sterk en selfstandige instellings is taalvermenigvuldigers. Sonder instellings wat taal in die openbare terrein indra word dit ‘n kombuistaal wat deur Afrikaanse enkelinge by die huis gepraat word. Dan is dit ‘n privaat taal, en nie meer ‘n gemeenskapstaal nie. Dit is hartverskeurend dat so baie mooi instellings in die oorgangsproses prakties gesproke gesneuwel het. Dit terwyl invloedryke denkers daarop wys dat in die oop geglobaliseerde wêreld waarin ons leef sterk gemeenskapsinstellings ‘n broodsaak is. Daarom moet ons bestaande Afrikaanse instellings op elke denkbare terrein ondersteun en hulle weer sterk en lewenskragtig maak, deur oorspronklike en magnetiese idees te ontwikkel, en goeie leierskap en bestuur te kweek. Ons oorweeg dit om by die Solidariteit Akademie ‘n mini-MBA in kulturele ondernemerskap te begin. Ons wil graag die beste Afrikaanse breine in die land by so poging betrek as daar genoeg belangstelling is. Ons instellings moet nie veg vir oorlewing nie, hulle moet veg om hulle doelstellings te bereik. Ek wil dit duidelik stel, ons moet nie net baie doen nie, ons moet baie bereik, want ons het nie baie tyd nie. Te veel mense het al moed vir Afrikaans verloor. ‘n Sin vir dringendheid is noodsaaklik, want as ons so aangaan, sal ons nie aangaan nie.
4. Grondwetlike regte
Die post-’94 grondwetlike (taal) optimisme het soos reeds gesê nou plek gemaak vir ‘n groter werklikheidsbesef. Die probleem is net dat iemand vergeet het om te waarsku dat in ‘n grondwetlike regstaat daar duur hofsake nodig is om daardie regte te beskerm. Daarvoor is sterk instellings met genoeg regsfondse nodig as praat nie meer help nie. Dink maar net aan die Ermelo Grondwetlike hofsaak wat nou hangend is, en waar die regering met óns belasting geld teen óns taalregte ‘n saak gemaak het nadat die Appèlhof in die beheerraad se guns beslis het. Instellings wat op die regsterrein bygestaan moet word is die VRA, Fedsas, AfriForum, die Instituut vir Grondwetlike reg van die FW de Klerk Stigting, en ‘n paar ander.
5. Kuns en musiek
Afrikaanse kuns en musiek bly baie belangrik, en doen geweldig baie om ‘n liefde vir ons taal te kweek. Dit lyk of Afrikaanse musikante (met harde werk) nog goed aangaan, maar die Kunstefeeste sukkel al meer met borgskappe.
6. Erfenisbewaring
Ons het ‘n pragtige taalerfenis. NALN in Bloemfontein bly egter ‘n hartseer saak. Die Erfenis Stigting en ‘n paar ander soortgelyke instellings doen wonderlike werk wat die hele taalgemeenskap se steun verdien. Dit is egter dringend nodig om hierdie instellings te versterk.
7. Afrikaanse media
Ons het nog ‘n paar gehalte Afrikaanse media produkte, maar nóg meer is nodig. My droom is dat daar meer Afrikaanse gemeenskapsradio’s gestig moet word. Radio is wonderlike vermenigvuldigers vir taal!
8. Taalproduksie
“Taalproduksie” is ‘n voorwaarde vir taalverbruik! Dankie vir die werk wat instellings soos die WAT, ons Afrikaanse Uitgewers, skrywers en taalkundiges vir ons taal doen. Ons moet ons huidige taalruimtes behou en verbreed, en ook weer nuwe ruimtes skep, met uitnemendheid as slagspreuk.
9. Beskerming van sprekers
Afrikaans kan nie groei en bloei as dit met sy sprekers sleg gaan nie. Daarom moet daar instellings wees wat oor die wil en vermoë beskik om ons taal se sprekers te beskerm daar waar hulle dit nodig het, soos ons armes, weerloses en werkloses, ons skole en in die werksplek. Sonder hierdie beskerming sal ‘n kritiese massa jongmense landuit gaan, en sal ons taal mettertyd in duisende kele stil raak omdat mense voel hulle het nie ‘n toekoms hier nie. Verder sal ons moet sorg dat Afrikaans sy krimpende ekonomiese waarde behou. Indië is ‘n voorbeeld van ‘n land wat die ekonomiese waarde van ‘n minderheidstaal op werk- en handelsgebied aanwend om vir sy sprekers toekomsmoontlikhede te skep. Hier dink ek aan die werk wat die SBA, en die SHH doen.
10. Taalbemagtiging
Die Stigting vir bemagtiging deur Afrikaans se Christo van der Rheede redeneer nie verniet dat taalmiskenning ‘n groot oorsaak van armoede en die mislukking van ontwikkelingsprojekte is nie. Prof Giliomee het ook daarop gewys dat moedertaal onderwys en opleiding ‘n deurslaggewende rol gespeel het in die bemagtiging van die Afrikaner uit armoede in ‘n vorige era. Die SBA verdien ons almal se ondersteuning wat dit betref.
Die feit is dat ‘n taalstrategie geld gaan kos. Prof Hermann Giliomee het betekenisvol gesê dat die Afrikaans van vandag die produk is van die beleggings en momentum van ‘n vorige era. Die toekoms van ons taal gaan afhang van watter nuwe beleggings hierdie geslag bereid gaan wees om te maak. Niks wat die moeite werd is kom verniet nie. Die tragiese vir my is dat die meeste skatryk Afrikaanse mense se grootste ideaal skynbaar is om ‘n groot bankrekening na te laat. Waar is ons Afrikaanse Andrew Carnegies, Warren Buffets en Bill Gatese wat op ‘n massiewe skaal terugploeg. Maar belangriker is gewone welvarende Afrikaanse mense wat ‘n groot verskil kan maak. Maar onthou- sulke mense gee nie vir ‘n behoefte nie, hulle belê in werkbare planne en besielende visies.
Laastens wil ek afsluit met ‘n paar gedagtes oor die rol van die ATR:
• Baie geluk met wat tot sover bereik is, ek weet niks kom sonder harde werk en baie geduld en diplomasie nie;
• Die ATR het nie tans die uitvoerende vermoë om alles te doen nie, en moet ook nie met sy lede probeer meeding nie. Die ATR moet egter die leiding neem om ‘n nasionale ruimte vir die sprekers van Afrikaans te skep om hulle in hulle taal uit te leef.
• Die ATR moet ook die leiding neem om ‘n breë konsensus onder Afrikaans sprekendes te skep oor waarheen ons met Afrikaans wil gaan en wat ons moet doen.
• Dit kan ons doen as die ATR voortbou op die kultuur verdraagsaamheid en ruimte vir mekaar wat die organisasie sedert sy ontstaan kenmerk. Ons moet begrip hê vir mekaar en vir die wêrelde waarin elkeen leef. Elkeen het ‘n rol.
• Die ATR moet ook voortgaan met sy rol as “Verhoudings ambassadeur” vir Afrikaans. Alhoewel minderhede moet veg vir dit wat meerderhede as vanselfsprekend beskou, moet die ATR probeer om met takt en diplomasie met die owerhede te skakel om begrip te kweek en verhoudings te bou. Die ATR moet die nodige kulturele ruimte help skep waarbinne sy lede organisasies hulle rolle kan speel.
• Die ATR kan ook die voortou neem met gesamentlike projekte wat groter vertroue onder die sprekers van ons taal skep.
• Klein suksesse moenie onderskat word nie, dit skep momentum vir groot dinge.
Laastens, dit is nie nou die tyd om klein verskilletjies op die spits te dryf nie. Ek glo dat ‘n mens so groot is soos die “gevegte” wat jy veg. Daarom moet mens altyd na vrede strewe. Maar daar is sekere dinge in die lewe wat die moeite werd is om voor te veg. Afrikaans en sy sprekers is.
Flip Buys