Archive for June, 2009

Sakie 22 mei

Die toekoms van Afrikaans gaan primêr in Suid-Afrika beslis word, nie elders in die wêreld nie. Dis ’n waarheid soos ’n koei.
Maar daar is ’n tweede waarheid. Die eerste beteken naamlik nie dat mense en instansies elders in die wêreld géén waardevolle rol kan speel nie.

Dié tweede waarheid is vandeesweek geïllustreer deur ’n rondetafelkonferensie in Antwerpen, Vlaandere, waar ’n groep Afrikaanse en Vlaamse organisasies vergader het om te besin oor ’n strategie vir hulp uit Vlaandere en eventueel ook uit Nederland om Afrikaans se toekoms te verseker.

Die konferensie is gereël deur een van Afrikaans se grootste vriende in Vlaandere, mnr. Ludo Helsen, die “gedeputeerde” vir kultuur van die provinsie Antwerpen. In Suid-Afrika sou ’n mens hom ’n LUR of provinsiale minister noem.

Helsen se departement het al in 2006 ’n konferensie oor Afrikaans gereël, en daarmee die heel eerste Europese owerheidsinstansie in die geskiedenis geword wat hom met die toekoms van Afrikaans bemoei. Daardie konferensie het ’n meer akademiese karakter gedra; vandeesweek s’n was bedoel om Afrikaanse en Vlaamse organisasies met hul behoeftes en vermoëns op ’n praktiese vlak met mekaar kennis te laat maak.

Dit was uiteraard slegs die begin, en ’n voortsettingskomitee is gevolglik aangewys om die praktiese hulpverlening aan allerlei projekte in Suid-Afrika hiervandaan verder te voer. In vergelyking met die akademiese karakter van die 2006-konferensie was dié een veral toegespits op die emansipasie van die taal se sprekers met Afrikaans as die voertuig.

Die konferensie was ’n simptoom van iets wat die laaste jare momentum wen in Vlaandere en Nederland: Selfs in vroeëre anti-apartheidskringe het Afrikaans sy status as uitgeworpene, as verdrukkerstaal, afgeskud. Die verwantskap tussen Afrikaans en Nederlands word herontdek.

Toegegee, vir die Nederlandse en Vlaamse Jan burger is Afrikaans steeds iets daar ver weg. Maar ten minste lok dit ’n half instinktiewe welwillende reaksie uit, wat wys dat die bedding vir ’n groter bewuswording by die publiek vrugbaar is. Dit kort nog saad, water en ’n tuinier.

In September vanjaar reël die Nederlandse adjunkminister van buitelandse sake, mnr. Frans Timmermans, by die Universiteit van Wes-Kaapland ook ’n konferensie oor Afrikaans. Te oordeel aan die program gaan dit ’n meer akademiese byeenkoms wees, maar die blote feit dat die Nederlandse regering hom met die toekoms van Afrikaans besig hou, is al klaar ’n politieke feit van groot betekenis.

En in Oktober, so het op vandeesweek se Antwerpse konferensie geblyk, gaan die Nederlandse en Vlaamse kultuurministers besin oor die vraag of die Nederlandse Taalunie formeel hulp aan Afrikaans moet gee. Indien dit gebeur – en daar is geen rede om te aanvaar dat dit nié sal gebeur nie – is dít ook ’n betekenisvolle politieke feit.

Soos ek die saak verstaan, is daar nog nie sprake van Suid-Afrika se aansluiting by die Taalunie nie. Kragtens die verdrag wat die Taalunie in die lewe geroep het, kan net lande daarby aansluit; nie tale nie, en dus sal die ANC-regering daarvoor gewillig moet wees, iets wat onwaarskynlik klink.

Maar as die Taalunie aktief steun aan Afrikaans kan verleen, kan dit wel deeglik ’n verskil maak.

Om dié welwillendheid in die Lae Lande te behou sal Afrikaans se sprekers wel versigtig moet trap. Enige indruk dat die stryd vir Afrikaans die voorregte van die verlede probeer behou of herstel, sal die dood in die pot wees.

Sowel die Nederlandse as die Vlaamse regering kan nie bekostig om die ANC-regering die harnas in te jaag nie, en dus moet ook húlle versigtig trap. Afrikaanssprekendes moet dit nie vir hulle moeiliker maak nie.

Weer eens, die geveg om Afrikaans sal in Suid-Afrika gewen of verloor word, nie in die buiteland nie. Maar buitelandse steun – van private organisasies, maar veral van amptelike regerings – kan ’n groot verskil maak.

Met die sterretjies in die oë oor die ANC wat baie Nederlanders en Vlaminge die laaste jare toenemend verloor, is die bedding ook hier ryp. Afrikaanse organisasies moet die helpende hand wat vanuit die Lae Lande uitgesteek word, met albei hande aangryp.

Die skrywer is Media24 se verteenwoordiger in Brussel.

Rondetafelkonferensie 20 mei

LEOPOLD SCHOLTZ

Antwerpen. – Die Nederlandse en Vlaamse kultuurministers gaan dit in Oktober oorweeg om die Nederlandse Taalunie opdrag te gee om voortaan ook steun aan Afrikaans in Suid-Afrika te verleen.

Dié nuus is eergister deur mnr. Marc Leclerq, verteenwoordiger van die Taalunie, aan ’n rondetafelkonferensie oor Afrikaans in die Antwerpse Provinsiehuis oorgedra.

Die konferensie is georganiseer deur mnr. Ludo Helsen, minister van kultuur en internasionale betrekkinge van die Vlaamse provinsie Antwerpen. ’n Aantal Vlaamse en Afrikaanse organisasies het beraadslaag oor ’n strategie rakende die vraag hoe Vlaandere hulp aan Afrikaans in Suid-Afrika kan gee.

Die Nederlandse Taalunie is ’n liggaam waarin sowel die Nederlandse as die Vlaamse regering verteenwoordig is en wat die amptelike waghond oor die Nederlandse taal vorm.

Leclerq het gesê ofskoon Afrikaans tans nie genoem word in die Taalunieverdrag nie, is daar tog groot belangstelling by die organisasie in die taal, omdat Afrikaans en Nederlands baie met mekaar verweef is. Stadig maar seker word die tydsgees ryp om Afrikaans nader te trek.
Dus sal die Nederlandse en die Vlaamse kultuurministers op hul jaarvergadering later vanjaar besluit of daar behoefte is aan só ’n herposisionering.

Le Clerq het later in ’n onderhoud aan Die Burger/Beeld/Volksblad gesê indien die ministers in Oktober inderdaad besluit om steun aan Afrikaans te gee, sal die Suid-Afrikaanse regering eers daaroor genader moet word.

Die algemene konsensus op die konferensie was dat Afrikaans in Suid-Afrika onder druk is en dat hulp uit Vlaandere en Nederland dringend nodig is. Prof. Wannie Carstens, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), en mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), het albei uitvoerig verduidelik hoe Afrikaans op kulturele, opvoedkundige en ekonomiese vlak die kreeftegang gaan.

In sy openingstoespraak het Helsen gesê ’n herlewing van die taalband pas in die huidige tydsgees, maar die bewussyn van Afrikaans se posisie in Vlaandere is klein. Hy het gepleit dat die afstand tussen Suid-Afrika, Vlaandere en Nederland kleiner moet word en dat Vlaminge, Nederlanders en Suid-Afrikaners op die vlak van taal en kultuur vir mekaar in die bres moet tree.

Aan die einde van die dag lange konferensie is op voorstel van mnr. Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, besluit om ’n voorsettingskomitee aan te wys om praktiese projekte in Suid-Afrika te identifiseer en die Vlaamse hulpverleners daarby uit te bring. Dit bestaan uit Helsen self, Carstens, me. Sara Claes (een van Helsen se amptenare), en me. Ingrid Scholtz van Afrinetwerk (verteenwoordiger van die ATR, Solidariteit en die SBA in die Lae Lande).

Vlaandere skop gat vir Afrikaans

9 Mei 2009
Marlene Malan

‘n Groep vriende van Afrikaans in België wil kyk watter bydrae “hulle kunnen leveren om van het Afrikaans ‘n sterke taal te maken”, skryf Marlene Malan.

Vlaandere het ’n veldtog vir Afrikaans begin.

Dié taal, sê die Vlaminge, is belangrik omdat dit deel is van ’n internasionale gemeenskap waarin die regte van minderheidsgroepe gerespekteer word, dit die enigste inheemse Suid-Afrikaanse taal met ’n Europese verbintenis is en boonop ’n belangrike toegang is vir Europa tot Afrika.

Dis waarom ’n groep Vlaamse taalkundiges ’n “rondetafelconferentie” belê het “rond de toekoms van het Afrikaans en de bijdrage die wij vanuit Vlaandere kunnen leveren om van het Afrikaans een sterke taal te make”, sê mnr. Ludo Helsen, vise-goewerneur van die provinsie van Antwerpen en afgevaardigde vir kultuur, tegnologie en internasionale samewerking, in ’n uitnodigingsbrief aan genooides. Die konferensie vind op 19 Mei in Antwerpen plaas.

Volgens hom gaan “Afrikaans verdwyn as daar nie ingegryp word nie.

“Die vraag is: Wat kan ons vir Afrikaans doen om ons ondersteuning vir Afrikaans te wys? Vanuit Vlaandere moet ons ’n sterk teken gee dat hier ’n hart vir Afrikaans klop.”

Dit val ook saam met die amptelike opening die afgelope week van Afrinetwerk se buitelandse kantoor vir Afrikaans in Brussel, België, onder leiding van dr. Ingrid Scholtz.

“Afrikaans is vir die Vlaminge belangrik omdat hulle self ’n emansipasiestryd moes voer teen die oorheersing deur die Franse taal wat die elite in België praat,” sê sy.

“Die Vlaminge is deur die Franstalige elite as agterlike boere gesien. Hulle kan dus met Afrikaans identifiseer.

“Tans staan Afrikaans weer onder druk en die Vlaminge kan die verdediging van taalregte verstaan. Wel as ’n stryd vir taalregte – ’n inklusiewe stryd wat nie op ras gegrond is nie.”

By die opening van die kantoor het oud-pres. F.W. de Klerk gesê Engels is reeds die de facto amptelike taal van Suid-Afrika.
“Ons tale het nie gelykheid van aansien nie. Min of niks is tot dusver gedoen om ons inheemse tale te ontwikkel nie. Dis jammer dat die burgerlike samelewing in die bres moes tree met ’n inisiatief soos dié. Die staat versaak sy plig oor taal en kultuur.”
Wêreld weet van ‘merkwaardige letterkunde’

Afrikaans het ’n internasionale vastrapplek gekry in ’n tyd waarin Engels dreig om alle kleiner tale te verswelg.

Nie net in Europa nie, maar wêreldwyd, is daar deesdae ’n opvallende belangstelling in Afrikaans, sê mev. Rina Loader, dosent in Afrikaans aan die Universiteit van Wenen.

“Dis al deel van die Amerikaanse universitêre stelsel, en selfs in die Ooste, waar ’n Afrikaans-Japannese en Afrikaans-Chinese woordeboek al die lig gesien het.

“En dit alles terwyl die taal hoofsaaklik in die heel suidelikste deel van Afrika gesetel is.”

Sy sê Afrikaans is besig om ’n “internasionale vastrapplek te kry in ’n tyd waarin Engels dreig om alle kleiner tale te oorspoel”.
Volgens haar is daar goeie en interessante redes vir dié entoesiasme.

“Afrikaans is uniek omdat dit die jongste Germaanse taal ter wêreld is. Eers onlangs, in 1925, het Afrikaans amptelike status gekry.
“Vir wetenskaplikes en studente bied dié ongehoord vinnige ontstaansgeskiedenis en gepaardgaande taalkundige verskynsels dus ’n uiters interessante studieterrein ten opsigte van vergelykende taal-, letterkundige en kulturele studies.

“Dié studieveld is selfs nóg interessanter as ’n mens in ag neem dat verskeie variante onder Afrikaanssprekendes gepraat word bo en behalwe dit wat as Standaardafrikaans bekend staan – ondanks die jonkheid van die taal.”

Loader sê die wêreld het kennis geneem van die “merkwaardige letterkunde wat Afrikaans in sy kort bestaan opgebou het. Dis indrukwekkend.

“Afrikaanse boeke praat in elke moontlike genre saam op dieselfde podiums as gesoute en eeue oue tale soos Engels, Duits, Nederlands en Russies.

“Die Afrikaanse letterkundige literatuur is ’n fassinerende bewys van hoe letterkunde in staat is om ’n lewende geskiedenis daar te stel. Dit verskaf kennis en insig in die geskiedenis van die afgelope 300 jaar – eers hoofsaaklik vanuit ’n wit perspektief, maar in die laaste paar dekades word dit aangevul met die ervarings van swart Afrikaanse skrywers.”

Volgens Loader open die boekstawing van mondelinge oorleweringe nuwe horisonne en begrip vir die verskillende kultu?rele groepe in die land. Daarby open die belangstelling in Afrikaanse letterkunde ’n nuwe veld in die Europese vertalingswese, sê sy.

“Die aandrang om nuwe vertaalde Afrikaanse tekste groei.”

Loader sê ’n oud-student van Afrikaans in Wenen, me. Christina Angerhofer, het onlangs “geskiedenis in die stad gemaak” met die verowering van die Übersetzungspreis der Stadt Wien vir haar vertaling van twee Afrikaanse kortverhale.

“Afrikaans het groter geword as die stuk aarde tussen Kaappunt en die Limpoporivier. Soos rooibostee het dit een van Suid-Afrika se grootste uitvoerprodukte geword. As jy eers aan daardie smaak gewoond is, wil jy nog hê,” sê sy.

* In Europa word Afrikaans onder meer in Antwerpen en Gent (België), Amsterdam (Nederland), Wroclaw en Poznan (Pole), St. Petersburg (Rusland) en in Wenen (Oostenryk) aangebied, met jaarlikse seminaarreekse oor die Afrikaanse taal en letterkunde in Leuven en Hasselt onder leiding van prof. Luc Renders.

In Amerika word Afrikaans gedoseer aan die Universiteit van Kalifornië (UCLA) in Los Angeles, aan die Universiteit van Noord-Carolina in Chapell Hill deur prof. Paul Roberge, en deur dr. Jacques du Plessis aan die skool vir inligtingstudies aan die Universiteit van Wisconsin.

Studente-aksies vir Afrikaans

*Tukkies het verlede week ’n versoekskrif vir die bevordering van Afrikaans op die kampus begin “omdat Afrikaans op die kampus onder druk is”, sê mnr. Awie Erasmus, voorsitter van AfriForum Jeug. Daarin vra hulle die voorsitter van die universiteitsraad om, met die aanstel van ’n nuwe rektor in September, ’n kandidaat te kies wat hom verbind tot die bevordering van Afrikaans en moedertaalonderrig.
* Maties het pas ’n protesaksie vir Afrikaans gehou. “Dis om te keer dat die universiteits- raad ’n besluit oor onderrig in Engels bekragtig wat ooreenstem met die destydse regering se besluit om Afrikaans as onderrigtaal op swart leerlinge af te dwing,” sê mnr. Nico de Wet van die Adam Tas-studentevereniging. “Dit sal beteken dat studente gedwing word om vir die helfte van die tyd in ’n taal onderrig te word wat hulle nie wil hê nie.”