Archive for July, 2009

Afrikaans ‘n honderd jaar na die stigting van die SA Akademie - FW de Klerk

Toespraak deur FW de Klerk by die Eeufees van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
- Bloemfontein, 25 Junie 2009

Ek het die stand van Afrikaans, ‘n honderd jaar na die stigting van die Akademie, as sleuteltema vir my toespraak gekies. 

Allereers egter wil ek die Akademie huldig vir die onmisbare bydrae wat dit gemaak het tot die ontwikkeling van Afrikaans.  Gedurende die afgelope eeu het die Akademie `n bepalende rol gespeel in die bevordering en standaardisering van Afrikaans.  Afrikaans het op sy beurt `n sentrale rol gespeel in die definiëring van die afgelope eeu in Suid-Afrika.  Dit was rondom die Afrikaanse taal dat Afrikaners gemobiliseer het om op te staan uit die verwoesting van die Anglo-Boere Oorlog.  Afrikaans het die fondament geword van ‘n nuwe identiteit en trots op die eie.  In Afrikaans is onreg gepleeg.  Insgelyks het Afrikaans ‘n deurslaggewende rol gespeel in die daarstelling van ‘n nuwe regverdige Suid-Afrika.

Die uitdagings waarvoor die Akademie in 1909 te staan gekom het, vind steeds weerklank in die huidige problematiek rondom Afrikaans.  Dit sluit in:
• eise vir taalgelykheid in `n nuwe grondwet;
• die gevaar van verengelsing;
• die noodsaaklikheid vir moedertaalonderrig in Afrikaans;
• en die behoefte aan tersiêre onderrig in Afrikaans.

Soos so dikwels was die Afrikaners toe ook erg verdeeld - in daardie tyd tussen diegene wat geneig was om te swig onder die druk om te verengels;  diegene wat wou vashou aan Hoog Hollands;  en diegene wat gekies het om Afrikaans as taal te ontwikkel – ‘n taal met sy eie identiteit, gewortel in ons ervaring van Afrika.

Hierdie argumente mag op daardie stadium as esoteries voorgekom het - maar dink net hoe anders ons geskiedenis sou verloop het indien ons stelselmatig Engels aangeneem het - of indien ons hardnekkig vasgeklou het aan Nederlands.  Maar soos die spreekwoord sê, “as is gebrande hout”.  Waarop dit alles wel dui is die sleutelrol van taal in die lewe van individue en gemeenskappe - asook op die kritieke rol wat gespeel is en moet word deur organisasies soos die Akademie. 

Ek wil vir `n oomblik afdwaal van die onderwerp en kyk na die belangrikheid van taal vir die mensdom.

Die menslike brein is miskien die mees komplekse struktuur in die wêreld.  Dit het `n honderd biljoen neurone waarvan elkeen tot ongeveer `n duisend poorte het na ander neurone - in vergelyking met die twee aan en af poorte in rekenaars.  Dit het meer as 60 triljoen sinapse - `n getal so hoog dat dit twee miljoen jaar sou neem om almal te tel.

Dít is die formidabele hardeware waarmee elkeen van ons toegerus is.  Anders as ons skootrekenaars word die basiese hardeware nie elke twee of drie jaar opgradeer nie.  Om die waarheid te sê is ons brein model nog min of meer dieselfde as wat dit was sowat tweehonderdduisend jaar gelede, êrens hier in suidelike Afrika. 

Natuurlik het ons sedertdien reuse vordering gemaak - baie stadig aan die begin;  baie vinniger gedurende die laaste tienduisend jaar;  en eksponensieel sedert 1950.

Hierdie opwaartse kurwe was nie te danke aan enige merkwaardige ontwikkeling van ons breine - ons hardeware - nie.  Dit was die gevolg van die snelle ontwikkeling van die sosiale programmering wat ons sagteware uitmaak.  En ten grondslag van hierdie proses was die ontwikkeling van taal.  Taal stel ons in staat om ons wêreld te beskryf en te verstaan en om daardie insig aan ander te kan oordra - ook aan ander generasies. 

Taal lê aan die wortel van ons bestaan.  Die sintaksis, grammatika en woordeskat vorm die operasionele stelsel wat ons unieke breine in staat stel om effektief te kan funksioneer.  Dit gee aan ons die vermoë om met ons medemense te kommunikeer en vorm die boublokke vir die ontwikkeling van ons kulture, ons geloofsoortuigings en ons begrip van die wêreld en die lewe.

As jy `n individu of gemeenskap weerhou van hul reg om hul taal te gebruik, maak jy `n aanslag op hul menswaardigheid en hul reg op gelykheid.  Dit is om hierdie rede dat die fundamentele bepalings van ons Grondwet taalregte so uitdruklik beskerm en bevorder.

Dit kom my voor asof taal ook in ‘n mate verband hou met die karakter eienskappe van volke en nasies!  Duitse grammatika pas goed aan by die Duitse nasionale karakter - presies, noukeurig - en mens moet lank wag vir die werkwoord!  Dit sou eenvoudig nie geskik wees vir die elegante Franse of die uitdrukkingsvolle Italianers nie.

Dieselfde geld vir ons Afrikaanssprekendes.  Ons nasionale persoonlikheid is beïnvloed deur ons taal.  Dit is gebore uit Nederlands en het gou sy eie onmiskenbare identiteit ontwikkel in die tavernes van Kaapstad;  in die kombuise en slawelosies van die platteland;  en in die eensame uitgestrektheid van die Karoo en die hoëveld.  Dit het die dubbele-negatief gekry van die Hugenote en is ryk aan alledaagse woorde afkomstig van die Maleiers.  In Afrikaans het daar ‘n verskeidenheid van kleurryke idiome ontwikkel, direk afkomstig van ons ervaring in Afrika.  Die swaarwigtige grammatika van Nederlands is gou afgeskud en is vervang met een van die eenvoudigste en mees vaartbelynde grammatikas van enige taal in die wêreld vandag.

Die geboorte van Afrikaans was nie maklik nie.  Jare lank is dit geminag as ‘Kombuis-Afrikaans’.  Baie van die stigters van die Akademie het geglo dat Nederlands as primêre taal behou moes word.  Hulle het die vermoë van Afrikaans om `n taal van akademiese en letterkundige uitnemendheid te word, gewantrou.  Desnieteenstaande het ons taal in die laaste jare van die 19de eeu en die vroeë twintigste eeu die spil geword waarom Afrikaners hulle geskaar het. 

Soos ons weet is dit onderdruk deur Lord Milner, maar uiteindelik aanvaar as `n amptelike taal in 1925.  Vir die eerste 60 jaar van die vorige eeu is Suid-Afrikaanse politiek gedomineer deur die stryd tussen Boer en Brit, tussen wit mense wat Engels gepraat het en wit mense wat Afrikaans gepraat het.  Onvermydelik is taal dus gepolitiseer.

Uiteraard, as gevolg van ons geskiedenis, is dit verder gepolitiseer binne die raamwerk van ras en kleur.  Baie swart Suid-Afrikaners het Afrikaans gesien as die taal van die onderdrukker.  Vir bruin mense was dit dikwels die taal van uitsluiting, bitterheid en pyn.  Al het bruin mense `n invloedryke rol gespeel in die ontwikkeling van Afrikaans het hulle dikwels verstote en verwerp gevoel deur hul wit Afrikaner broers en susters.

Ons moet in skaamte en skande erken dat apartheidswetgewing gebore en getoë is in Afrikaans.  Afrikaans was egter ook die taal waarin ons begin worstel het met die noodsaaklikheid om apartheid te beëindig.  Uiteindelik was Afrikaans ook die taal waarin ons ‘n nuwe visie van `n regverdige en nie-rassige grondwetlike demokrasie gedefinieer het, die taal waarin Suid-Afrika uitgereik het na ‘n nuwe daeraad. 

Miskien sal die geskiedenis verhaal dat die kwantumsprong van 1990 en daarna, ‘n kruin oomblik vir Afrikaans was – die omdraai van Afrikaans tot bevrydingstaal.  Dit was in die oë van baie die kruispad wat  N P van Wyk Louw in sy epiese gedig voorspel het:

 “O wye en droewe land, alleen
 onder die groot suidersterre.
 Sal nooit `n hoë blydskap kom
 deur jou stil droefenis?…

 Sal nooit `n magtige skoonheid kom
 oor jou soos die haelwit somerwolk
 wat uitbloei oor jou donker berge,
 en nooit in jou ‘n daad geskied
 wat opklink oor die aarde en
 die jare in hul onmag terge;…”  

Dit was toe.  Nou, vyftien jaar later, is Afrikaans weer onder groot druk.

Ons nuwe Grondwet maak voorsiening vir die beskerming van al ons tale:
• Dit erken Afrikaans as `n amptelike taal ‘gelyk in aansien’ met al die ander tale;
• Dit vereis dat die regering op nasionale en provinsiale vlakke twee amptelike tale gebruik.
• Dit maak voorsiening vir die stigting van `n Pan Suid-Afrikaanse Taalraad, met die taak om al die amptelike tale te bevorder, geleenthede skep vir die ontwikkeling daarvan, asook om te verseker dat alle ander tale wat gepraat word in Suid-Afrika, gerespekteer word.
• Dit verklaar dat waar dit redelikerwys prakties moontlik is, alle Suid-Afrikaners die reg het om onderrig te ontvang in die taal van hul keuse in openbare onderwysinstellings.  Dit kan nie-rassige en inklusiewe enkelmediuminstellings insluit. 

Ongelukkig is feitlik elkeen van hierdie waarborge geïgnoreer of verwater sedert die aanvaarding van die Grondwet in 1996.
• Ons het de facto ‘n enkele amptelike taal - en dit is Engels.  Die veronderstelde amptelike status van die oorblywende tien tale blyk meer en meer `n illusie te word.
• Die regering gebruik nie twee amptelike tale op nasionale vlak nie en ons ander amptelike tale word al hoe minder deur provinsiale administrasies gebruik.
• Ons tale geniet nie gelykheid van aansien nie - en word nie gelyk behandel nie.
• Bloedweinig is gedoen om ons inheemse tale te ontwikkel.
• Soos ons gesien het in die geval van Mikro, by die Hoërskool Doornfontein en Hoërskool Ermelo, is enkelmedium Afrikaanse skole onder druk van die regering.
• Die organisasies wat gestig is om ons landstale en             -kulture te ontwikkel en bevorder is onderbefonds en onder druk.  Die Asmal Kommissie het onlangs aanbeveel dat die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad en die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe ontbind moet word en dat hul funksies oorgeneem moet word deur `n “super” Menseregtekommissie.
• Afrikaans op universiteitsvlak is onder skoot en daarmee saam Afrikaans as wetenskapstaal.  Hierdie feestelike geleentheid is nie die tyd of plek om die debat oor Afrikaanse Universiteite in die algemeen en Stellenbosch in die besonder verder te voer nie.  Daar het ongelukkig ‘n onverkwiklikheid ingesluip wat ek van harte hoop uit die weg geruim kan word.  Uiteindelik het die ganse Afrikaanse Taalgemeenskap ‘n reuse belang in ‘n uitkoms wat Afrikaans as tersiêre onderrigtaal stewig sal vestig en in stand sal hou. 

Hierdie probleme wat ek so pas uitgelig het, is van net soveel kritieke belang as die vraagstukke waarmee die stigters van die Akademie ‘n honderd jaar gelede geworstel het.  As al die tradisionele Afrikaanse Universiteite op ‘n glybaan van verengelsing wegsink, wat sal die implikasies wees vir Afrikaans as wetenskapstaal?  As Afrikaans kwyn of verdwyn as ‘n akademiese taal, wat sal die toekoms van ons oorblywende Afrikaanse hoërskole wees?  As daar nie Afrikaanse universiteite is waar Afrikaanse onderwysers opgelei sal word nie, wat sal gebeur met Afrikaanse onderwys op skole?

Daar is baie Afrikaanssprekendes wat glo dat die blote stel van sulke vrae alarmisties is.  Hulle argumenteer soos volg: 
? Suid-Afrika behoort eweveel aan Afrikaanssprekendes as aan enige ander Suid-Afrikaners.
? Die Afrikaanssprekende gemeenskap (die derde grootste taalgroep in die land) sluit nou almal in wat Afrikaans praat - bruin, wit en swart - op ‘n inklusiewe en gelyke grondslag. 
? Afrikaner-identiteit is net soveel deel van die breër identiteit van Suid-Afrika as enige ander identiteit.  Daar is nie plek in ons grondwetlike stelsel vir rasse of kulturele hegemonieë nie. 
? Ten spyte van die regering se mislukking om al die taal- en kultuurregte wat in die Grondwet vervat word, te verseker, vaar die Afrikaanse taal goed.  Ons literatuur, teater en musiek floreer. 

Dit alles is waar en ek betwis dit nie.  Dit is egter nie die volle waarheid nie.  Myns insiens durf ons nie die verwatering van die taalregte in die Grondwet of die agteruitgang van Afrikaans op skool– en  universiteitsvlak miskyk nie.

Ek glo dat daar drie hoofprobleme is wat soortgelyk is aan die probleme waarmee die Akademie ‘n honderd jaar gelede geworstel het:

• Daar is diegene wat glo dat of hulle daarvan hou of nie, die toekoms eenvoudig Engels sal wees.  Hulle laat hul kinders in Engelse skole onderrig word en berei hulle voor om aan die globale Engelstalige ekonomie deel te neem;
• Tweedens is daar ‘n groep wat eintlik skaam is vir Afrikaans.  ‘n Honderd jaar gelede was sommige Afrikaners skaam vir Afrikaans omdat hulle geglo het dat dit slegs ‘n kombuistaal was.  Vandag is sommige Afrikaners ook skaam vir hul taal omdat hulle dit bly beskou as die taal  van apartheid en onderdrukking.  Hulle is oormatig apologeties.  Vir hulle is dit nie polities korrek om ‘n sterk standpunt ter verdediging van Afrikaans in te neem nie.
 Ek kan nie hiermee saamstem nie.  Ek glo dat tale moreel neutraal is.  Ons het nie ‘n afkeur aan Russies, Duits of Mandaryns weens die growwe misdade van Stalin, Hitler en Mao nie.  En was Engels nie die taal van koloniale onderdrukkig nie? 
• Laastens - net soos ‘n eeu gelede - is daar diegene wat nie kans sien om regeringsdruk teen te staan nie.  Destyds was dit druk van die Britse ryk om te verengels.  Vandag is dit druk van die regering om die ideologie van demografiese verteenwoordiging toe te pas.  Volgens hierdie ideologie behoort alle instellings in die privaat- en openbare sektore die bevolkingsamestelling van die hele land uiteindelik te weerspieël.  Daar is geen grondslag in die Grondwet hiervoor nie.  Dit is onversoenbaar met die behoud van ‘n gesonde multikulturele gemeenskap waarvoor die Grondwet wel voorsiening maak. 

Teen hierdie agtergrond wil ek afsluit met enkele gedagtes oor wat ons, vir wie Afrikaans kosbaar is, nou te doen staan. 

In die eerste plek moet ons - soos die stigters van die Akademie - aanvaar dat die toekoms van ons taal in ons eie hande lê.  Dit is ons wat sal besluit of Afrikaans voortleef en floreer, en of dit agteruit sal gaan en uitsterf.  Ons is nie van die regering afhanklik vir ons oorlewing nie.  Die Akademie het nie die Britte in die begin van die vorige eeu toestemming gevra om Afrikaans te praat en ontwikkel nie.  Hulle het dit eenvoudig net gedoen.  Nou moet ons weer dieselfde doen. 

Tweedens het ons `n grondwetlike reg om ons kinders in die taal van ons keuse te onderrig.  Ons moet Afrikaans kies.  Ons kinders kan en moet ook Engels, die wêreldtaal, aanleer - maar hul grondslag moet Afrikaans wees.  Ons moet verseker dat daar genoeg enkelmedium skole is wat onderrig kan bied.  In gemeenskappe waar daar nie genoeg Afrikaanssprekende kinders is nie, moet ons aandring op effektiewe parallel- en dubbelmedium onderrig.  Ons moet verseker dat ten minste twee van ons universiteite `n oorheersend Afrikaanse karakter behou, en Afrikaanssprekende studente op die ander tradisioneel Afrikaanse universiteite moet in staat wees om in hul eie taal te kan studeer.

Niks hiervan sal egter gebeur indien ons dit nie self láát gebeur nie.  In die proses moet ons hande vat en brûe bou in stede van vas te val in negatiewe vingerwysende debatte.  Deur middel van opbouende en inklusiewe dialoog moet ons konsensus bereik oor werkbare strategieë gerig op sinvolle doelwitte. 

In die breër Suid-Afrikaanse samelewing moet ons ons verantwoordelikheid aanvaar maar ook aandring op ons grondwetlike regte.
• Tussen 1993 en 1996 het ons `n plegtige verdrag gesluit met ons mede Suid-Afrikaners rakende die toekoms van ons samelewing.  Ons saak is reg as ons aandring op die handhawing daarvan. 
• Ons moet ons mede Suid-Afrikaners met waardigheid en respek behandel.  Terselfdertyd het ons `n reg op gelykheid.  Daarom moet ons nuwe vorme van rassisme en oorheersing sterk teenstaan.  Ongebalanseerde regstellende aksie en die toepassing van demografiese verteenwoordiging op alle terreine van die ekonomie en samelewing is ongrondwetlik.
• Ons moet uitbreek uit ‘n staat van voortdurende apologie vir alles wat Afrikaans is.  Ons is medeskeppers van die nuwe Suid-Afrika en geniet morele gelykheid met al ons mede burgers.

Laat ons dus hande vat en vir mekaar sê:  Daar’s werk!  Bêre die lang messe en verenig agter kreatiewe oplossings en redelike doelwitte.  Pak die bul by die horings en aanvaar blymoedig die uitdagings van ‘n nuwe eeu.

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ‘n eeu verder

“Laat alles val wat pronk en sieraad was of enkel jeug, en ver was van die pyn”
Uit die gedig Vroegherfs van N.P. van Wyk Louw

Deur C.O. van der Rheede

Abstrak

Die rol van die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns (Akademie) in die ontwikkeling van Afrikaans as ’n hoëfunksietaal oor ’n periode van een honderd jaar is voorwaar ’n uitsonderlike prestasie. Met behulp van die SA-Akademie, die kritiese rol en toewyding van Afrikaanse akademici om nuwe terreine van kennis deur middel van Afrikaans te verken en te ontsluit, die taaltrots en gepaardgaande kreatiwiteit van menige spreker van Afrikaans en die institusionalisering van Afrikaans op vele vlakke van die samelewing met behulp van die staat, het ‘n unieke en waardevolle taalskat Afrikaans  op Suid-Afrikaanse bodem gestalte gekry. Hierdie taalskat staar egter ’n onsekere toekoms vanweë sosio-maatskaplike, opvoedkundige, kulturele, ekonomiese en politieke veranderinge in die gesig. Daarom is dit nodig om te besin oor die rol van die SA-Akademie in die toekoms van Afrikaans.

Inleiding

Die toekoms van die Akademie hang ten nouste saam met die voortbestaan van Afrikaans. Sonder Afrikaans is daar geen toekoms vir die Akademie nie en óf Afrikaans as ‘n  hoëfunksietaal en selfs as openbare taal oor ’n honderd jaar van nou nóg sal voortbestaan bly ’n ope vraag.

Dis egter nie die eerste keer dat daar oor die toekoms van Afrikaans bespiegel word nie. In die boek getiteld ‘Tuiste in eie taal’ voorspel die skrywer, Dr. J.C Steyn reeds in 1980 dat  ‘…Afrikaans gaan in die volgende twee dekades al hoe kwaaier onder druk kom,…’ (Steyn 1980: 457). Die digter Breyten Breytenbach beskryf Afrikaans in die gedig getiteld ‘skrywende nou en van agter tot voor’ as ’n stuiptrekkende taal (Breytenbach 1964: 20). Let wel die digbundel ‘die ysterkoei moet sweet’ waarin die gedig verskyn is reeds in 1964 gepubliseer.

Huidiglik verskil die situasie met betrekking tot Afrikaans egter nie veel van die bekommernisse wat in die vorige paragraaf gehuldig word nie. Globalisering, die gebruik van ultramoderne kommunikasietegnologie, die nuwe grondwetlike bedeling en die snelveranderende kulturele, ekonomiese en politieke landskap in Suid-Afrika het inderdaad ’n impak op die toekoms van Afrikaans as ‘n  hoëfunksietaal.

Betekenisvol is die reaksies van die verskeidenheid rolspelers wat die belange van Afrikaans op een of ander wyse bevorder. Sommige handhaaf ‘n behoudende gesprek oor die toekoms van Afrikaans, terwyl andere ‘n progressiewe benadering volg soos deur Andrew Nash in die volgende aanhaling omskryf: ‘The new politics of Afrikaans is primarily concerned with defending Afrikaans language and culture in the new South Africa. In contrast to Afrikaner nationalism, it seeks to ensure a vital and viable future for Afrikaans, which does not depend on white racial domination or Afrikaner political power. At the same time, it seeks… to defend cultural diversity and local forms of community against the homogenizing pressures of capitalist globalization’ (Nash 2000)

Afrikaans - Qua vadis?

In watter denksfeer bevind die Akademie haar en waarheen is die Akademie op pad met Afrikaans? Is dit ‘n behoudende en neerdrukkende dampkring waarin daar bloot oor die verlede van Afrikaans getob word? Óf is dit ‘n progressiewe en optimistiese gesprekskring waar daar aktief meegewerk word om ‘n nuwe toekoms vir Afrikaans te skep? Die antwoord op hierdie vraag is na my mening deurslaggewend vir die rol wat die Akademie behoort te speel om Afrikaans verder uit te bou en om heel moontlik weer oor ‘n honderd jaar van nou ‘n soortgelyke fees te kan vier.

Hierdie antwoord wil ek graag aan die hand van die digter N.P van Wyk Louw se gedig ‘Vroegherfs’ beredeneer en ‘n verband trek tussen die gedig en die toekoms van Afrikaans. Die belangrikste grondgedagte waarmee in ‘Vroegherfs’ omgegaan word, is die geleidelike proses van verandering in die natuur en hoe dit saamval met die worsteling van die mense en sy behoefte aan geestelike groei en hernuwing.

Hierdie seisoensverandering word ingelei met ‘n metafoor in die openingsversreëls wat lui ‘Die jaar word ryp in goue akkerblare in wingerd wat verbruin’ wat die oorgang van herfs na winter skets met beelde van weerloosheid (wind en klare son) stroping (blare val) en spanning (lang populiere (wat) al witter staan).

Hierdie beelde vind in besonder aanklank by die situasie van weerloosheid, stroping en spanning waarin Afrikaans as taal en selfs haar sprekers hul in bevind. ‘n Goeie tyd vir eeufeesvieringe kan dit seker nie wees nie, want die taal en die breë Afrikaanse gemeenskap word aan alle fronte met ‘n verskeidenheid van sosio-maatskaplike, opvoedkundige, kulturele, ekonomiese en politieke veranderinge gekonfronteer. Die ‘goue akkerblare’ is besig om te ‘verbruin’ en af te val en ‘(die) witter lug wat daglank van die nuwe wind en klare son deurspoel word’ bring nuwe uitdagings van dikwels intellektueel verlammende aard en omvang. En nog is dit einde niet, want die strawwe winter lê nog voor en óf Afrikaans dit gaan oorleef en ’n nuwe lente sal beleef sal net die tyd ons leer.

In die gedig ‘Vroegherfs’ herinner N.P. van Wyk Louw ons egter dat net soos die natuur in ‘n voortdurende staat van verandering is, so ook groei die mens. In die sekstet pas hy dan hierdie natuurverandering ook op sy eie lewe toe. Dít doen hy egter nie lukraak nie óf kosmeties nie, maar hy doen dit wel besinnend deur dit versugtend in te lei met die uitroep ‘O Heer, laat hierdie dae heilig word:’

Hierdie strewe na innerlike rypwording of geestelike groei bekragtig hy met ‘n dubbelpunt om die erns waarmee hy die saak wil aanpak te beklemtoon. Ook is dit nié vir hom’n oppervlakkigheid nie, maar ’n diepgeestelike ervaring waarin hy ‘alles (laat) val wat pronk en sieraad was’ en gestroop wil word van ‘waan’ en ‘hoogheid’ .

Hy begeer veel meer as net ’n kosmetiese gedaanteverwisseling en is onbevange in sy begeerte om ‘nakend uit… teerder jeug (te) verskyn’, ongeag die pyn en kwesbaarheid wat daarmee gepaardgaan. Om as ’n nuwe mens na vore te tree en geestelike te groei wil hy homself stroop van onegtheid. Dit volgens hom is ‘n voorvereiste waarop die grondslag gelê word om ’n nuwe toekoms te verwesenlik.

Afrikaans en meer spesifiek die Akademie is huidiglik in dieselfde staat van weerloosheid, stroping en spanning vasgevang. En om daaruit te ontsnap en iets nuuts te skep vra vir visionêre leierskap, die stroping van die ‘pronk’ en ‘sieraad’, die ‘waan’ en ‘hoogheid’, en vir geestelike diepte om Afrikaans deur die ‘strawwe winter’ wat nog voorlê, te dra.

‘n Progressiewe en optimistiese gesprekskring

Teen hierdie agatergrond keer ek dus terug na my oorspronklike vraag wat handel oor die denksfeer waarin die Akademie haar bevind. Is dit ‘n behoudende en neerdrukkende dampkring waarin daar bloot oor die verlede van Afrikaans getob word óf is dit ‘n progressiewe en optimistiese gesprekskring waarin daar aktief meegewerk word om ‘n nuwe toekoms vir Afrikaans te skep?

Laasgenoemde gesprekskring vra vir vernuwing en die herskepping van ‘n nuwe entiteit wat Afrikaans in al haar gebruiksvorme erken en wat ‘n tuiste bied vir elke spreker van Afrikaans ongeag etnisiteit, geloof, kultuur en klas. Dit vra ook vir die stroping van die ‘pronk’ en ‘sieraad’, die ‘waan’ en ‘hoogheid’ wat so kenmerkend is van die prystoekennings, lidmaatskap en selfs van die navorsing wat deur Akademielede gedoen word. Let wel: Ek gebruik nie hierdie woorde in ‘n beledigende of neerhalende konteks nie, maar benut dit as beelde om die kloof tussen die akademie se werksaamhede en die wêreld van ontmagtiging waarin ‘n groot deel van die Afrikaanse gemeenskap vasgevang is en wat nie eens weet van die SA Akadmie se werksaamhede óf wat geen voordeel daaruit trek nie, te illustreer.

Vir die behoudende dampkring is so ‘n versoek ongehoord, maar midde die weerloosheid, stroping en spanning waarin die Afrikaanse gemeenskap gedompel is, het ons nie veel van ‘n keuse nie as om daaroor te besin nie. By besinning kan dit egter nie vasval nie, want Afrikaans is nie net ‘n taal nie, maar dit verteenwoordig ook ‘n leefwêreld van miljoene. Dit laat my dus met ‘n kwellende vraag: Hoe bring ons hierdie twee uiteenlopende wêrelde byeen ter wille van Afrikaans en haar toekoms en watter faktore moet ons inagneem om hierdie kloof te oorbrug?

In dié verband wys Robert Cooper, in sy boek getiteld ‘Language Planning and Social Change’ na ‘n reeks situasionele, strukturele, kulturele en omgewingsfaktore wat taal se groei kan striem of kan bevorder (Cooper. 1989: 93).

Hoe die Akademie in die uitvoering van haar werksaamhede ook hierdie faktore  en die eise wat die Afrikaanse leefwêreld stel in die toekoms gaan hanteer, sal bepaal of daar soortgelyke feesvieringe oor ‘n honderd jaar van nou sal wees.

Ek sluit af met die voorlesing van die gedig Vroegherfs. 
     
Vroegherfs

Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.

Uit Vroegherfs

 

 

Bibliografie

Cooper. R.L. 1989. Language Planning and Social Change. Cambridge University Press.
Breytenbach. B. 1964. Die ysterkoei moet sweet. Perskor. Johannesburg
Steyn. J.C. 1980. Tuiste in eie taal. Die behoud en bestaan van Afrikaans. Tafelberg. Suid-Afrika
Nash. A. 2000. The new politics of Afrikaans. South African journal of philosophy. Vol. 19, no4, pp. 340-364 (2 p.) Foundation for Education, Science and Technology, Pretoria, AFRIQUE DU SUD

Taal-vrede by Maties ná vergelyk

Jun 27 2009
Marlene Malan

Kaapstad
Nagraadse Maties gaan “beloon” word as hulle hul tesisse en proefskrifte in Afrikaans skryf en die Universiteit Stellenbosch (US) gaan ’n beursfonds instel vir navorsing oor Afrikaans as onderrig- en wetenskapstaal.
Dié inisiatiewe is deel van die Afrikaans-bevorderingsplan wat die US-raad aanvaar het vir die uitbou van die taal op die kampus.
By navraag het die US se skakelhoof, mnr. Mohamed Shaikh, gesê in die praktyk beteken dit dat Afrikaans nie net meer op voorgraadse vlak aandag kry nie, maar doelgerig op nagraadse vlak bevorder gaan word.
Dit kom nadat die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die rektor, prof. Russell Botman, die afgelope week tot ’n vergelyk gekom het oor Afrikaans op die Matie-kampus.
Die ATR het gesê dié raad is gerusgestel dat die US alles moontlik doen om Afrikaans se plek te versterk.
Volgens Shaikh sal studente aangemoedig word om in hul eerste taal te studeer, werkstukke in te gee en eksamens af te lê.
“Voorgraads gaan parallelmediumonderrig (PMO) in groter fakulteite ingestel word, aangevul met dubbelmediumonderrig (DMO) in kleiner omgewings. Die US wil studente help om voorgraads in hul voorkeurtaal te studeer; met blootstelling aan die ander taal.”
Die taalbevorderingsplan behels onder meer:
• Aandag aan taalverwerwing en akademiese geletterdheidskursusse vir nie-Afrikaanssprekendes;
• Klem word gelê op die skryf- en leesvaardigheidsontwikkeling van Afrikaans;
• Aansporing vir die skryf van tesisse en proefskrifte in Afrikaans;
• Meer navorsingsdiskoerse in Afrikaans;
• Aanmoediging van navorsers om in Afrikaanse joernale te publiseer.
• Die instel van ’n beursfonds vir navorsing oor Afrikaans as onderrig- en wetenskapstaal.
“Die US wil ’n minimum aanbod in Afrikaans voorgraads verseker.
“Die uitgangspunt met die onderrigtaalmodel is om studente sterker te maak in hul eerste taal en daarmee saam ’n werkkennis van die ander taal te ontwikkel,” sê Shaikh. Dis ons doel om, deur meetbare teikens, Afrikaans se leefruimte as akademiese taal te verseker.
“Met die taalverwerwings- en akademiese geletterdheidskursusse in Afrikaans wil ons nie-Afrikaanssprekendes help om ’n luister- en kognitiewe vaardigheid in Afrikaans te ontwikkel, en hulle motiveer om volledig Afrikaans-taalvaardig te word.”
Shaikh sê Botman wil die vloei van Afrikaanse en Afrikaansmagtige studente na die US aktief aanmoedig.

US-Rektor en ATR vind breë ooreenstemming oor Afrikaans

Persverklaring
Vir onmiddellike uitreiking

US-Rektor en ATR vind breë ooreenstemming oor Afrikaans

’n Vrugbare gesprek met belangrike punte van ooreenstemming. Dít was die algemene gevoel na afloop van die ontmoeting tussen die Rektor van die Universiteit Stellenbosch, prof Russel Botman, en ’n afvaardiging van die Afrikaanse Taalraad (ATR).

Prof Botman het die US se toekomstige fokus en strewe op die terreine van volhoubare akademiese uitnemendheid, groter toeganklikheid en transformasie aan die hand van die universiteit se omvangryke inisiatief van landelike opleidingsplatforms oor die wyer Wes- en Suid-Kaapland, die Boland en die Kaapse Weskus verduidelik.

“Dit is nie ’n barmhartigheidsdiens of welsynsinisiatief nie, maar ’n deurdagte model om hoëvlakonderrig aan Afrikaanssprekendes in ons landelike streke te bied as uitvloeisel en vergestalting van ’n pedagogie van hoop. Dit geld eweneens vir die Engels-geöriënteerde bruin gemeenskappe in die Skiereiland en omstreke wie se groter lewensruimte oorwegend Afrikaans is en wat andersins vir Afrikaans verlore sou wees. Bowendien bied dit nuwe opleidings- en diensleergeleenthede vir ons studente op groter skaal,” het Prof Botman gesê  

Die punte waaroor die partye in die gesprek breedweg ooreengekom het, is:
• Dat die US Afrikaans as onderrigtaal wil bestendig en bevorder onder meer  deur sy voorgraadse Afrikaanse aanbod aan studente.
• Dat meetbare teikens oorweeg word vir die berekening van die voorgraadse aanbod in Afrikaans.
• Dat die US ’n inklusiewe universiteit is (d.w.s. nie ’n eksklusiewe Afrikaanse universiteit nie) wat meertaligheid bevorder, maar nie ’n akademiese “volkstaat” wil wees nie.
• Dat Afrikaans aan die US nie ‘n uitsluitingsmeganisme sal wees nie.
• Dat die US diversiteit wil bevorder sonder benadeling van Afrikaans.
• Dat die US deurlopend streef om ’n universiteit van wêreldgehalte te
wees.
• Dat Afrikaans as akademiese taal ook op nagraadse vlak bevorder moet word.

 

“Die ATR is gerusgestel dat die US alles in sy vermoë sal doen om met meetbare en moniteerbare ondernemings Afrikaans as onderrigtaal se posisie aan die US te verseker, en dat die US en sy bestuur op daadwerklike bemagtiging van arm Afrikaanssprekendes gaan fokus.”

“Die ATR wil die US verseker van ons steun hiermee en onderneem om van ons ondersteuningsbasis, netwerke en kundigheid gebruik te maak om daardie boodskap uit te dra. Die punte van ooreenkoms sal as die basis dien op grond waarvan ons bereid is om ‘n vennoot van die US rondom Afrikaans te word,” sê dr Michael le Cordeur, ondervoorsitter van die ATR wat die afvaardiging gelei het.

Hy het gesê die ATR wil sy steun toesê aan die rektor en sy bestuurspan, en doen ‘n beroep op die Afrikaanse gemeenskap, maar ook op die gemeenskap in die breë om die rektor en die raad die geleentheid te gee om binne die US se demokratiese en akademiese strukture die taalkwessie te bestuur bestuur sodat die universiteit se erns met bogenoemde ooreengekome vertrekpunte daaruit sal blyk

• Die ATR het die Rektor na sy Algemene Jaarvergadering op 15 Augustus genooi om die US se inisiatiewe om Afrikaans se leefruimte te verseker met die lede-organisasies te deel.

Einde.

                            *******************************************************

Gesamentlik uitgereik deur die Kantoor van die Rektor, Universiteit Stellenbosch, en die Ondervoorsitter van die ATR wat die afvaardiging gelei het.

Navrae aan: Dr Michael le Cordeur (082 8578 067)  by die ATR of mnr. Mohamed Shaikh, Senior Direkteur, Kommunikasie en Skakeling, Universiteit Stellenbosch (021 808 4636).