die Burger, 6 Junie 2008, Leopold Scholtz
VANDAG ’n ongewone rubriek.
Die laaste tyd het ek meermale gewag gemaak van ’n nuwe, positiewe post-apartheid-gesindheid in die Lae Lande oor Afrikaans en Afrikaanssprekendes. Tog is daar mense wat dit, sowel in die openbaar as in korrespondensie aan my, betwyfel.
Hier volg dus nou die neerslag van ’n onderhoud wat ek kort gelede gevoer het met die Vlaamse minister van buitelandse sake, mnr. Geert Bourgeois. Hy is ook verantwoordelik vir Vlaandere se kulturele betrekkinge met Suid-Afrika.
Ter verheldering: Bourgeois is lid van die Nieuw-Vlaamse Alliantie, ’n gematig-konserwatiewe party wat ’n geweldlose skeiding tussen Vlaandere en België voorstaan. Die party moet nie verwar word met Vlaams Belang nie, ’n ekstreem-regse party wat van die aanblaas van xenofobie beskuldig word.
In die onderhoud het Bourgeois bevestig dat daar vroeër “groot terughoudendheid” in Vlaandere was betreffende Afrikaans as die taal van apartheid. “Die gevoel het die laaste tyd duidelik omgeslaan,” het hy bygevoeg.
“As ek in Suid-Afrika kom, praat baie mense, ook swartes en bruines, spontaan Afrikaans met my. Dan is daar geen verwysing na apartheid nie. Daar was ’n duidelike evolusie.”
Die eerste sigbare teken hiervan was die konferensie wat die regering van die provinsie Antwerpen in 2006 oor Afrikaans gehou het. “Dit het gewys dat sowel ons Vlaminge as die Nederlanders deesdae kompleksloos met Afrikaans kan omgaan.”
Op sy laaste besoek aan Suid-Afrika, sê Bourgeois, het hy ’n paar jong Vlaamse wynboere in die Wes-Kaap besoek. Dit het hom opgeval dat die taal van kommunikasie tussen die Vlaamse werkgewers en hul bruin werkers Afrikaans is. “Dit wys dis ’n taal wat geen band met enige velkleur het nie.”
Bourgeois het voorspel dat die betrekkinge tussen Vlaandere en Suid-Afrika ’n klemverskuiwing sal ondergaan. Die aanvanklike klem het geval op ontwikkelingsamewerking, maar Suid-Afrika is geen ontwikkelende land meer nie.
Dus gaan die aard van die betrekkinge nou tweeledig wees. Die eerste is handel: Vlaandere verskaf reeds 85% van die Belgiese uitvoer na Suid-Afrika, terwyl steeds meer Vlaamse toeriste daarheen wil gaan.
“Suid-Afrika kan die motor van Afrika wees. Hy het geweldige potensiaal, ook om die voedseltekort in die wêreld te help oplos.”
Ten tweede verskuif die fokus na kulturele betrekkinge, en hier word uiteraard baie aandag aan Afrikaans gegee. “Dis deel van die kulturele rykdom van Suid-Afrika en moet aktief bevorder word.”
Bourgeois vertel dat die Vlaamse en Nederlandse regtering vroeg in 2009 in samewerking met die Suid-Afrikaanse regering ’n groot Nederlandstalige kultuurfees in Suid-Afrika gaan aanbied.
Dis nou bo en behalwe die konferensie oor Afrikaans wat die drie regerings saam vir aanstaande September in Pretoria beplan.
Bourgeois het hom geesdriftig positief uitgelaat oor die idee dat Suid-Afrika meer formele bande met die Nederlandse Taalunie – ’n gesamentlike Nederlands-Vlaamse regeringsorganisasie wat die Nederlandse taal wêreldwyd bevorder – aanknoop. Hy dink in dié opsig aan ’n soort geassosieerde lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse regering.
In die algemeen is hy verskriklik geesdriftig oor Afrikaans: “Afrikaans is ongelooflik kreatief. Dis ’n lewende taal, veel beeldryker as Nederlands.
“Dis waar dat ons uitmekaar gegroei het, maar ons verstaan mekaar, al gaan dit dalk ’n bietjie moeilik in die begin.
“Ek het onlangs optredes van Riana Scheepers an Laurinda Hofmeyr meegemaak. Ek het geen ander woord daarvoor nie – dit was eenvoudig fantasties!”
Ek het ook weer die Nederlandse onderminister van buitelandse sake, mnr. Frans Timmermans, genader oor dié se houding. Timmermans is verantwoordelik vir kulturele samewerking met Suid-Afrika.
Sy woordvoerder, me. Bonny Horbach, het verduidelik dat Timmermans en dr. Pallo Jordan, Suid-Afrikaanse minister van kuns en kultuur, vroeër vanjaar op Timmermans se besoek ooreengekom het dat Nederland ’n rol kan speel om Afrikaans te bevorder.
Die inisiatief, het Horbach beklemtoon, moet wel van die Suid-Afrikaanse regering uitgaan. Anders sou die indruk kon ontstaan dat Nederland sy wil op ’n ouderwets-koloniale wyse aan Suid-Afrika opdring.
Nou ja, dit klink alles buitengewoon positief, veral as ’n mens in aanmerking neem dat dieselfde geesdrif ook onder intellektuele opgemerk kan word. ’n Struikelblok kan natuurlik steeds die Suid-Afrikaanse regering wees, maar dit lyk nie of Bourgeois en Timmermans juis probleme hier verwag nie.
Vir Afrikaans is hier ’n yslike kans!
Die skrywer is Media24 se verteenwoordiger in Brussel.