Die toekoms van Afrikaans gaan primêr in Suid-Afrika beslis word, nie elders in die wêreld nie. Dis ’n waarheid soos ’n koei.
Maar daar is ’n tweede waarheid. Die eerste beteken naamlik nie dat mense en instansies elders in die wêreld géén waardevolle rol kan speel nie.
Dié tweede waarheid is vandeesweek geïllustreer deur ’n rondetafelkonferensie in Antwerpen, Vlaandere, waar ’n groep Afrikaanse en Vlaamse organisasies vergader het om te besin oor ’n strategie vir hulp uit Vlaandere en eventueel ook uit Nederland om Afrikaans se toekoms te verseker.
Die konferensie is gereël deur een van Afrikaans se grootste vriende in Vlaandere, mnr. Ludo Helsen, die “gedeputeerde” vir kultuur van die provinsie Antwerpen. In Suid-Afrika sou ’n mens hom ’n LUR of provinsiale minister noem.
Helsen se departement het al in 2006 ’n konferensie oor Afrikaans gereël, en daarmee die heel eerste Europese owerheidsinstansie in die geskiedenis geword wat hom met die toekoms van Afrikaans bemoei. Daardie konferensie het ’n meer akademiese karakter gedra; vandeesweek s’n was bedoel om Afrikaanse en Vlaamse organisasies met hul behoeftes en vermoëns op ’n praktiese vlak met mekaar kennis te laat maak.
Dit was uiteraard slegs die begin, en ’n voortsettingskomitee is gevolglik aangewys om die praktiese hulpverlening aan allerlei projekte in Suid-Afrika hiervandaan verder te voer. In vergelyking met die akademiese karakter van die 2006-konferensie was dié een veral toegespits op die emansipasie van die taal se sprekers met Afrikaans as die voertuig.
Die konferensie was ’n simptoom van iets wat die laaste jare momentum wen in Vlaandere en Nederland: Selfs in vroeëre anti-apartheidskringe het Afrikaans sy status as uitgeworpene, as verdrukkerstaal, afgeskud. Die verwantskap tussen Afrikaans en Nederlands word herontdek.
Toegegee, vir die Nederlandse en Vlaamse Jan burger is Afrikaans steeds iets daar ver weg. Maar ten minste lok dit ’n half instinktiewe welwillende reaksie uit, wat wys dat die bedding vir ’n groter bewuswording by die publiek vrugbaar is. Dit kort nog saad, water en ’n tuinier.
In September vanjaar reël die Nederlandse adjunkminister van buitelandse sake, mnr. Frans Timmermans, by die Universiteit van Wes-Kaapland ook ’n konferensie oor Afrikaans. Te oordeel aan die program gaan dit ’n meer akademiese byeenkoms wees, maar die blote feit dat die Nederlandse regering hom met die toekoms van Afrikaans besig hou, is al klaar ’n politieke feit van groot betekenis.
En in Oktober, so het op vandeesweek se Antwerpse konferensie geblyk, gaan die Nederlandse en Vlaamse kultuurministers besin oor die vraag of die Nederlandse Taalunie formeel hulp aan Afrikaans moet gee. Indien dit gebeur – en daar is geen rede om te aanvaar dat dit nié sal gebeur nie – is dít ook ’n betekenisvolle politieke feit.
Soos ek die saak verstaan, is daar nog nie sprake van Suid-Afrika se aansluiting by die Taalunie nie. Kragtens die verdrag wat die Taalunie in die lewe geroep het, kan net lande daarby aansluit; nie tale nie, en dus sal die ANC-regering daarvoor gewillig moet wees, iets wat onwaarskynlik klink.
Maar as die Taalunie aktief steun aan Afrikaans kan verleen, kan dit wel deeglik ’n verskil maak.
Om dié welwillendheid in die Lae Lande te behou sal Afrikaans se sprekers wel versigtig moet trap. Enige indruk dat die stryd vir Afrikaans die voorregte van die verlede probeer behou of herstel, sal die dood in die pot wees.
Sowel die Nederlandse as die Vlaamse regering kan nie bekostig om die ANC-regering die harnas in te jaag nie, en dus moet ook húlle versigtig trap. Afrikaanssprekendes moet dit nie vir hulle moeiliker maak nie.
Weer eens, die geveg om Afrikaans sal in Suid-Afrika gewen of verloor word, nie in die buiteland nie. Maar buitelandse steun – van private organisasies, maar veral van amptelike regerings – kan ’n groot verskil maak.
Met die sterretjies in die oë oor die ANC wat baie Nederlanders en Vlaminge die laaste jare toenemend verloor, is die bedding ook hier ryp. Afrikaanse organisasies moet die helpende hand wat vanuit die Lae Lande uitgesteek word, met albei hande aangryp.
Die skrywer is Media24 se verteenwoordiger in Brussel.