Archive for October, 2008

R100miljoen vir Afrikaanses – 14/09/2008

Laai af

Union agendas inked – 21/09/2008

Laai af

Opsommende blik op die stand van Afrikaanse tersiêre onderrig – 02/09/2008

Laai af

Hanlie Retief gesels met Flip Buys – 20/09/2008

In ’n nis aan Flip Buys se kantoormuur hang ’n foto van sy oupa, 80 jaar gelede, diep onder in die Ferreira-myn. Hy leun teen ’n rotswand, vaal van die stof, ’n skraal man met ’n welige snor en sy hand op ’n piksteel. Moeg, maar allermins moedeloos.

Onder dié foto hang een van Flip op ’n studietoer in die 1990’s. Stemmig agter baard en eighties-bril, toe al. Agter hom is ’n kibboets iewers in Israel se vaal landskap.

Net nadat dié foto geneem is, heel agter in ’n bus, het Flip Buys sy idee vir die grootste post-1994-Afrikaner-suksesverhaal aanmekaargesweis.

Solidariteit.

“Ons kon nie ophou praat nie: as ’n Israelse kibboets water 4 km diep met ’n olieboor uit die woestynsand kan kry, dan kán ons Afrikaners darem sekerlik met opleidingskolleges begin, voedingskemas by skole … Kom ons begin ’n positiewe vakbond wat iets prákties regkry!”

Ons talm voor die twee foto’s. Oupa Drikus en die ou MWU (Mynwerkersunie), sy kleinseun wat dié vakbond in die 1990’s bankrot en gemarginaliseer onder sy wars veteraanleier, Arrie Paulus, aan sy nekvel die nuwe millennium ingetrek het as die radikaal herontwerpte Solidariteit.

Om ons gons dit hier in hul hoofkantoor, die ou Yskor-gebou in Centurion. Dis ’n Solidariteit-wêreld van groen en geel, bordjies lei jou na hul verskillende afdelings, na die 340 mense wat hier werk. In tien jaar het hul ledetal van 30 000 tot 130 000 gegroei. As jy fyn luister, hoor jy dalk hul lied op die maat van Glory, Glory Halleluja: “Solidariteit staan stewig, ons staal, ons rots, ons trots!”

Jy kan selfs jou Solidariteit in ’n tweekleur-hemp uit hul klerereeks wys. En sou die teëspoed jou tref, land jy straks eendag in ’n hospitaal se Solidariteitsaal.

Laas naweek, tydens sy eeufees, het Solidariteit ’n R100-miljoen-Groeifonds bekend gestel. Tot die ou kritiese teoloog Nico Smith was in ’n koerantbrief gaande oor Solidariteit die Afrikaners “kan saamsnoer om soos vantevore in die geskiedenis hulle as ’t ware aan hul eie skoenrieme op te lig”.

Jy kan nie ’n arm land soos Suid-Afrika ryk struggle nie, jy moet hom ryk bou, glo Flip. Benewens sy vakbondkern het Solidariteit ’n maatskaplike afdeling, die Helpende Hand, AfriForum, wat kyk na burgerregte, en die Groeifonds.

Wat’s volgende? ’n Politieke party?

Hy glimlag in sy baard. “Mense wat dit dink, onderskat ons aspirasies. Ons wil nie sit en muf in opposisiebanke nie. Ons wil iets prákties doen. In die politieke kryt sal ons ál ons effektiwiteit verloor.”
Ná tien jaar aan die stuur van Solidariteit wéét Flip Buys: jy kán minderheidsgroepe bemagtig sonder politieke mag.

Daar’s vir hom niks lekkerders nie as om in die kafeteria-ry praatjies te hoor soos: vandag het 40 mense weer pensioene gekry ná beroepsbeserings … En op die Sol-Tech-kampus rond te loop met die wete: dié kinders gáán eendag ’n werk hê, ongeag regstellende aksie.

So stadigaan word Solidariteit ’n buite-parlementêre beweging, so ’n Afrikaner-UDF …

“Ek dink baie aan die Buthelezi-strategie voor die 1994-verkiesing: nooit buite die stelsel nie, nooit daarbinne nie.”

Anders as ander Afrikaner-organisasies kon Solidariteit ’n unieke verhouding met Cosatu en die ANC opbou. “Hulle sien ons nie as ’n klomp ou rassiste nie. Die vooroordele is weg.”

Flip, wat van die begin af oortuig was Zuma gaan president word, sê mens moet hom ’n kans gee. “Hy’t óns genader vir gesprekke, en hoeveel stemme kan hy nou eintlik hier werf? Ek het hom as opreg ervaar.”

Hy neem kennis dat Zuma nou weer terugkrabbel dat regstellende aksie “nog lank met ons gaan wees”.

“Maar Solidariteit het nooit gesê regstellende aksie moet in al sy vorme stop nie. Ons sê wel kwotastelsels moet end kry.”

Oor Jimmy Manyi, voorsitter van die kommissie vir gelyke indiensneming, se nuutste verslag sug hy lank en diep. “Dis nié wetenskaplik nie, Manyi wou weer ’n politieke punt maak. Hy’s ’n politieke aktivis.”

Hy sug nóg dieper en sê daar’s één ding wat hy nie kan kleinkry nie: hoe kan die ANC dink dis bemagtiging as hulle enkele onbekwame lojaliste in stadsrade met poste bemagtig, maar in die proses duisende inwoners wat dan nooit dienste kry nie, óntmagtig.

“Mbeki het moed opgegee met werkskepping en ekonomiese groei. Hy’t ons land se produksievermoë gekniehalter deur sy versuim om te belê in infrastruktuur, soos kragstasies. Hy’t die opleidingstelsel laat vou en dit deur welsyn vervang. Dít sal Mbeki se nalatenskap wees.

“Ek hoop maar Zuma-hulle het geleer uit Mbeki se foute. Die ANC se drie groot wakkerskrikke was: Zimbabwe, die kragkrisis en die vaardigheidskrisis.”

Vir Flip Buys was die vakbondwese en Afrikanergeskiedenis van kleintyd af vervleg. Daarvoor het oupa Drikus en sy stories oor 1922 se “Groot Strike” gesorg.

“Daardie staking, die grootste in ons geskiedenis, was eintlik ’n politieke opstand teen Jan Smuts. Later jare het ons een keer saam met oupa gaan seëls koop. Daar’s toe net Jan Smuts-seëls. Toe brom Oupa: ‘En nou moet ek Jan Smuts se dinges ook nog lek!’ ”

’n Rooi Kawasaki was die rede vir Flip se baard. Dié fiets was sy groot vryheid – totdat hy op 19 in ’n ernstige ongeluk was waarin sy gesig geskend is.

“Die ongeluk was seker maar omdat ek sukkel om aan my regterkant te sien. Ek het op vyf my regteroog verloor. Ek het iets met ’n mes gesny, en toe skiet die mes op, tot reg in my oog,” vertel hy.

Ironies het die eerste ongeluk aan sy gesig die tweede een veroorsaak.

Hy’t amper sy grade gedop oor sy gesukkel met lees. Hy’t gedurig geval. Gelukkig was die Laerskool Tweebosch se leuse “Volhard”. En Flip was ’n seuntjie wat leuses ter harte neem …

Toe hy dit eers regkry om met een oog te lees, toe’s daar geen keer aan hom nie.

“Ek was in gr. 1 toe kom my ma-hulle agter daar’s fout met my. Hulle’t so drie dae gewonder, gedog dié kind is depressief.

“Toe gaan kyk sy in my kamer en kry Christoffel Lessing se boek Ek, ellendige mens. Dis oor ’n gewoontemisdadiger, ’n boek wat grootmense nagmerries sal gee.”

Hy’s dié boek dadelik kwyt, maar dit het nie sy leeslus geblus nie.

Verál oor die vakbondwese. “Ek moet met Gwede Mantashe kan saampraat oor Marx, maar ook genoeg van Adam Smith, vader van die kapitalisme, weet.”

Hy’t grootgeword op Tweebosch, die Buyse se eertydse familieplaas naby Delareyville. “De la Rey se laaste veldslag was op ons plaas. Ons het nog die koeëls opgetel – letterlik met die geskiedenis grootgeword.
“De la Rey was die held van die ou Wes-Transvaal. My ouma het die positiewe waardes waarvoor hy gestaan het aan ons kleinkinders oorgedra. Dis deel van my.”

Nou noem mense Flip Buys die Afrikaners se nuwe De la Rey.

Maar moenie dit vir hom sê nie. Dit maak hom rooi om die kiewe.

“Dit irriteer my. Afrikaners soek mos altyd ’n Groot Leier. ’n Statutêre leier, een wat omtrent onthul word. Toe Verwoerd dood is, toe weet niemand wie die volk nou gaan red nie. En skielik gaan die deure oop en daar stap Vorster uit. En toe PW.”

Daai tyd is verbý, sê hy gefrustreerd.

“Mense moet vergeet daarvan, dis eerder ’n gevaar as ’n oplossing. Hou op wag vir ’n redder op ’n wit perd en spring eerder sélf in.

“Dit maak my regtig woedend: Mense kla net. Hulle doen niks, hulle wag net. Ek sê hulle gaan vir altyd wag. En as niks gebeur nie, dan emigreer hulle.

“Ons Afrikaners was op ons beste in die swaar tye, toe ons nie eens leiers gehad het nie. Toe’t mense oral met bemagtigingsprojekte begin. Onderwys en opleiding het baie meer as die apartheidswette gedoen om die Afrikaner te moderniseer.

“En nou? Dié wat in die apartheidstyd kans gesien het om die wêreld te pak, sien nou nie eens kans om die laaste Afrikaanse laerskool in hul buurt se voedingsprojek te ondersteun nie.”

Vra hom hoe hy van al die Afrikaner-kwellings ontsnap en hy antwoord met twee warm woorde: “My gesin.”
Bernard (gr. 11) is sy pa se skaakmaat wat hom ál meer begin skaakmat. Janke is in gr. 9 en die twee kleintjies, Nina en Marli, in gr. 5 en 2. Sy vrou, Melanie, is ’n suksesvolle sakevrou met drie grade, vertel hy trots.

In die Buys-huis weet almal: dis nie Pa wat gloeilampe vervang nie. “Ek’t tien duime, as ék ’n lig probeer regmaak, breek ek hom, ’n senior elektrisiën moet dus uitkom …”

Heel moontlik ’n Afrikáánse een, uit Sol-Tech.

Hy stap saam, heelpad tot by die ontvangstoonbank. Groet soos ou familie. “Kén julle die pad terug, sal julle regkom?”

Sorgsame padwyser, visioenêr met die glasoog.